Dagsê Jason
Ek verwys ook na jou kommentaar op Jaco se kommentaar onderaan jou brief.
Ek sien jy is redelik ontstig oor die gesprekspunt wat sou handel oor die Afrikaanse geskiedenis; jy wonder wie s'n nogal, liewe hemel.
Indien die onderwerp 'Afrikanergeskiedenis' was sou jy nie 'n probleem gehad het nie want dan was daar geen verwarring nie en jy het neutraal gestaan want jy is mos in elk geval nie 'n Afrikaner nie want die onderwerp kon dan netsowel 'Antieke Grieks' gewees het. Terloops, Jaco en Thomas, let op hierdie uitlating van Jason: "En wie die hel dink jy is jy om bruines so te beledig om hulle as bruin Afrikaners te brandmerk. Geen ordentlike bruin mens wil ’n Afrikaner genoem word nie."
Of is jy vies omdat die onderwerp nie spesifiseer 'wit EN bruin Afrikaanse geskiedenis' nie. In daardie geval, hoekom; ons almal praat mos Afrikaans of hoe? Wat omtrent die onderwerp het jou uitsgesluit laat voel? Of, erger nog, wou jy gehad het Die Burger se wit redaksie moet 'n gesprek oor slegs die bruin geskiedenis reël?
Nog 'n ding: Verwoerd se afsonderlike ontwikkelingsbeleid sou nooit ten volle kon werk terwyl die bruines nie op die kieserslys was nie. Hy sou dus nodig gehad het om die fout van 1956, toe die bruines van die kieserslys gehaal is, te herstel. Wie weet, dit was dalk die belangrike aankondiging wat hy daardie 6 September 1966 sou maak maar ons sal nooit weet nie (of is daar dalk mense wat weet maar stilbly?).
Jy maak 'n paar wilde stellings: Die Afrikaner (sommiges) wil hê " ... bruines moet saam met hulle in een koor sing om op swart Suid-Afrika te spoeg." Wat laat jou so sê, of moet ons bloot jou woord aanvaar dat dit die waarheid is? 'Versoening' is deesdae 'n groot gonswoord en 'n kras, en boonop onware, stelling soos hierdie kan net polarisasie aan die hand werk.
Jy sê ook vir Jaco hy kan eerder iemand soos Jonathan Jansen 'n Afrikaner noem terwyl jy self noem dat die prof se huistaal Engels is. Hoe kan hy nou 'n Afrikaner genoem word as sy huistaal Engels is?
Jy kla oor bruines waarvan die stem nie in die Afrikaanse media gehoor word nie. Dis mos totale onsin; ek sou byvoorbeeld nie eers van jou geweet het as dit nie vir die Afrikaanse media was nie. Luister ook na RSG; ek sou sê die bruin stem daar is dikker as die wit stem. Buitendien, as jy werklik voel die bruin stem moet meer blootstelling kry moet julle miskien 'n bruin koerant begin.
Jy beweer vir meer as 350 jaar het ons julle nie nodig gehad nie. Wel, 350 jaar gelede was nog ons nog julle daar. Ook, die feit dat julle meer as ons is het niks met die prys van eiers te doen nie; toe ons meer as julle was het ons nie gesê die die taal is meer ons as julle s'n nie.
Buitendien, taal is abstrak, eienaarskap deur een ou beperk of weerhou nie besit deur 'n ander nie. Amper soos 'n orkes, die klank word nie dowwer hoe meer mense luister nie. Wat wel waar is, is dat daar grade van taalbesit kan wees en die mate waartoe dit die geval is, manifesteer in die mate waartoe die persoon of groep die taal koester. 'n Ou wat aankondig dat hy van nou af gaan Engels praat omdat hy kwaad vir Afrikaners is het nog nooit die taal as sy eie beskou nie, so ook die ou wat bereid is om die taal geradbraak te praat.
Wat die koue koffie en droë brood betref: Indien dit waar is, is dit uit hoofde van die spesifieke werkgewer se karakter; hy sou myns insiens dieselfde vir wit werkers gegee het. Om die waarheid te sê, ek wonder of hy enigsins kos vir sy wit werkers sou gegee het.
'n Paar dinge om te onthou wat jou miskien minder onvergenoegd sal maak:
Die lewe is nie regverdig nie; party van ons lyk soos George Clooney en Brad Pitt en Scarlett Johanson en Hale Berry maar meeste van lyk nie so nie, of is ook nie so slim soos Einstein nie.
Die lewe, die Engelsman, die Duitser of wie of wat ookal skuld my niks en ook nie vir jou nie.
Die Afrikaner het nog nooit iemand vertrap nie, allermins die bruines.
Daar is nie so-iets soos patentreg op 'n taal nie.
Dis nie nodig dat ons mekaar die moer in maak nie.
Groetnis
Jan Rap

