Vir Jan Rap oor Afrikaans

  • 6

Beste Jan Rap,

Baie dankie vir jou skrywe van 4 April. Vir my is dit insiggewend, en telkens moet ’n mens weer van vooraf oor taal besin. Die verskil in ons sieninge oor taal is nogal ooglopend. Jy beskou Afrikaans vanuit ’n kultuuroogpunt; soos dit geërf is van ons voorvaders, so moet dit behoue bly, en vreemde invloede moet ten alle koste afgeweer en uitgeroei word. Ek aan die anderkant weer, beskou dit vanuit ’n linguistiese oogpunt, en daarby kan ek sommer voeg: vanuit ’n evolusionêre oogpunt, met Darwin nie ver in die agtergrond nie. Afrikaans is vir my dus ’n lewende taal wat hom gedurigdeur moet aanpas by nuwe omstandighede om die gebruiker daarvan in staat te stel om te kan kommunikeer.

Ter toeligting gaan ek probeer om hierdie brief https://www.litnet.co.za/Article/antwoord-vir-angus-oor-die-lewende-taal van jou te beantwoord.

In par. 1 het jy dit teen taalvermenging en dan sê jy: “Taalvermenging verteenwoordig nie groei nie.”

Hoe so, Jan? Alle tale is mos mengeltale, behalwe dalk George Orwell se Newspeak waar daar ’n Big Brother is wat dophou selfs wat jy dink. Afrikaans het sy ontstaan te danke aan vermenging van tale (lees bv. taalteorieë van Hesseling en Bosman).  Afrikaans se komponente is Erfgoed (17de eeuse Nederlands), Leengoed (uit Engels, Duits, Nederlands, Frans, Maleis-Portugees, Portugees, Hottentots, Zulu/Xhosa/Sesotho, Japannees, ens.), en Eiegoed (hoofsaaklik samestellings van bestaande taalmateriaal). Alle tale pas maar so aan by die omgewing, en ek sou sê, groei ook, want kyk net die hoeveelheid woordeskat wat bykom!

In par. 2 gee jy toe dat so een of twee woorde Afrikaans as jy Duits praat nie saak maak nie. Ja? En more nog twee, en die dag daarop nog drie en oor tien, twintig jaar het jy ’n tipiese Suid-Afrikaanse Duits wat hom taamlik aanpas by Suid-Afrikaanse omstandighede met sy braaivleis, Klippies, mooi meisies en sonskyn. Jy beweer dat Engelse woord nie verafrikaans moet word nie. Wat van:  platform, podium, jaart, brutaal, klerk, minister, magistraat, spoed, posorder, angstig, stadsaal, ens. (As jy meer wil hê, sal ek moet gaan naslaan.) As daar gewaak moet word teen Engelse invloed, kan daar gekyk word na bv. sintaktiese en grammatiese steurings, maar dit laat ek aan jou oor.

In par. 4 hou ek van die nuutskepping “Bondeling”. (’n Nuutskepping van jou? Dan moet jy aan die WAT stuur. Ek ken dit nie.) Jy beweer dat bondeling ’n taal versmoor en uiteindelik doodmaak. Dit is seker so dat as Engels en al die ander inheemse tale so sterk is en Afrikaans so swak is, dan gaan Afrikaans verdwyn, want niemand sal dit dan meer praat nie. Ek twyfel egter, want Afrikaans het juis sy ontstaan te danke aan so ’n bondeling.

In par 5 stem jy nie saam met my as ek beweer dat ons nie beheer het oor hoe die taal lyk en klink nie. Dit is slegs omdat jy my verkeerd verstaan. Ek sê nie jy, Jan , het nie beheer oor jou taal, jou idiolek, nie; ek bedoel daarmee die individu, jy, ek, het nie beheer oor hoe die Afrikaans lyk wat deur die mensdom gepraat word nie.

In par 6 beweer jy dat ons weggooi wat lelik is. As almal wat Afrikaans praat, dieselfde smaak het, kan ek nie sien waarom jy dan kla nie. Die waarheid is egter dat ons niks weggooi wat bruikbaar is en goed kommunikeer nie. Iemand sê onlangs in ’n resepprogram: “As jy uit botter hardloop, kan jy margarien gebruik.” Ek het nog skaars “Sjoe” gesê, toe bel die buurvrou langsaan om te sê sy is besig om ’n koek te bak en het ongelukkig uit suiker gehardloop. (Dis natuurlik debatteerbaar wat die beste kommunikeer: “Ek het uit suiker uit gehardloop” of “ My suiker is op,” of “Ek het nie meer suiker nie.” Die eerste een klink vir my so atleties, so gespierd, so asof sy rêrig besig is om haar ding te doen.

Verder beweer jy dat ons wel beheer het oor die taal deur woordeboeke, spelreëls, grammatikareëls en jy het vergeet om onderwysers te noem. Ek stem saam, dit help ons om taalvaardig te wees, maar aan die anderkant strem dit tog die evolusie van taal. Ek bv. staan nog met ’n bek vol tande aan die Afrikaanse grammatika en dink, dan het daardie outjie van die Kaap my al met ’n woordgolf so sleggesê dat die see my nie kan afwas nie. Dan moet jy ook baie mooi verstaan: hierdie Afrikaans waarvoor jy so lief is, en wat jy dink so suiwer is, het juis sy onstaan te danke aan die gebrek aan woordeboeke, spelreëls,  grammatikareëls, en veral onderwysers wat onkommunikeerbare taal in die kinders se kele afdruk.

In par 7 beweer jy dat evolusie nie foute maak nie. Verkeerd! Evolusie se dryfveer, seleksie, is maar ’n taamlike groot knoeier veral saam met sy handlanger, mutasie. En jy maak ook ’n fout deur te beweer dat dit wat verkeerd is weggegooi word. Nee, dit wat nie kommunikeer nie, word weggegooi. Jy het gepraat van ’n tweedbaadjie, en dis verkeerd, maar dit word behou omdat dit kommunikeer. ’n Baadjie van growwe wol-en-katoenstof, is korrek, maar kommunikeer nie so goed nie. Daarom word dit nie gebruik nie.

In par 8 verdraai jy my woorde en wil jy my woorde in die mond lê. Laat ek weer verduidelik.

As Afrikaans so swak is dat dit deur Engels ingeneem sou word, verdwyn dit van die aardbol. Dan was dit te sleg om aan te pas, dis weg. Ek herhaal: as Afrikaans deur Engels oorgeneem word, het dit nie kon aanpas nie. Vir my is aanpassing as Afrikaans sy struktuur behou ten spyte van die invloed van ander tale, en belangrik: dat hy op alle gebiede moet kan kommunikeer.

Wat jou slotparagraaf betref, ek is nie so seker dat Iers en Skots niks met mekaar te make het nie. Alle tale het met alle ander tale iets te make.

Volgens C.p.f. Lecoutere en L Grootaers se Inleiding tot de Taalkunde en tot de Geschiedenis van het Nederlands (1948) het Indo-Germaans verdeel in Kentum en Satem tale. Die Kentumtale is Grieks, Italies. Germaans en Kelties. Die Keltiese tale is Gallies, en Engels. Die Galliese tale is Iers, Skots, en Manks (taal van die eiland Man).

En daarmee is ek voorlopig uitgehardloop.

Groete

Angus

  • 6

Kommentaar

  • Hello Angus, 

     
    Verskoon my nuuskierigheid, maar voorheen was daar ook al gesprekke deur jou oor taalkwessies en het jy as 'n werklike kenner oorgekom. Dit is nou 'n paar jaar terug, twee jaar ongeveer en nou weer hierdie rondte.  
     
    Is jy in die bedryf, of is dit net 'n belangstelling, waar die woord, 'net', afbreuk doen aan oor hoe goed jy ingelig is. 
     
    Jou briewe oor die onderwerp was werklik stimulered en vol kennis. 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • Hello, 

     
    Dit is hierdie inleiding van Angus wat Danny Titus in die gesprek bring. Angus skryf aan Jan: 
     
    Baie dankie vir jou skrywe van 4 April. Vir my is dit insiggewend, en telkens moet ’n mens weer van vooraf oor taal besin. Die verskil in ons sieninge oor taal is nogal ooglopend. Jy beskou Afrikaans vanuit ’n kultuuroogpunt; soos dit geërf is van ons voorvaders, so moet dit behoue bly, en vreemde invloede moet ten alle koste afgeweer en uitgeroei word. 
     
    Danny Titus in die Beeld haal Nelson Mandela soos volg aan, gebaseer op stelling gemaak deur Mandela in 1976: 
     
    Op 7 Junie 1976 skryf Nelson Mandela oor Afrikaans: 
     
    “Dit is die moedertaal van 95% van die bruin bevolking. Indiërs praat dit ook, saam met enkele swart sprekers. Suid-Afrika het vandag byna 3 miljoen Afrikaners wat nie meer verdrukkers sal wees ná die bevryding nie, maar ’n kragtige minderheid van gewone burgers wie se samewerking en goeie wil nodig sal wees in die heropbou van die land. Dit sal onwys wees om die taal af te skaf.” 
     
    Dit was byna 40 jaar gelede.
     
    Daar is statistieke in die artikel wat ek nie kon bevestig nie maar tog plaas vir die wat dalk kan bevestig maar tog wil die volgende egter aangedui word: 
     
    Die sensus van 2011 vertel ons dat Afrikaans op twee na die grootste taal in die land is, dat Afrikaans die grootste huistaal in sowel die Noord- as die Wes-Kaap is en die tweede grootste in die Vrystaat, die Oos-Kaap en Noordwes. In Gauteng is hy die derde, in Limpopo en KwaZulu-Natal vierde en in Mpumalanga is Afrikaans die sesde grootste. Die sensus sê ook Afrikaans is die moedertaal van 76% bruin huishoudings en 61% wit huishoudings. 4.6% Indiërs se moedertaal is Afrikaans en wat swart mense betref, is dit 1,5%.
     
    Dit na aanleiding van die volgende. Ná onderhandelinge, hofsake en uiteindelike konsensus het ons nou ’n Talewet (eintlik die Gebruik van Amptelike Talewet, GATW) van 2012. En nasionale regeringsdepartemente, nasionale entiteite en nasionale openbare ondernemings moet nou elkeen in die volgende 18 maande ’n taalbeleid daarstel waarin drie amptelike tale geïdentifiseer word. 
     
    Die uitdaging gaan dus wees om die maghebbers te oortuig dat Afrikaans een van die amptelike tale moet wees.
     
    Die historikus prof. Hermann Giliomee het by die Absa KKNK beweer is die mense in die saal waarskynlik van die laaste Afrikaners. Hy sê vir veral Afrikaanse mense is die gemeenskapslewe nie meer sentraal nie, maar eerder hul eie, persoonlike lewe. “Ons lewe net vir ons gesin, vir ons viertrekvoertuig en die natuuruitstappies. Daar gaan geweldig baie sosiale kapitaal verlore wanneer mense nie meer in gemeenskappe met mekaar saamleef nie.”
     
    Waarheen gaan die Afrikaner en Afrikaans en behoort Afrikaans nog steeds net aan die Afrikaner? 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • Beste Wouter, 

    Op skool het ons ? Afrikaans-onderwyser gehad, so 'n fris ou Ier.  Hy was fanaties oor Afrikaans, en sou maklik  sommer kon vuisslaan daaroor. My liefde vir die taal het eintlik begin toe ek een middag Eugene Marais se "Dans van die reën" van buite moes leer, terwyl ek my Rugbyklere aangetrek het. Op daardie oomblik het daar ? allemintige reënbui uitgesak en ek het die dans nakend die koshuisgang af gedemonstreer, met die koshuisvader en sy lat agter my aan. (Hy het altyd kamerbesoek gedoen, lat in die hand.) Op universiteit het ek my maar besig gehou met sandhaaie dissekteer, maar saans altyd verlangend deur my kamermaat se boeke geblaai as hy Karel en de Elegast leer, en my vertel van Chomsky se diepte- en oppervlaktestrukture. Om kort te gaan, jare later het my belangstelling uitgeloop op  ? B-graad in Afrikaans-Nederlands en Geskiedenis, en nog later in ? Honneurs. Kenner is ek dus nie, en ook nie in die bedryf nie, alhoewel ek al heelwat sukses gehad het om vir Ingelse en ander uitlanders Afrikaans te leer. 
     
     Ek is ? groot bewonderaar van jou en Comestor se belesenheid. Ek het al vir my ? Kindle aangeskaf, maar kon nog nooit byhou nie.
     
    Groete,  Angus
  • Hello Angus, 

     
    Amen. 
     
    Dit was toe soos verwag,  met die verwysing na 'B-graad in Afrikaans-Nederlands en Geskiedenis, en nog later in ? Honneurs', want jou briewe wys duidelik jy ken jou storie en daarvoor wil ek jou graag komplimenteer en het ek jou briewe werklik leersaam gevind. 
     
    Baie dankie.  
     
    (My studierigting was Interne Ouditkunde by die Technikon maar is nou volkome in IT). 
     
    Ek hou weer van die geskiedenis van idees, grootliks aan die hand van Isaiah Berlin. 
     
    Die Kindle is 'n groot plesier en lees nou al makliker en lekkerder as 'n boek in die ou formaat volgens my mening en laat onderwerpe toe wat 'n mens nie voorheen noodwendig sou gaan koop het nie, soos gisteraand het ek lesings van Ben Bernanke afgelaai. 
     
    Kan jy nou meer. 
     
    Maar 'n Kindle laat werklik verskeidenheid toe en daarvoor is ek dankbaar. 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top