Vir Nico

  • 0

Ek verwys na jou kommentaar onderaan my brief 'Swak Afrikaans op RSG'.

Jy vra "Stocholmsindroom? Werklik?"

Ja werklik.  Die Engelse spreekwoord 'Imitation is the sincerest form of flattery' word ten volle uitgeleef deur diegene wat die verskoning gebruik dat Engels makliker (sic) is.  Jy verkies Engels, nie omdat jy gaan sit en bepaal het watter van die tale in die wêreld jy makliker gaan vind as Afrikaans nie, jy verkies Engels omdat dit hier is, omdat jy daarmee verswelg word en jy maar saamgaan met die stroom.
 
Daar kan verskeie redes wees waarom jy nie, soos jy beweer, deur die Engelse gekorrigeer word nie:

1)  Jy maak nie foute in Engels nie; die Engels-omhelsende Afrikaner sterf eerder tien dode voor hy 'n fout in Engels maak.
2) Die Engelse weet nie wanneer jy 'n fout maak nie.  Ek ken twee Engelssprekende gegradueerdes, een 'n ingenieur en die ander 'n meisie in menslike hulpbronne, wat baie verbaas was toe ek hulle daarop wys dat die 'could of' wat hulle in verslae en notas gebruik eintlik 'could've' is, 'n verkorting van 'could have'.  Die ingenieur sê vir my hy is deur skool EN universiteit sonder dat hy ooit daarop gewys is.
3) Die Engelse is al gewoond aan ander se aksente en foute; die hele land omhels hulle mos.

Die rede hoekom jy wel deur Afrikaanssprekendes op foute gewys word is natuurlik omdat jy wel foute maak.   Ek, byvoorbeeld, is al dikwels reggehelp op hierdie forum.  Terloops, ek is ook dikwels deur Engelse reggehelp wanneer ek 'n fout in Engels gemaak het, veral by die een rolbalklub waar 'n ou met 'n dubbeldoor-van erg gesteld op korrekte Engels was.

Watter kans het Afrikaans op oorlewing met mense soos jy, Afrikaanssprekendes, wat Engels verkies (en as verskoning daarvoor die rede aanvoer dat teregwysing hulle nie aanstaan nie)?  Geen kans nie; hierdie soort van mense praat al hoe swakker Afrikaans, al hoe beter Engels en hulle word dan Engels, sit hulle kinders in Engelse skole, die soort van ding.

Goddank ons is nie almal so nie.

Nog 'n terloops:  Ironies, hierdie houding van jou eie te versaak is iets wat baie min onder Engelssprekendes voor kom.  Nasietrots is een van die redes wat van Engels 'n wêreldtaal gemaak het.

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top