Vir Jaco oor die verdedigbare

  • 0

Dagsê vrind

Jy sê die Praagkliek (een woord Jaco!) is stil; hulle sou “te skaam wees vir hulle profeet se blundering statements”. Sou daar iets soos ’n Praagkliek wees, waarom moet hulle iets sê as hulle saamstem? Soos jy jou en die res van die Williamskliek julle sit en verkneukel as julle profeet galbraak oor die Afrikaner, so sit hulle maar, die sogenaamde Praagkliek nou, en lekkerkry as húlle profeet die stommighede van die ontkennendes, lakeie, meelopers, rugstekers en gedienstiges ontbloot.

Kom ons analiseer nou jóú brief (ek gebruik sommer jou nommers):

1 Jy sê dat, nêrens in my brief, staan ek een van jou punte of stellings teë nie. Jaco, indien jy dit so sien, is omdat jy geen punte of stellings gemaak het nie! Jy kan byvoorbeeld nie sê Dan “... speel die swart gevaar-kaart” en dink dat jy daarmee enige punt bewys het nie want jy gee bloot jou mening.

Wat jy kón sê is dat, “deur na Mazibuko te verwys, speel Dan ’n ‘swart gevaar’-kaart omdat ...” en dan gee jy jou redes hoekom jý dink mens moenie radikale grondhervorming, transformasie en Afrikaanse pleknaamsverandering (eintlik -verdwyning) as gevaar beskou nie. As jou redes logies is kan Dan dalk heroorweeg wat jy dink hy in gedagte het. Jy sien, die soort van ding; anders kan mens bloot as teenvoeter sê dat jy wat Jaco is die “DA is great”-kaart speel en dan word dit ’n sinnelose is-nie-is soort van speletjie.

2 Verskanste antwoorde op vrae wat ek nie gevra het nie; waar val jy uit swaer? Jou hele aanhaling van my in jou punt 2 is ’n vraag; jy het net in jou aanhaling die vraagteken met ’n “ens” vervang. Laat ek dit dan in die vorm van ’n stelling aan jou stel: Ek beweer Dan maak jou so kwaad omdat hy die spyker op die kop slaan. Ek mag verkeerd wees maar niks wat jy tot sover geskryf het bevestig die teendeel nie.

Dit is die vraag wat ek jou van die begin af gevra het naamlik wat dit is wat veroorsaak dat jy so neerhalend teenoor Dan is maar nie teenoor Williams nie (jy het darem al die Williamsgedeelte geantwoord; hy is ’n nar en amuseer jou).

3 Die aanhaling wat jy in jou derde punt gee is nie myne nie maar Dan s’n, netso uit sy opstel. Om dit duidelik te maak het ek dit in kursief geskryf maar lyk my Maggie kan nie kursief laai nie. So gaan lees weer; ek wil weet hoekom swyg jy soos die graf oor daardie stukkie van Dan wat daarop neerkom dat die DA slegs in Engels met die publiek kommunikeer. Daar is dus geen rookskermtaktiek nie want ek het dit nie eers geskryf nie.

Terwyl ons nou op die onderwerp van jou stilswye oor sekere van Dan se stellings is, sal ek ook graag wil hoor wat jy oor van die ander te sê het, soos byvoorbeeld die DA se stilswye oor plaasmoorde, die straat- en dorpsnaamveranderinge en dat die VF+ die enigste party is wat beswaar aanteken teen die afskaf van Afrikaans in die skole en universiteite.

Dan, op ’n paar puntjies van orde: a) Ek is nie Anton B nie en ons skryf- en redenasiestyle (elkeen is een woord Jaco, vandaar die koppelteken) is nie dieselfde nie. Anton lê sy gedagtes goed uit maar ek is al baie beskuldig dat ek onsamehangend skryf. b) Die ander ding is mens verdedig nie iemand as jy saam met hom stem nie, jy beaam bloot dat jy dieselfde mening toegedaan is. Buitendien, "verdedig" is nie van toepassing waar feite ter sprake is nie – as ek jou vertel dat gravitasieversnelling is 9,8 meter per sekonde-kwadraat is verdedig ek nie Newton nie, ek gaan bloot akkoord met sy bevindinge. c) Nog iets, waar het jy Judge platgeslaan? Soos ek onthou het hy die geveg so-iets soos 7-0 gewen.

Om nou jou vraag te antwoord, die een wat jy sê ek nog nie geantwoord het nie naamlik wat het Dan Roodt beter of meer vir die Afrikaner gedoen as wat AfriForum gedoen het: Ek weet nie maar as jy dink AfriForum het meer en beter gedoen, maak dit die ontsettend baie wat Dan gedoen het, en nog steeds doen, ongedaan? Moes Van Gogh byvoorbeeld ophou skilder omdat mense destyds gedink het sy tydgenote skilder beter? Miskien verstaan ek nie jou vraag mooi nie, vra maar weer.

Groetnis

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top