Vir Jan Rap: Swak Afrikaans op RSG

  • 1

Normaalweg sou ek my probleme met Afrikaans op RSG regstreeks met RSG opgeneem het, maar Jan se brief volg na ek dié week ’n onderonsie met einste RSG oor einste Afrikaans gehad het.

In ’n nuusbulletin word na ’n “seksie” van die grondwet verwys. Vir al hierdie seksie-wetgewing is ek nou al hartlik sat, want dit het ook al in groot koerante wat tog van beter weet, begin uitslaan.

Ek stuur dus dadelik ’n e-pos om te laat weet dit moet “artikel” wees. Die volgende nuusbulletin is dit egter steeds “seksie” en toe is my e-pos minder beleefd.

’n Paar maande gelede het ek ook eers reggehelp en toe mond uitgespoel toe RSG “Algeriese” in plaas van Algerynse (wat reg op die TV-nuus gebruik is) in hul nuusbulletins bly gebruik het. Uiteindelik het RSG dit reggekry, net om ’n paar dae later weer in “Algeriese” te verval. Toe los ek dit. Iets van salf aansmeer ...

’n Klompie jare gelede het ek by ’n gemeenskapsradiostasie gewerk wat ’n hele aantal mense wat voorheen by die SAUK gewerk het as personeel of deeltydse omroepers gehad het. Hulle was nie net vreeslik gesteld op die korrekte Afrikaans nie, maar was baie selfversekerd dat hulle geweet het wat die regte was. Ek, as nuusredakteur is gereeld aangespreek omdat ek byvoorbeeld ’n woord soos “pensioenaris” vir “pensioentrekker” gebruik omdat “almal” weet ’n pensioenaris is ’n amptenaar wat pensioen uitbetaal, of ’n hoë amp in die VOC. Selfs toe ek die HAT onder hul neuse rondswaai is langtand aan my gebruik gebyt.

Maar, in kort, waar RSG se voorgangers skynbaar baie gesteld was op die regte Afrikaans, en onder andere iemand soos Anton Prinsloo opgelewer het, klink dit nou gereeld soos ’n slagpale van Afrikaans.

Daar is ’n ander rede waarom ek nou versigtiger is om my in die openbaar oor ander se Afrikaans uit te laat – ek maak self foute. En baie daarvan.

Nou die dag (ai, en waar slaan “die ander dag” nie nou oral uit nie?) in my voorbereiding van RSG se ruimtenuus vir die program, Sterre en Planete, help Willie Koorts my reg oor Venus se broeikas-effek versus kweekhuiseffek.

In ’n ander veld moes ek herinner word dat die aarde se tektoniese vlakke op verskuiwingsvlakke teen mekaar skrum, nie op die foutlyne nie.

Ek sal seker graf toe gaan met die idee dat “besigheid” die ding is wat ’n hondjie op die sypaadjie doen voor sy baas sy kettinkie trek, en dat skoolgronde ’n klompie grondmonsters is wat op die skoolterrein geneem is.

Dis ’n gegewe dat ons saam met ’n wêreldtaal leef. Dit werk verwoestend op ons taalgebruik en veral die spelling van ons taal in. En dis ongelukkig nie net die mense wat nie omgee vir Afrikaans wat so wild met die spel- en taalreëls omgaan nie. Nou die dag lees ek hoe iemand wat homself ’n “Boere Afrikaner” noem, sy mond uitspoel oor hoe “slap gat” sy “folks genoote” is.

Ek begin al meer wonder of ’n mens nog kan praat van dit betaal om Afrikaans te wees? Moet dit nie nou eerder wees: “Jy betaal om Afrikaans te wees” nie?

Regtig. Afrikaanse dagblaaie se webwerwe is nou ’n geval van *&* of betaal. Nuus 24 word gesluit. Om enige noemenswaardige sport te kyk, veral in Afrikaans, moet ’n mens betaal. Om in Afrikaans skool toe te gaan, geld die Wet van Transvaal.

Ek is een van die mense wat dit nie kan bekostig nie. Ek, wat al in sportskrywing onder die finaliste was en self rugby gespeel het tot ek weens ’n besering moes uittree, se kinders het rugbyloos grootgeword.

Herman Toerien

  • 1

Kommentaar

  • Herman, almal maak foute maar dit behoort mens nie te verhoed om te klik nie.  En as jy 'n fout uitgewys het bly dit 'n fout al kan die foutmaker jou daarop wys dat jy nie foutloos is nie.

    Terloops, hulle (RSG) hou aan praat van tenders wat toegeken word.  Dit kan tog nie wees nie; iemand dien 'n tender in om een of ander werk of diens te verrig en as hy suksesvol is word 'n kontrak aan hom toegeken. Of hoe?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top