Hello Kobus
Daar is ’n geneuk met die betekenis van alleenkennis en kan jy nie hierdie “as hy alleen weet hy is reg?” teen die ateïste wil gebruik nie. Soos alreeds gesien met woorde, is die betekenis daarvan menigvuldig en daarom word die volgende uitgelig.
Alleenkennis, kan werklik ’n geval soos Cornelius Henn aanspreek, ’n enkeling in sy oortuiging dat Dao en Thau ’n gesamentlike konsep is. Ballade vir ’n enkeling dus of ’n profeet nie in sy tyd erken nie. Hoe onmoontlik dit ook al mag wees om ’n filosofie-religie gelyk te stel aan ’n letter van ’n alfabet.
Die kognitiewe sprong wat dit verlang is verstommend en dit is daarom werklik merkwaardig dat Cornelius Henn in sy alleenkennis daarin slaag om so te kon doen.
Die ateïste in teenstelling daarteen, is nie ’n enkeling nie en is per definisie ’n groep wat opgemaak word uit honderde miljoene persone en ’n grondige fondasie het vir hulle aansprake teen die moontlikheid van ’n goddelikheid.
Die kontras van die kognitiewe onderbou en ondersteuning vanuit vakkundige vir die aanspraak teen die bestaan van ’n goddelikheid is welbekend en goed fundeer en dienooreenkomstig opgeskryf en hoef daarom nie herhaal te word nie.
Die tweede tipe van alleenkennis is dan juis die tipe soos verwoord in jou brief, waar jy juis alleenkennis vir die groep waaraan jy behoort eis.
Dus Cornelius Henn se alleenkennis van die enkeling opgestel teen die alleenkennis van die groep en in die argument verteenwoordig deur jouself as verteenwoordigend van die Christen of dan myself as verteenwoordigend van die ateïste. Alleenkennis in al sy vorme teenwoordig in die debat.
Dit is jammer dat Comestor se bespreking van In Praise of Doubt: How to have Convictions without becoming a Fanatic dalk nie reg laat geskied het aan daardie boek nie aangesien die kern van die boek die spanning tussen relativisme en fundamentalisme is en hoe om dit die hoof te bied, of dan “how to have Convictions without becoming a fanatic”.
Dit is daarom relevant tot hierdie bespreking wat die aard van alleenkennis ondersoek.
Daar kan aangevoer word dat Cornelius Henn ’n uiterste voorbeeld van daardie relativisme is en in sy metodiek gevolg alle waarhede gelyk stel aan mekaar, maar met ’n variasie op die tema om dan uiteindelik te arriveer tot ’n enkele gesamentlike waarheid. Daarom dan die “Hindoe-, Moslem-, Joodse, katolieke en Boeddhistiese groet.”
Fundamentalisme is soms ’n skelwoord en is die bedoeling nie om jou verkeerdelik te klassifiseer nie, waar jy, as Kobus, staan vir ’n enkele waarheid in teenstelling met die onwaarheid van die ander groeperinge.
Benedict XVI ondersteun jou dalk en vaar uit teen die “dictatorship of relativism” en formuleer die argument soos volg:
Today, having a clear faith based on the Creed of the Church is often labelled as fundamentalism. Whereas relativism, that is, letting oneself be "tossed here and there, carried about by every wind of doctrine", seems the only attitude that can cope with modern times. We are building a dictatorship of relativism that does not recognize anything as definitive and whose ultimate goal consists solely of one's own ego and desires.
Die klem dalk op daardie, “one's own ego and desires”.
Leslie Green, Professor of Philosophy of Law, Balliol College, dink die beskuldiging van “dictatorship of relativism” is onsin en dat die probleem is soos volg: “What we’re living in, unfortunately, is the growth of dogmatic absolutisms”.
Sekerlik word dit bevestig deur die aard van argumente in die algemeen wanneer die onderskeie absolutisms teen mekaar gestel word.
Daarom dan die aard van alleenkennis, die konflik tussen relativisme en fundamentalisme en hoe dit filosofies en polities ontleed moet word is die vraag.
Baie dankie
Wouter

