Vir Jacobus Faasen oor sy WVK

  • 1

Dagsê Jacobus

In jou brief van 5 Maart sê jy die volgende goed is ontvlugting, en wel die soort ontvlugting waarmee Afrikaanse taalfeeste gepaard gaan:

a) Die stilte en gebrek aan betrokkenheid,
b) die selfverraad,
c) verloëning van eie,
d) wantroue versus mede-Afrikaanses,
e) sosio-ekonomiese struktuurgeweld,
f) genootskap van ware Broederbonders se Taalmonument,
g) die genetika van apartheid in ons are,
h) die verdeeldheid van ’n moedertaalgemeenskap,
i) benoeming van Afrikaans deur medeburgers as “die taal van die Boer”,
j) die gebruik van rassistiese plekname soos “Boesmanland” en “Hottentots-Holland” om kolonialisme te regverdig,
k) die laertrek-mentaliteit,
l) die eksklusiwiteit van taalfeeste en
m) die verswyging van alles wat nie in die neo-paradigma pas nie.

Maak dit sin? Hoe is (d) byvoorbeeld ontvlugting, of (g)? Watse sin maak die volgende:

"... die genootskap van ware Broederbonders se Taalmonument is ontvlugting waarmee Afrikaanse taalfeeste gepaard gaan" of
" ... die verloëning van eie is ontvlugting waarmee Afrikaanse taalfeeste gepaard gaan" of " ... die genetika van apartheid in ons are is ontvlugting waarmee Afrikaanse taalfeeste gepaard gaan"?

Dis nie dat ek jou nie glo nie; dis net dat ek nie mooi verstaan wat jy sê nie (miskien kan Jaco ook help; lyk my hy verstaan).

Wat ek wel agterkom is dat jy verbitterd en baie kwaad is. Jy voel te nagekom en die ouens wat jou te nagekom het wil nie erken of opdok nie. Wie is hulle, en op welke manier is jy ingedoen, en hoe en wat moet hulle regmaak om jou te kalmeer?

Jy praat van die eksklusiwiteit van taalfeeste. Wie word uitgesluit? Sover ek weet is almal wat Afrikaans kan praat welkom as toeskouer of arties. Of wil jy hê Xhosas of Engelse of Vendas moet ook opvoerings gee? Dít sal mos nou glad nie sin maak nie; dis dan juis 'n Afrikaanse taalfees. Hoe sal Zoeloes byvoorbeeld 'n Afrikaanse opvoering by 'n Zoeloetaalfees geniet?

Niks fout daarmee om gegrief te voel nie Jacobus (ek self byvoorbeeld is uiters gegrief oor die agteruitgang van Afrikaans, en die verdwyning van Afrikaanse name, en die gebrek aan Afrikaans in die sake- en openbare wêreld). Spel net duidelik jou grief uit sodat ons óf kan stry óf kan saamstem.

Groetnis

Jan Rap

  • 1

Kommentaar

  • Beste Jan Rap

     

    Die taal was so lank patriargaal, 'n medium vir slaafbase, Broederbonders, rassiste en voetsoldate dat sy (ja, Prof, hy's 'n 'sy'), dat sy helemal besoedeld is soos 'n fetus wat op ou droë brood en papsakwyn moes oorleef. Dis nie Afrikaans se skuld dat sy deur die regering as "die Boer se taal" beskryf word nie.

    Groete

     

    Kobus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top