Vir Jaco oor sy "reaksies"-brief gister

  • 2

Hallo Jaco

Jy beweer ek sê niks oor jou Engels nie omdat, reken jy, my "... godjie maar fanaties Afrikaans [bly] ..." en dit sou ook die rede wees waarom ek niks oor die inhoud van jou brief gesê het nie.

Wel, jy's verkeerd; jy maak alweer aannames. Die rede hoekom ek niks oor die inhoud van jou brief gesê het nie is omdat, op die oog af, jou feite vir my reg lyk. Jou interpretasie van daardie feite mag dalk reg wees, of mag dalk nie reg wees nie maar om dit uit te pluis los ek vir die ouens wat lus is vir die ewigdurende godsdiensdebat.

Die rede hoekom ek niks oor die standaard van jou Engels gesê het nie is omdat dit goed is; ek het net 'n een foutjie gesien. Ek het ook nooit gesê dat jou Engels beter as jou Afrikaans is nie. Hoe kon ek; jy erken dan self dit is die eerste keer dat jy in Engels skryf?

Wat ek wel te kenne gegee het is dat die ouens wat so op hul agterpote is as iemand aanmerkings oor swak Afrikaans maak, ALTYD hulle heel beste sal probeer om foutlose Engels te skryf. Daar het jy dit nou bewys; jy skryf jou stiefmoedertaal beter as jou moedertaal. Jou Afrikaans is nou wel nie deurspek met Engelse woorde nie maar ek het nogtans hier oor die 50 taal-, grammatika- en spelfoute in jou Afrikaanse brief gekry en net een in een van jou Engelse briewe. Ek is geen taalkundige so kom ons neem aan ek is net halfpad reg dan is daar nog 'n magdom foute in jou Afrikaanse brief teenoor dié in jou twee Engelse briewe (as ek dit mis het en Engels wel jou moedertaal is vra ek om verskoning en moet jou dan komplimenteer; vir 'n Engelssprekende is jou Afrikaans uitstekend).

Laat ek weer eens my standpunt duidelik maak: Daar is mense wie se Afrikaans besmet is met Engelse woorde en dit is in die haak, trouens, hulle is redelik ontstig as iemand daaroor kapsie maak, beskuldig selfs die kapsiemakers daarvan dat hulle oud is en grys skoene dra. Daardie einste mense egter sal eerder tien dode sterf voor hulle Engels skryf wat deurspek is met Afrikaanse woorde. Afrikaans kan maar verkrag word; dit sou nou 'beweeg met die tye' wees, 'kreatief' wees en wie weet wat hulle nog daaraan toedig maar "godjie" Engels, om nou jou woord te gebruik, moet korrek gebesig word.

Die regering is besig om Afrikaans te versmoor en die groot tragedie, amper so groot soos die verleentheid, is dat die Afrikaanssprekendes fluks meewerk.

Groetnis

Jan Rap

  • 2

Kommentaar

  • Beste Jan

     

    Dankie dat jy wel op my skrywe ge-respondeer het.  Ek ondervind geen probleem met die inhoud daarvan nie.  Jy het wel met 'n vorige geval my met Cobus Fourie verwar wat weier om in Afrikaans te skrywe, en wie as gebore Afrikaner (toevallig ook gay, maar geen familie verwantskap nie), uitgesproke sy rug op die Afrikaanse taal (en ek vermoed ook die Afrikaner) gedraai het.  Ek het jou destyds reggehelp toe jy my wel bevraagteken het hoekom ek nie Afrikaans so goed skrywe als Engels nie. 

     

    Ek is in wese, murg en been, Afrikaner (bevraagteken jy dit?).  Taalkundig word my Afrikaans deur ander taalkundiges wat ek ken als gemiddeld beskou, nie te goed, maar ook nie te sleg nie.  Die ongeluk is dat daar wel diegene is wat verwag dat alle Afrikaners se taalkundige kennis op so 'n vlak moet geskied wat deur net 'n minderheid Afrikaner-akademice gebesig word.  (Die Engelse noem dit nit-picking).

     

    Ek moet bieg.  Ek sou eerder graag wou gehad het dat jy oor die inhoud van my briewe, of ondersteunend of

    krities menings ge-opper het.

     

    Jaco Fourie.

     

  • Beste Jan

    Dankie vir jou response op my skrywes. Ek ondervind geen probleem met die inhoud daarvan nie. Ek wil jou net herinner dat jy wel met ‘n vorige geleentheid my bevraagteken het hoekom my Engels beter als my Afrikaans is. Ek het jou destyds reggehelp en gese jy verwar my met Cobus Fourie (toevallig ook gay, maar geen familie nie). Laasgenoemde ‘n gebore Afrikaner wat uitgesproke sy rug op die Afrikaanse taal gedraai het en uitsluitlik in hoogdrawende pedantiese Engels skrywe.

    Ek is in murg en been Afrikaner (bevraagteken jy dit?). Ek is deur taalkundiges wat ek ken gese my Afrikaans, taalkundig, gemiddeld is, nie te goed, maar ook nie te sleg nie. Sekere Afrikaners verwag van alle Afrikaners dat hulle taalkundig op dieselfde vlak als die minderheid taalkundige akademici moet verkeer. (In Engels word dit nit-picking genoem).

    Terloops die spelfoute waarna jy verwys, van hulle is moontlik as gevolg van die komper se automatiese regstellings wat ek nie opgetel het nie. Bv. hierbo toe ek probleem getik het, het die komper dit na problem verander en ek moes teruggaan om ‘n e weer in te tik. Meerendeels word my briewe na middernag geskrywe, wanneer ek moeg van my ritte (die komper het laasgenoemde verander na rite) op die platteland huistoe kom.

    Ek moet bieg. Ek sou eerder daarvan gehou het indien jy, of ondersteunend, of krities op die onderwerp inhoud van my briewe sou reageer het soos Kobus gedoen het. Vir ander lesers sou dit die geleentheid vergun om die een tot die ander op te weeg om sodanig sy eie gevolgtrekking te kan maak.

    Jaco Fourie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top