Vir 'n digter

  • 1

Vir ’n digter

daar is heuning in jou woorde konsonante tussen jou tande sagte vokale
in jou handskud jou soepel tong vlek my vel oop in die reën in die reën

vlek jou sterk soepel tong my oop ek is ’n vrug ek is ’n gedagte in my moeder
se geheime baarmoeder my vingerpunte so klein en teer soos die voelers van

’n mier tas na fluweelagtige mure ek lees jou daar raak in braille tussen bloed
en naelstring teen my moeder se hartklop tussen my gedagtes wat die wêreld

nog spartelend moet binneduik lees ek jou raak jy vlek my oop daar is iets in
woorde murmur ek vir myself daar is iets in die woorde wat ons lakens vlek

so droom van my digter in daardie donker baarmoeder sal ons eendag ontmoet
droom van my soos ’n digter soos tarkovsky soos ’n digter daar is net ligjare

tussen ons en die wêreld is ons naelstring die wêreld is ons naelstring en daar
is heuning in jou woorde

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top