Jaco, jy bly systap en pypkan. Williams praat twak en dit vermaak jou. In jou inleidingsparagraaf skree-vra jy "Rooi Daantjie konstateer feite!?" en jy antwoord dan jou eie vraag met punte genommer van een tot vyf (terloops, is dít die “verskanste antwoord”-tegniek waarvan jy my gedurig beskuldig?) om, vermoed ek, die teendeel te bewys.
Ek vra weer: Williams praat die grootste klomp twak, raak só emosioneel en beledigend dat hy ’n verleentheid is en jy verkneukel jouself daaroor maar die twak wat Dan Roodt volgens jou praat maak dat jy hom, om nou jou woord te gebruik, minag; hy is volgens jou ’n verleentheid vir die Afrikaner. Hoekom?
Aangesien ek al voorheen die vraag gevra het en geen antwoord gekry het nie het ek ’n moontlikheid aan die hand gedoen: Hy slaan die spyker op die kop; hy ontbloot die sondes van die ontkennendes, hy wys daarop dat diesulkes ’n Frankenstein-gedrog geskep het en nog steeds voed. Dít maak die wat in ontkenning lewe woedend.
Nou, dit is seker wat jy ’n “verskanste antwoord” antwoord noem. Wel, wat jy ook al onder ’n “verskanste antwoord” verstaan, dit is nie. Ek het al selfs vir jou gesê ek mag verkeerd wees en dat jy welkom is om dan die werklike rede vir jou onthutsheid te gee wat jy tot sover nog nie gedoen het nie. Wel, hier het jy nou weer ’n kans.
Laat ek op jou 5 punte reageer en, soos laas, gebruik ek jou nommers:
1 Watter bevolking praat SA-Statistiek van; die van Pretoria tot PE of die hele Suid-Afrikaanse bevolking? Maar indien Dan nou uit sou wees met sy syfer, negeer dit sy volkstaatidee? En hoe seker is jy van die “amptelike” syfer (hulle kook mos als)?
2 Maak vir my sin: In Somalië, Zambië, Zimbabwe, Angola en Mosambiek gee niemand meer die mense werk nie en die mense daar het uitgeskuif na elders vir werk; daar is miljoene van hulle hier.
3 Jy sê Dan sê daar gaan teen 2014 ’n volkstaat wees en dat hy sê die VF+ het nie balls nie. Het hy dit ooit gesê? Een ding is egter seker, en dit het ek ook al gesê, dit sal ongesond vir Afrikaans en die Afrikaner wees om NIE vir die VF+ te stem nie want die alternatiewes dra beslis nie die belange van die Afrikaner op die hart nie. Indien die VF+ nou intussen van gedaante verander, soos die NP sedert die middel 60's ’n gedaanteverwisseling ondergaan het, is dit ’n ander saak.
4 Is die DA en Naspers nie maar dieselfde ding nie? Buitendien, jy sê in ’n “latere rubriek” wat dui op ’n tydsverloop waarin dinge kon verander, soos ekstra inligting wat aan die lig kon kom, die soort van ding.
5 “En nog te veel om te noem” sê jy. Jaco, wat sê jy nou eintlik; dat jy die man minag omdat hy hom, volgens jou, weerspreek? Dit hou net nie water nie; daar moet ’n ander rede wees. Lig my in asseblief anders moet ek aanvaar my gevolgtrekking hierbo is reg.
Jy praat van ander ouens en instansies wat golfies maak. Wat het dit met die prys van eiers te doen? Ek haal my hoed af vir enige persoon of instansie wat rug styf maak teen die heksejag op Afrikaans. Net nou die dag nog het ek Yuri ’n klop op die skouer gegee vir sy golfie – die aandring op Afrikaanse inskrywingsvorms by Unisa.
Jaco, Afrikaanse plekname verdwyn, Afrikaanse skole en universiteite verdwyn, daar is geen Afrikaans in die nasionale parke en ander openbare instansies nie, jy kan nie eers jou belasting in Afrikaans invul nie. Hoe kan jy ENIGE verset afskiet? Wat is fout met jou?
Groetnis
Jan Rap

