Vir Jaco oor verdra

  • 0

Dag Jaco

In jou kommentaar onderaan my brief van 18 deser sê jy dat jy nooit hier populariteit gesoek het nie; dit nou in reaksie dat ek sou gesê het jy word nie verdra nie.

Jy verstaan my verkeerd. Wat ek bedoel is dat jy as Afrikaner (en dus ek en al my maters en die volgende ou) nie in die Nuwe! Verbeterde! SA nie verdra word nie. Die regering maak dit duidelik met al die naamsveranderinge, die heksejag op Afrikaans en die soort van ding.

So van die os op die minora-blade: Ek sal dit uiters vervelig vind as julle 'liberaal-demokrate', om nou Piet Croukamp se woorde te gebruik, nie meer hier skryf nie. Hoe kan daar ooit genesing vir julle wees as julle in julle doppe kruip? Hoe sal ons, die ware liberale denkers, die wat nie stroomaf dryf met gods water wat oor gods akker dawer, die wat nie die kudde- en joinmentaliteit het en wat nie soetkoekvreters is nie, ooit julle kan bekeer uit julle mesmerstaat as julle nie praat nie? Selfde geld as jy dink ek is die ou wat dwaal. Jy behoort dan mos vir my die feite te gee dat ék myself kan bekeer en saam met julle na die Afrikanervyandig-gesinde DA oorstap, nie waar nie?

Om terug te kom na die volkstaat. Daar was 'n stadium dat ek teen 'n volkstaat was; ek het gereken dit sou presies wees wat die ANC wil hê naamlik dat almal van ons doer iewers in die woestyn sit, uit hulle pad uit. Dit blyk toe dat hulle ons nie eers 'n plekkie in die woestyn gun nie; hulle wil ons uitroei en wie kan verkwalik word as hy nie bereid is om saam met sulke mense te lewe nie, as hy wil leef in 'n plek waar hy nie bedreig en verguis word nie?

Net 'n ietsie oor die verlede waarin ek nou sou vassteek: Wat op aarde laat jou so-iets sê? Die verlede is paraffienlampe en kerse, waterskep by 'n rivier, putriole en grondpaaie, 'n toestand waarheen ons nou vinnig na op pad is en in baie gevalle alreeds daar is. Nee swaer, ek is vir die toekoms; ruimtereise, breë paaie wat in stand gehou word, kontinue kragvoorsiening, blink spoorlyne, netjiese en veilige parke, die soort van ding, iets wat nou ongelukkig al hoe meer onbereikbaar blyk te wees soos tyd aangaan.

Jy sal nog leer; iets wat chronologies nuwer is, is partykeer uit de oude doos.

Nou-ja tot hiertoe dan en vir wat dit werd is, ek dink ook nie jy's 'n te slegte ou nie.

Groetnis

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top