Hallo Angus,
Ek verwys na jou brief van 2 April aan my.
Wouter, in sy kommentaar op my een onlangse brief, het die hele storie mooi saamgevat; hy het agtergekom wat my grief is taalvermenging. Taalvermenging verteenwoordig nie groei nie.
As ek nou byvoorbeeld probeer Duits praat gaan ek, wanneer ek sukkel, noodwendig die Afrikaanse woord ingooi en geen Duitser gaan dink ek is besig om op dié manier te bou aan hulle taal nie. Taalvermenging vind plaas wanneer ’n taal swak gepraat word. Deur woorde soos "at least", "even", "introduce", "support", "innocent", "you know", "garlic", "simmer" en dies meer te gebruik is bloot slordig. Om Engelse woorde te verafrikaans is net so slordig, byvoorbeeld "konklusie", "residu", "rekrutering", "intensie" ens.
Ek stem saam met baie van wat jy sê, byvoorbeeld jou storie oor skeiding. Dit is natuurlik so dat, sou jy byvoorbeeld die Afrikaners in twee deel en een groep op die noordpool sit en die ander groep op die suidpool gaan na, sê 2000 jaar, die twee groepe heeltemal afsonderlike tale praat.
Wat waar is, wat ek my verstout om te sê jy nie aan dink nie, is dat bondeling ’n taal kan versmoor en dus uiteindelik doodmaak. Met die dat Engels nou so in ons kele afgedruk word deur die radio (RSG ingesluit), die televisie (KykNet ingesluit), die koerante (Afrikaanse koerante ingesluit), die skole, die openbare lewe, die reklamewese, die vermaaklikheidswêreld (slebs soos ou Anton Goosen praat van "singer songwriters"), oral, is dit duidelik dat Afrikaans aan die agteruitgaan is. Die verrotting is al duidelik te bespeur; luister maar net na inbellers op die radio.
Waarmee ek NIE saamstem nie is hierdie stelling van jou: "Hoe die aanpassing lyk en klink, het ons geen beheer oor nie. Dit vra nie of dit mooi of lelik is nie, solank dit net bruikbaar is en nuus kan oordra, kan kommunikeer." Taal is nie net ’n kommunikasiemiddel nie, dit is ook deel van jou identiteit, net soos die keuse van jou kleredrag ’n deel is van wie jy is. Jy kan kies om slordig te lyk, net soos jy kan kies om slordig te praat maar, respektiewelik, verteenwoordig dit nie persoonlikheids- of taalgroei nie.
Jy is ook verkeerd wanneer jy sê ons vra nie of dit mooi of lelik is nie want as dit lelik is gooi ons dit uit. As jou tweedbaadjie vir drie dae in melk gelê het gaan hy stink en lelik wees en jy gooi hom uit. En ons het wel beheer daaroor; woordeboeke, die spelreëls, grammatikareëls en dies meer is alles deel van die beheer. Die Engelse, Russe, Franse, Duitsers, almal, pas hierdie soort van beheer toe.
Ek is ook nie so seker van jou evolusiestorie nie; met die analoog vind ek geen fout nie maar evolusie is meer as net aanpassing en verder, evolusie maak nie foute nie ten spyte van wat die fundi's (Zoeoloewoord wat die Engelse ook gebruik) sê. As die ding foutief is gaan hy nie oorleef nie.
Jy sê " ... as Afrikaans hom nie kan aanpas by vernuwende omstandighede nie, dan sal hy beslis verdwyn en deur Engels oorgeneem word..." Maak nie sin nie; Afrikaans is besig om deur Engels oorgeneem te word en dus te verdwyn en jy noem dit aanpassing. Wat jy dus sê is as Afrikaans nie verengels nie gaan hy deur Engels oorgeneem word; dit klink nie reg nie. Buitendien, Afrikaans, soos Frans en Engels en Russies ens is ’n lewende taal en verander met tyd en taalvermenging het niks met die verandering te doen nie; dit is agteruitgang.
Op ’n punt van orde, Scottish is ’n soort van ’n Engels wat die Skotte praat, hulle praat nie eintlik meer Gaelic nie. Iers is Ierse Gaelic, ’n Keltiese taal wat niks met Engels te doen het nie. Byvoorbeeld "skuldig", die Engelse "guilty", in Iers is "ciontach", die sin "he hacked it" is "rinne sé giotaí fogha de", "weerlig" is "tintreach", "veglustig" is "achrannach" maar ek raak nou meegevoer; soos jy kan sien het ek ’n Ierse woordeboek in die hande gekry. Terloops, die uitspraak is onmenslik; party van die letters sê hulle nie eers nie en dit klink of hulle sommer dan ander byvoeg.
Groetnis
Jan Rap

