Vir Kobus oor mites, fabels en die Bybel

  • 0

Beste Kobus

Nee, Kobus, jy’s verkeerd. Cervantes se El ingenioso hidalgo Don Quijote de la Mancha is nie bloot ’n fabel nie, nog minder is dit ’n mite. Dis ’n Spaanse roman, en, oppervlakkig gesien, die uitbeelding van die verwarring wat by die mens ontstaan tussen werklikheid en die verbeelding.

Die fabel is ’n didaktiese digsoort waarin dier, bome en plante as handelende wesens optree, soos in die Bybel. Dit bied altyd ’n sedeles aan, soos in die Bybel.

Die mite, ook ’n didaktiese digsoort, is oorgelewerde verhale oor groot gebeurtenisse in die oertyd en in die godewêreld in besonder, maw verhale wat die godsdiens van ’n volk as grondslag het. Nodeloos om te sê, ook soos in die Bybel.

Natuurlik is die ateïs, soos alle mense maar, versot op die wondere van die lewe. Daarom lees ons fiksie: romans, mites, legendes, fabels parabels, en daarom lees ons die Bybel. My gunsteling, en wat nogal heelwat studie vereis, is die skeppingsverhale, en natuurlik hoe Eva uit die ribbebeen van Adam gemaak is.

Die verskil lê daarin dat die ateïs weet wat denkbeeldig is, terwyl die fundamentele Christen nie kan onderskei nie, en soos Don Quijote, ’n klap van die windmeul kry as dit vir hom soos ’n vyand lyk.

Jou besware teen die paleontologie is heeltemal ongegrond en bewys eintlik dat jy nie die vaagste benul het daarvan nie. Kennis daarvan berus op die studie en navorsing van duisende mense regoor die wêreld. Dit het absoluut niks te make met ’n fantasiewêreld nie, en niks word sommer maklik as bewysstukke aanvaar deur ander paleontoloë nie. Jy kla dat ons sommer net aanneem dat ’n stukkie kakebeen aan ons voorouers behoort het, maar swyg soos die graf oor hoe Adam se ribbebeen binne enkele oomblikke gemetamorfoseer het tot Eva, ons veronderstelde oer oumagrootjie. Deur vergelykende studie en baie jare se navorsing deur duisende mense kan ons nog die geskiedenis van die kakebeen bewys, maar julle glo die skryfsel van een enkele grotbewoner twee, drie duisend jaar gelede sommer netso, sonder bewys of navorsing. Dis mos nou pure belaglike snert. Dan wil ek nog vir jou daarop wys dat baie van die paleontoloë wat jy sommer so blindelings die vinger voor wys, ook Christene is. Dit sê ek nie omdat Christene geloofwaardiger is as ander nie, maar net om te wys dat al minder mense byt aan die ribbebeenstorie as die waarheid.

Die Bybel bestaan ongetwyfeld uit mites, fabels, legendes, parabels, gelykenisse en sprokies. Indien jy dit verlang, kan ek daarvan vir jou uitwys.

’n Wonderlike boek, die Bybel, mits dit nie verkeerdelik verstaan word soos deur julle kreasionistiese fundamentaliste nie.

Groete

Angus

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top