Vir Jaco

  • 3

Hallo Jaco

Jou kommentaar onderaan my brief oor toerisme verwys.

Jy's reg as jy sê ek weet niks van ekonomie af nie maar, soos die spreekwoord sê, 'deur die oog van die suigeling sien jy die keiser is kaal'. 

Jy kan mos nou vir jouself dink man; hier in die grammadoelas sit 'n groep mense, sê die N'Taitl-nasie, en al wat hulle doen is om hutte vir toeriste te verskaf wat na hulle kom kyk.  Kennelik kan die toeriste hulle nie betaal nie want roebels, euro's en dollars werk nie in die bos nie so hulle bring meel, suiker, vleis ens, soort van 'n ruilhandelstorie. 

Op 'n dag spu daar 'n berg vuur en vir maande kan vliegtuie weens die as nie vlieg nie, geen toeriste kom meer by N'Taitls uit nie.  Nou's hulle in die moeilikheid; hulle het verleer om wippe te stel, hulle het nie meer saad om te plant nie so hulle staar hongersnood in die gesig want hulle toeristebedryf, die enigste komponent van hulle ekonomie, het ineengestort. 

Dus, hoe groter komponent die toeristebedryf van jou ekonomie is, hoe kwesbaarder is jou ekonomie.  Ek vermoed 'n insinking in die toeristebedryf was 'n groot bydraende faktor in Griekeland se onlangse moeilikheid.

Ek weet nie hoekom noem jy Swaziland nie want, soos ons, is Swaziland maar net nog 'n Engelse kolonie. 

Jy's verkeerd waar jy sê ek is 'behep met Afrikaans'; ek is erg bekommerd oor die voortbestaan van Afrikaans, amper so besorg as wat byvoorbeeld dr Gerhard Verdoorn oor die aasvoëls is.

Jy is ook verkeerd waar jy sê 'Afrikaans onder Afrikaners is STERK, aan die brand en groei nog steeds.'  Afrikaans is NIE sterk onder die Afrikaners nie; hulle spel verkeerd, hulle praat verkeerd, hulle kontamineer dit met Engels en hulle staan heeltemal ongeërg teenoor hulle taal.  Luister maar na RSG; 'n groot klomp wie se WERK dit is om Afrikaans te praat kan dit skaars doen (goddank nie almal nie), wat nog van Jan Rap en sy maats.

Word wakker swaer, jy tokkel op jou harp terwyl Rome brand.

Groetnis

Jan Rap

  • 3

Kommentaar

  • Jan

    Jy skryf weer verkeerd:  "Jy tokkel op jou harp terwyl Rome brand."  Ek tokkel nie aan enige harp of viool nie, maar wel op my voël. (grappies op 'n stokkie - maar)

    Net om 'n verkeerde VERONDERSTELLING aan jou kant reg te stel, nl:  "Ek vermoed 'n insinking in die toeristebedryf was 'n groot bydraende faktor in Griekeland se onlangse moeilikheid." Inteendeel, daar was geen "insinking" in Griekeland se toerismebedryf nie. Die toerismebedryf daar staan nog sterk.   Die insinking is ten gevolge van buitensporige groot lenings wat die regering, en die private sektor aangegaan het, wat hul nie kon terugbetaal het nie, en verdere lenings is hulle geweier totdat hulle weer ekonomies gesond staan.  Dit werk presies soos 'n huishouding waar meer gespandeer word as enige inkomste verdien is om die leningskuld te kan terugbetaal.

    Soos met enige ander marksektor in hierdie land, is die wins of verlies in die toerismebedryf ook onderhewig aan binneland en buiteland se invloede wat positief of negatief daarop kan inwerk.  

    Ons toerismebedryf vorm merendeels deel van die PRIVATE ekonomiese sektor, tans ook grotendeels AFRIKANER.  Dit is hierdie sektor wat verstaanbaar min oor Afrikaans gepla is, en eerder ingesteld is om aan die behoeftes van veral die spandabelrige buitelandse toeriste tevrede te stel, en Afrikaans vorm nie deel van hierdie bevrediging nie, eerder ‘n uitgawe sonder die vooruitsig van enige wins op gelde daarop gespandeer nie.                

    Jou voorbeeld van die San in die Kalahari wat deur toeriste aangegaap word, is nie waaroor die toerismebedryf gaan nie.  Hierdie San sit sonder werk ongeag enige vooruitgang of agteruitgang van die bedryf, en dit is nie oor hulle waaroor die werkskepping en inkomste gaan nie.  

    Die toeris betaal ‘n SAL-lugkaartjie. By die lughawe betaal hy vervoer na sy verblyfplek. Hy betaal geld vir sy verblyf. Hy spandeer geld op “junk food”, en etes.  Hy spandeer geld by verskeie vermaaklikheidsplekke.  Hy spandeer geld vir toergidse. Hy spandeer geld op plaaslike sekswerkers.  Hy spandeer geld op soveel meer ander dinge, te veel om hier  te kan opnoem.  Vir elke transaksie, is daar iemand wat hom bedien, ‘n persoon wat werk het as gevolg van sy teenwoordigheid.  Hoe groter die volumes toeriste, hoe groter die behoefte vir mense wat hulle moet bedien, maw WERKSKEPPING asook INKOMSTE vir die werker, die werkverskaffer asook vir SARS.  

    Waar die prioriteit by geld en werk lê, wat heeltemal normaal is,  sal kultuur, taal en godsdiens altyd ‘n swak tweede kom.  

    Jaco Fourie

  • Hallo Jaco

    Voël of viool, dit moet tersyde gestel word terwyl die land brand.  As dinge weer na normaal terugkeer kan jy weer rustig, of sal ek sê lustig, voortgaan.

    Eers oor Griekeland.  Die plek is oorgekommersialiseer; langs elke stuk bouval, al is dit net 'n enkele kolom, staan 'n Griek en jy moet hom betaal om iets oor die kolom te sê.  Hy verrig geen arbeid nie, hy dra nie by tot die BBP nie, hy vat geld wat deur arbeid in 'n ander land gegenereer is.

    Dan oor die San.  Die groep wat ek in my brief hierbo in gedagte gehad het is 'n fiktiewe nasie in die oerwoud, vandaar my verwysing na 'die bos'.  Net soos die Griek in die paragraaf hierbo werk hulle nie maar wag vir kos wat in 'n ander land geproduseer is. 

    Waar jy praat van die toeris wat kaartjies, kos en dies meer in SA koop geld dieselfde; hy betaal met geld wat elders gegenereer is.  Hy hou dus iemand besig wat liewer 'n sinkgat kon gaan regmaak het, of koring geplant het of iets.

    Dan, laastens, oor jou opmerking van die Afrikaners wat min oor Afrikaans gepla is maar eerder bontstaan om toeriste tevrede te stel.  Mens werk (of steel) om geld in die hande te kry om vir jouself lewensgehalte te koop.  Lewensgehalte, onder andere, bestaan daarin om jou gesin te versorg, fietse vir jou kinders te koop, vry te wees om jou taal te praat en jou godsdiens te beoefen, wat dit ookal mag wees.  Indien jy lewensgehalte inboet, onder andere byvoorbeeld taal en kultuur te versaak, sodat jy kan geld maak span jy die kar voor die perde.

    Groetnis

    Jan Rap

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top