Dag neef
Julle is welkom!
Ek weet nie of dit vir jou 'n skok of 'n verligting gaan kom nie maar ek en jou pa is nie bloedbroers nie. Die feit dat julle almal my oom noem en vir die tannie tannie is maar 'n goeie ou Boeregewoonte. Ons was net vir jare bure.
Maar so van jou pa gepraat, laat jou oom nou eers vir jou 'n prekie afsteek: Jy moet jou houding teenoor jou pa verander; as jy meer respek toon sal die ander kinders jou voorbeeld volg en jou pa sal weer sy goeie selfbeeld herwin, soos hy was in die dae toe hy nog rugby gespeel het. Gee julle pa bietjie ondersteuning man, help julle ma 'n bietjie in hierdie opsig.
Op sestien is jy en jou meisie nog heeltemal te jonk om die ding te doen soos jy dit noem en jy is veral te jonk om daarmee te spog by my; ek is nie jou maat nie. Ek hoop nie jou pa-hulle weet van die storie nie; hulle het genoeg bekommernisse en moeilikheid soos dit is.
Wat jou meisie se Afrikaans betref is dit in die haak as sy sukkel; dis mos nie haar huistaal nie of hoe? Ek sal haar natuurlik reghelp as sy 'n fout maak; hoe anders gaan die kind leer? Dis ook jou PLIG om haar reg te help, net soos sy vir jou (en my) moet reghelp as jy sukkel met die Engels.
Nou, wat die verblyf betref. Soos ek gesê het, ek sal bly wees as julle by my kan kom bly ... wel, streng gesproke nou nie BY my nie want ek en die tannie bly in 'n klein aftreehuisie by die see. Maar ek het 'n plaas net 'n klipgooi van my af waar ek 'n soort van 'n landbouskool bedryf. Jy en Pietie sal in die seunskoshuis bly en jou meisie in die meisieskoshuis natuurlik.
Jou pa en ma sal ook moet saamkom aangesien julle nog onder 18 is (dis die wet) en dus sal ander kinders ook moet saamkom. Ek het juis nog 'n koshuisvader en –moeder nodig in een van die koshuise en, soos dit vir my klink, sal jou pa baie baat by bietjie plaaswerk. Jy en Pietie sal dit ook vreeslik geniet; voor skool gaan julle koeie melk en deur die dag gaan julle varke en hoenders voer, skoffel in die groentelande (eintlik net groot beddings) ens. Moenie bekommerd dat die skoolwerk agterweë gaan bly nie; julle gaan presies dieselfde skoolure as al die ander skole hê.
Ja-nee, julle moet wegkom daar. As van julle voel die seelug akkordeer nie met julle nie, 'n kennis van 'n vriend van my het 'n soortgelyke bedryf daar in Naauwpoort. Miskien wil julle liewers daar gaan bly.
Laat weet maar
Jou oom
Jan Rap

