Dit is heel verblydend om te verneem van jou deeglike studie wat jy van Shakespeare en James Joyce se werke gemaak het. Miskien kan jy my meer van die verskille tussen die twee se skryfwyses inlig. Graag sal ek ook meer wil weet van hoe Eugene Marais se skryfstyl verskil van ons moderne skrywers s'n. Ek het nog altyd die letterkundiges bewonder.
Wanneer ek praat van die groei van ʼn taal, het ek egter iets heeltemal anders in gedagte as strukturele verandering waarvan Dan Sleigh praat. Met taalgroei bedoel ek die groei van die taal se woordeskat sodat dit kan tred hou met tye en omstandighede. Ek hou maar by Afrikaans wat ek bestudeer het; jy kan my inlig oor Engels, Duits, Frans, Russies, ens wat jy bestudeer het.
Afrikaans se woordeskat behels die volgende: 1. Eiegoed, dit is woorde wat ons van 17de eeuse Nederlands geërf het. Glo dit as jy wil, maar hier het Afrikaans al heelwat Engelse woorde geërf. 2. Eiegoed, dit is woorde wat sprekers self geskep het, neologismes. Dit raak al hoe minder produktief hoe ouer ʼn taal word. Afrikaans het ʼn besondere manier van nuwe woorde skep en dis deur middel van samestelling, en dit is produktief. 3.Leengoed. Dit is ontlening uit ander tale se woordeskat. Afrikaans kry die meeste woorde van Engels, alhoewel dit ook in aanraking kom met tale soos Zulu, Sotho en Xhosa. Van die drie is ontlening die produktiefste.
Volgens jou mag ʼn mens nie ʼn Engelse woord gebruik as jy Afrikaans praat nie, want dit “verskraal” glo die taal. Wat jy presies daarmee bedoel, sal jy moet verduidelik. Dit is nie geldig om te sê die Engelse woord pas nie by die Afrikaanse geluidstroom nie. Engels brei sy woordeskat uit met woorde waar hy ook al posvat regoor die wêreld wat nie fonologies inpas by Engels nie, en raak nie daardeur “verskraal” nie, inteendeel, Engels word daardeur verryk. As ʼn spreker ʼn Engelse woord gebruik as hy Afrikaans praat, kommunikeer dit beter; dis die rede waarom hy dit gebruik.
In my skrywe “As tale verdwyn” het ek wel gesê dat as die jeug die dominante taal aanvaar, is hulle eie taal aan die kwyn, maar jy verstaan die hele argument verkeerd. As iemand ʼn Engelse woord gebruik, terwyl hy Afrikaans praat, aanvaar hy nie Engels as die taal wat hy gaan praat nie. Slegs as ʼn Afrikaanssprekende kind Engels as sy spreektaal aanneem, sou Afrikaans in gevaar staan om te verdwyn. Om dit anders te stel, Afrikaans kan nie verdwyn deur ʼn Engelse woord te ontleen nie, Afrikaans kan alleenlik verdwyn as die Afrikaanssprekendes besluit om nou maar liewer Engels te praat.
Sprekers van een taal kan besluit om liewer ʼn ander taal te praat. Dit gebeur hier onder ons oë. Afrikaanssprekendes verengels daagliks. Die ouers mag dalk nog Afrikaans praat, maar die kinders praat Engels. Al my Duitssprekende vriende se kinders is Engels, selfs al was van hulle in Afrikaanse skole. Dit hou gevaar in vir Afrikaans, maar nie ʼn vreemde woord wat ʼn spreker gebruik as hy Afrikaans praat nie.
Tale kan ʼn mens nie in blikke druk met die deksels bo styf toe nie. Êrens peul die woorde uit en loop weg na ander toe. Wat jou siening van taal vertroebel is dat verskillende taalstelsels verskillende name het, maar in werklikheid is taal universeel: dis geluide wat die mens maak met sy mond om te kommunikeer.
Sprekers van ʼn taal kan niks doen aan die verloop van hulle taal nie, hoe jy ook al stry. Probeer ʼn bietjie om vir Afrikaanssprekendes voor te skryf om nie meer Engelse woorde te gebruik as hulle Afrikaans praat nie. Ek sal gou agterkom as jy geslaag het; ek luister net na RSG. Ek kan ook na KykNet kyk, of sommer net die bydraes hier op LitNet lees.
As jy nie hou van Engfrikaans vir hierdie nuwe taal wat ontstaan nie, wat stel jy dan voor? Wat van Afrigaans? of wat van Maportaans? Maleis-Portugees het tog ʼn groot bydrae gemaak tot die uitbreiding van ons woordeskat. Toe Hollands hier op die afdraandepad is, het hulle die nuwe taal Afrikaans genoem. Hulle het voorwaar ʼn makliker taak gehad.
Angus


Kommentaar
Angus, gaan die Khoisan nou Khoisan praat?
Hans, ek sou sê Khoisan klink goed. Alle tale eindig eintlik op [s], (dis nou op Afrikaans) soos Afrikaans, Engels, Duits, Spaans, Russies, maar hier is dit Zulu, Xhosa, Sotho.