Beste Jan Rap,
Baie dankie vir jou skrywe van 4 April. Vir my is dit insiggewend, en telkens moet ’n mens weer van vooraf oor taal besin. Die verskil in ons sieninge oor taal is nogal ooglopend. Jy beskou Afrikaans vanuit ’n kultuuroogpunt; soos dit geërf is van ons voorvaders, so moet dit behoue bly, en vreemde invloede moet ten alle koste afgeweer en uitgeroei word. Ek aan die anderkant weer, beskou dit vanuit ’n linguistiese oogpunt, en daarby kan ek sommer voeg: vanuit ’n evolusionêre oogpunt, met Darwin nie ver in die agtergrond nie. Afrikaans is vir my dus ’n lewende taal wat hom gedurigdeur moet aanpas by nuwe omstandighede om die gebruiker daarvan in staat te stel om te kan kommunikeer.
Ter toeligting gaan ek probeer om hierdie brief https://www.litnet.co.za/Article/antwoord-vir-angus-oor-die-lewende-taal van jou te beantwoord.
In par. 1 het jy dit teen taalvermenging en dan sê jy: “Taalvermenging verteenwoordig nie groei nie.”
Hoe so, Jan? Alle tale is mos mengeltale, behalwe dalk George Orwell se Newspeak waar daar ’n Big Brother is wat dophou selfs wat jy dink. Afrikaans het sy ontstaan te danke aan vermenging van tale (lees bv. taalteorieë van Hesseling en Bosman). Afrikaans se komponente is Erfgoed (17de eeuse Nederlands), Leengoed (uit Engels, Duits, Nederlands, Frans, Maleis-Portugees, Portugees, Hottentots, Zulu/Xhosa/Sesotho, Japannees, ens.), en Eiegoed (hoofsaaklik samestellings van bestaande taalmateriaal). Alle tale pas maar so aan by die omgewing, en ek sou sê, groei ook, want kyk net die hoeveelheid woordeskat wat bykom!
In par. 2 gee jy toe dat so een of twee woorde Afrikaans as jy Duits praat nie saak maak nie. Ja? En more nog twee, en die dag daarop nog drie en oor tien, twintig jaar het jy ’n tipiese Suid-Afrikaanse Duits wat hom taamlik aanpas by Suid-Afrikaanse omstandighede met sy braaivleis, Klippies, mooi meisies en sonskyn. Jy beweer dat Engelse woord nie verafrikaans moet word nie. Wat van: platform, podium, jaart, brutaal, klerk, minister, magistraat, spoed, posorder, angstig, stadsaal, ens. (As jy meer wil hê, sal ek moet gaan naslaan.) As daar gewaak moet word teen Engelse invloed, kan daar gekyk word na bv. sintaktiese en grammatiese steurings, maar dit laat ek aan jou oor.
In par. 4 hou ek van die nuutskepping “Bondeling”. (’n Nuutskepping van jou? Dan moet jy aan die WAT stuur. Ek ken dit nie.) Jy beweer dat bondeling ’n taal versmoor en uiteindelik doodmaak. Dit is seker so dat as Engels en al die ander inheemse tale so sterk is en Afrikaans so swak is, dan gaan Afrikaans verdwyn, want niemand sal dit dan meer praat nie. Ek twyfel egter, want Afrikaans het juis sy ontstaan te danke aan so ’n bondeling.
In par 5 stem jy nie saam met my as ek beweer dat ons nie beheer het oor hoe die taal lyk en klink nie. Dit is slegs omdat jy my verkeerd verstaan. Ek sê nie jy, Jan , het nie beheer oor jou taal, jou idiolek, nie; ek bedoel daarmee die individu, jy, ek, het nie beheer oor hoe die Afrikaans lyk wat deur die mensdom gepraat word nie.
In par 6 beweer jy dat ons weggooi wat lelik is. As almal wat Afrikaans praat, dieselfde smaak het, kan ek nie sien waarom jy dan kla nie. Die waarheid is egter dat ons niks weggooi wat bruikbaar is en goed kommunikeer nie. Iemand sê onlangs in ’n resepprogram: “As jy uit botter hardloop, kan jy margarien gebruik.” Ek het nog skaars “Sjoe” gesê, toe bel die buurvrou langsaan om te sê sy is besig om ’n koek te bak en het ongelukkig uit suiker gehardloop. (Dis natuurlik debatteerbaar wat die beste kommunikeer: “Ek het uit suiker uit gehardloop” of “ My suiker is op,” of “Ek het nie meer suiker nie.” Die eerste een klink vir my so atleties, so gespierd, so asof sy rêrig besig is om haar ding te doen.
Verder beweer jy dat ons wel beheer het oor die taal deur woordeboeke, spelreëls, grammatikareëls en jy het vergeet om onderwysers te noem. Ek stem saam, dit help ons om taalvaardig te wees, maar aan die anderkant strem dit tog die evolusie van taal. Ek bv. staan nog met ’n bek vol tande aan die Afrikaanse grammatika en dink, dan het daardie outjie van die Kaap my al met ’n woordgolf so sleggesê dat die see my nie kan afwas nie. Dan moet jy ook baie mooi verstaan: hierdie Afrikaans waarvoor jy so lief is, en wat jy dink so suiwer is, het juis sy onstaan te danke aan die gebrek aan woordeboeke, spelreëls, grammatikareëls, en veral onderwysers wat onkommunikeerbare taal in die kinders se kele afdruk.
In par 7 beweer jy dat evolusie nie foute maak nie. Verkeerd! Evolusie se dryfveer, seleksie, is maar ’n taamlike groot knoeier veral saam met sy handlanger, mutasie. En jy maak ook ’n fout deur te beweer dat dit wat verkeerd is weggegooi word. Nee, dit wat nie kommunikeer nie, word weggegooi. Jy het gepraat van ’n tweedbaadjie, en dis verkeerd, maar dit word behou omdat dit kommunikeer. ’n Baadjie van growwe wol-en-katoenstof, is korrek, maar kommunikeer nie so goed nie. Daarom word dit nie gebruik nie.
In par 8 verdraai jy my woorde en wil jy my woorde in die mond lê. Laat ek weer verduidelik.
As Afrikaans so swak is dat dit deur Engels ingeneem sou word, verdwyn dit van die aardbol. Dan was dit te sleg om aan te pas, dis weg. Ek herhaal: as Afrikaans deur Engels oorgeneem word, het dit nie kon aanpas nie. Vir my is aanpassing as Afrikaans sy struktuur behou ten spyte van die invloed van ander tale, en belangrik: dat hy op alle gebiede moet kan kommunikeer.
Wat jou slotparagraaf betref, ek is nie so seker dat Iers en Skots niks met mekaar te make het nie. Alle tale het met alle ander tale iets te make.
Volgens C.p.f. Lecoutere en L Grootaers se Inleiding tot de Taalkunde en tot de Geschiedenis van het Nederlands (1948) het Indo-Germaans verdeel in Kentum en Satem tale. Die Kentumtale is Grieks, Italies. Germaans en Kelties. Die Keltiese tale is Gallies, en Engels. Die Galliese tale is Iers, Skots, en Manks (taal van die eiland Man).
En daarmee is ek voorlopig uitgehardloop.
Groete
Angus


Kommentaar
Hello Angus,
(met respek aan Jan Rap)
Hello,
Beste Wouter,
Hello Angus,
Akoord met Cornelius se verwysing, Jan net so.