Jaco ou maat, as mens jou onlangse reeks briewe as ’n skildery moet voorstel sal dit ’n strooipop en ’n rooi haring toon wat systap en pypkan agter ’n dik rookskerm.
Nou verduidelik jy weer vir my waar die woorde vandaan kom waarvoor jy my die definisies van gevra het (en wat ek vir jou gegee het). Waarheen is jy op pad? Al wat ek gevra het is wat dit is wat jou so neerhalend teenoor Dan Roodt maak en na hoeveel briewe het jy nog niks daarvan gesê nie behalwe om aan te val.
Wat “slapgat” en “gedienstig” en die soort van ding betref, al die woorde waarmee ek nou die Afrikaner so beledig, die volgende:
Dit is so dat, sedert “demokrasie”, Afrikaans as amptelike taal afgeskaf is (jy glo vir seker nie die storie dat daar 11 amptelike tale is nie of hoe?). Ook is dit so dat Afrikaanse universiteite verdwyn het en Afrikaanse skole slegs ’n breukdeel is van die aantal wat daar was. Verder word Afrikaanse plek-, dorps- en straatname met eentonige reëlmaat verander.
Hierdie agteruitgang kan slegs gebeur as ons dit toelaat; dit is die manifestasie dat ons aan die verloorkant van ’n geveg is. Ons – en dit sluit my in, dis soos die woord “ons” werk – is dus slapgat. As jy nie hiermee saamstem nie dan moet jy ’n teenredenasie verskaf, vir my sê dis tydelik dat dinge so agteruitgaan; “ons” het ’n plan, of dat ek dinge verkeerd lees, die Afrikaanse skole word eintlik meer of so iets. ’n Teenargument is NIE ’n geweeklaag omdat ek die woord “slapgat” gebruik het nie.
Dan is daar die mense wat glo hierdie verloop van sake is in ons sterre, dit is so beskik van die begin af, ons kan niks daaraan doen nie en ek noem hulle die gelate meelopers. As jy nie hiermee saamstem nie dan moet jy ’n teenargument gee, byvoorbeeld my vertel dat hierdie mense die verligtes is en saam met die tye beweeg, dit is Die Regte Ding vir die Afrikaner om Engels te word. ’n Teenargument is NIE om ’n keel op te sit omdat ek die woord “meelopers” gebruik het nie.
Daar is ook die mense wat glo die Engelse is wonderlik en hoe beter ons Engels praat hoe nader is ons aan die opgradeer na ’n beter stand toe. Ek sê hierdie mense is joiners en as jy dink ek is verkeerd dan moet jy ’n teenargument gee wat NIE daarin sal bestaan dat jy aan die huil gaan omdat ek die woord “joiners” gebruik het nie.
Dan is daar diegene wat vir ’n paar sikkels silwer teen hulle mense draai en meewerk met die hele agteruitgangproses, hulle is per definisie verraaiers. As jy ’n ander definisie het vir mense wat hulle eie mense in die rug steek, of dink ek lees die hele situasie verkeerd, stel dan jou kant. Beswaar oor my gebruik van die woord “verraaier” is NIE jou kant stel nie.
Soos ek al male sonder tal vir jou gesê het, ek maak my gevolgtrekkings aan die hand van die inligting tot my beskikking en, ook maar mens, mag ek verkeerd wees. Jy is welkom om my van inligting te verskaf wat my my standpunt kan laat verander maar tot sover het jy nog net geskel en beskuldig.
Jy praat van die venyn waarmee ek bogenoemdes etiketteer – trek jy ’n skoen aan wat pas? Wat ek sê is INDIEN dit, DAN dat en dit staan jou vry om my premis en/of gevolgtrekking af te skiet met meer of beter inligting. Dit is nie venyn nie; venyn is wat jý openbaar wanneer jy, wat jy die Praagkliek, regse gekkegrens, noem, aanval.
Jy sê as Afrikaners al bogenoemde aanvang, "so what?" Plaas laat jy dit van die begin af gesê het en ek kon, by wyse van spreke, baie ink gespaar het deur te sê, in daardie geval, as daar Afrikaners is wat te velde trek teen die agteruitgang van Afrikaans, en diegene wat meewerk daaraan, "so what?".
Ter afsluiting, ek het geen bitterheid soos jy beweer nie; ek neem waar en lewer kommentaar (en, vir die honderdste maal, ek mag verkeerd wees; dit staan jou vry om my daarop te wys). Jy, aan die anderkant, is bitter neerhalend teenoor wie jy uiters venynig as die “gekkegrens” verwys. Wat maak jou so bitter teenoor Dan en Anton? As hulle wil “regs” wees, pas jou eie filosofie toe en vra "so what?".
Jan Rap

