Vir Jaco oor sy nuutste "Rooi Daantjie"-tirade

  • 0

Hallo Jaco

Soos laas, het jou brief veroorsaak dat ek Dan Roodt se stukkie gaan lees het en, weer eens, net soos laas, kan ek nie verstaan hoekom jy so onthuts is nie. Nêrens het Dan gelieg of valse beskuldigings gemaak nie. Hy was miskien bietjie uitgesproke hier en daar waar hy beweer sommige Afrikaners het nie balls nie maar kennelik is dit nie wat jou so die moer in maak nie want a) dis waar en b) daar is ouens hier, soos daardie ploert van Sjina byvoorbeeld, wat veel erger dinge oor die Afrikaner kwytraak en daaroor rep jy geen woord nie.

Of is dit juis omdat a) hierbo geld wat jou so kwaad maak? Dat Dan Roodt bietjie na aan die been sny en dit lê bloot dat i) sekere Afrikaners met slap pap onder ’n wip gevang is, ii) dat daar wel Afrikaners is wat breingespoel is, dus wel met die vyand heul, iii) dat daar Afrikaners is wat agtergekom het dat hulle bydraend tot die skep van ’n gedrog was nou nie die morele moed aan die dag kan lê om dit te erken nie en dus in ontkenning lewe en iv) dat daar wel Afrikaners is wat pleinweg rugstekers, joiners, meelopers, agterryers en verraaiers is?

Ek vermoed sterk dat dit die geval moet wees hoekom jy so neerhalend teenoor Dan is want, soos ek gesê het, hy slaan die spyker op die kop; die DA-hulle is die Afrikaner nie goedgesind nie en die “onskuldige” Afrikaners wat vir hulle stem, stem maar omdat hulle “die grootste party en dus die beste opposisie” sou wees. Opposisie vir wie; hulle is juis die mense wat die huidige regering in die stoel gesit het. Terloops, die Trollip-ding het darem vinnig oorgewaai dink jy nie so nie? Vergelyk dit nou met die Reitz-storie; fantasties hoe die koerante een ding kan toesmeer en ’n ander ding kan opblaas. Dan Roodt is reg, die media smokkel met die mense se koppe; spoel hulle breine, die soort van ding.

Opmerklik dat jy niks oor hierdie paragraaf van Dan sê nie:

Die Vryheidsfront is boonop die enigste politieke party wat mediaverklarings in Afrikaans uitreik. Is dit nie ’n onding wat uitgeroei moet word nie? Elke politieke party in die land behoort slegs verklarings in Engels uit te reik en in Engels met die publiek te kommunikeer. Soos die ANC byvoorbeeld. Of die DA. Of Cope.

Ek hoor graag wat jy daaroor te sê het.

Groetnis

Jan Rap

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top