Vir Kobus Faasen oor sy kommentaar

  • 3

Beste Kobus

Ek verwys na jou kommentaar onderaan my brief van 7 deser aan jou. Moes dit nie eintlik onder Johannes Comestor se kommentaar op jou WVK-brief verskyn het nie? Jy spreek geen van die navrae in my brief aan nie maar reageer op Johannes se teregwysing oor die geslag van 'n taal.

Jy sê die taal was lank patriargaal en besoedel deur onder andere slaafbase en Broederbonders. Hoe sou dit moontlik wees? Dit is soos om te dink 'n stuk programmatuur is besoedel omdat iemand 'n vuil kol op die rekenaarskerm gemaak het. Wat wel moontlik kan wees is dat 'n taal GEASSOSIEER kan wees met sulke nare mense soos waarvan jy praat, soos byvoorbeeld die Pole of Iere respektiewelik teen Russies en Engels was (is) maar, waar nare mens en goeie mens dieselfde taal praat, geld dit nie. Hoe sal jy nou 'n afkeer in die taal, wat jy van jou ma, pa oupas en oumas – die goeie mense in jou lewe – ontwikkel, as die oom of tante of ander mense waarvan jy nie hou nie dieselfde taal praat? Dit maak bloot nie sin nie want daar is, op daardie stadium, ook geen ander taal in jou verwysingsraamwerk nie.

Jy blyk ontstig te wees omdat die regering volgens jou na Afrikaans as "Boer se taal" verwys. Hoekom? Is dit dan nie die waarheid nie? Of is jy vies omdat die regering verkeerd is; dit is nie net die Boer se taal nie, daar is ander groepe ook wat die taal praat? In daardie geval, help hulle dan reg; moenie die Boere aanval omdat die regering oningelig is nie.

Maar dis nie te sê dat 'n taal nié besoedel kan word nie. Net soos 'n elektroniese virus programmatuur kan korrupteer, kan 'n taal ook tot sy dood toe besmet word soos trouens met Afrikaans aan die gebeur is. 'n Geweldige klomp Afrikaanssprekers (Boere, Afrikaners, Afrikaanses, hoe jy hulle ookal vir groepeer of klassifiseer) vertroebel en verskraal die taal met Engelse woorde. Veral slebs (nog nie in die woordeboek nie, afgelei van die Russiese ????? wat beteken "hy wat dink hy moet Engels ingooi oor hy van die aartiefaarties is") en Kaapse Afrikaanssprekers is skuldig hieraan.

Wat betref die geslag van 'n taal. In Afrikaanse grammatika is daar goed wat manlik is (mans, bulle, seuns, ramme, ouens, kêrels, mannetjies, reuns, pa's, oupas, ooms ens), daar is goed wat vroulik is (vroue, koeie, oumas, tantes, ooie, dogters, meisies, tewe, nooiens, wyfies ens) en die res is onsydig en dit sluit in karre, motors, waens, vliegtuie, skepe, rekenaars, kinders, persone, geboue, windpompe en tale en die besitlike en persoonlike voornaamwoorde van onsydige goed is soos die manlike. In Duits (en seker Nederlands) werk dit ook so. Dit is grammatika en het met patriargalisme, rassisme en politiek niks te doen nie.

So, as jy vies is vir die Boere kan jy nie sommer die grammatika gaan staan en verander nie.

Groetnis

Jan Rap

  • 3

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    'n Afrikaanssprekende man en 'n Afrikaanssprekende vrou het Sondag in Kaapstad die Argus-fietstoer gewen. Toe hulle oor RSG oor hulle oorwinning praat, was hulle Afrikaans deurspek met Engelse woorde. Dit is om van te ween.

     

    Johannes Comestor

  • Dit beteken dus ons moet die konsep van "moedertaal" verander na "vadertaal". Selfs die Universiteit van Orania vind so 'n patriargalisme te glibberig om te hanteer. Die ander universiteite het nog nooit van "vadertaal" gehoor nie.

     

    Groete

     

    Kobus

     

     

  • Miskien word van 'moedertaal' gepraat omdat die kind die eerste woorde by sy moeder leer.  Dit beteken nie dat die taal 'n moeder is nie, net soos land in vaderland die land nie jou vader is nie maar die land van jou vaders.  Taal, net soos land, bly steeds onsydig. 
    Groete

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top