Vir Jaco oor aliasse

  • 0

Dag Jaco

Anton skryf goed, ek nie. Wat skryfwerk betref is Anton in die klas van Jelleke Wierenga, Helmien Roux, Maryna Blomerus, Swys, Kees Bottersma, Dirk D en Etienne van Zyl wat hier skryf (party skryf nie meer nie lyk dit my). Dis nou wat taalvaardigheid betref; wat politieke insig betref is Anton, myns insiens, ver bo laasgenoemde drie (hulle het my al aangespreek maar tot dusver hou hulle stories nie vir my water nie).

Jy beskuldig my en Anton van ’n klomp goed hierso maar ek gaan maar net namens myself praat; ek het nie nou tyd om navorsing te doen en jou te vertel waar Anton van my verskil nie. Soos gewoonlik gebruik ek maar weer jou nommers:

1 Jy praat van aanvalle op Afrikaners. Dié het ek al met jou behandel maar ek sê maar weer: Betig en uitwys van dwalinge is nie aanvalle nie; dis eerder aanmoediging vir die aangespreektes om ernstig introspeksie te doen en hulle van hulle dwaalweë te bekeer. Ek het ook al by verskeie geleenthede gesê ek mag verkeerd wees en sal inligting verwelkom wat die teendeel van my sienings bewys; daar bestaan mos nie ’n mens wat nie foute maak nie.

2 Jy hou aan met hierdie stront Jaco; ek het mos alreeds vir jou gesê ’n retoriese vraag, of die navraag of ’n gevolgtrekking reg is, is nie ’n “verskanste vraag/antwoord” nie. Dit is soortgelyk aan die verskil tussen lydende en bedrywende vorm.

3 Selfde ding as hierbo. Al waar ek punte toegeken het was met jou en Judge se debat en ek het elke keer my redes gegee waarom Judge die punt gekry het. Maar, soos ek reeds gesê het, dit is nie onmoontlik dat ek ’n fout kon gemaak het nie – dit staan jou vry om my daarop te wys wat jy tot dusver nie gedoen het nie.

4 Ek twyfel of ek al ooit so-iets gedoen het. Ek sal dit waardeer as jy my op so ’n geval te wys dat ek jou om verskoning kan vra. Ek kan nie dink dat ek sou tydmors om van die onderwerp af te stap nie; dis juis hoekom ek vir jou skryf.

Wat die spelfoute betref – ek voel nie meerderwaardig deur jou daarop te wys nie. Ek is al self ’n paar keer hier tereggewys wat spelling, taalverskynsels en idiome betref en dit pla my nie, verwelkom dit om die waarheid te sê. Netnou maak ek weer so ’n fout en voel dan soos die ou met die stukkie pietersielie op sy tand in die restourant. Dié wat ek sê ek skryf nie so goed soos Anton nie.

Ek moes byvoorbeeld in die woordeboek kyk of jou “verskanste” reg is; ek het gedog dis dalk “verskansde” maar jy was toe reg. En as jy nou mooi dink, ek wys jou maar meestal op die gevalle waar jy twee woorde in plaas van een het; dit is sommer dan ’n vingerwysing, kan jy maar sê, vir almal wat hier skryf, insluitende Maggie. Dit is iets wat Afrikaanssprekendes maar net nie onder die knie kan kry nie – een begrip, een woord.

In ons “sirkeltaaldebat” soos jy daarna verwys het ek dit ook aan jou duidelik gemaak dat ek nie ’n taalindoena is nie; soos jy kan sien is my Afrikaans glad nie voorbeeldig nie. Ek het dit teen die feit dat Afrikaans deur Engels uitgedruk word EN dat die Afrikaanssprekende ewe lustig meewerk en dit bring my sommer by jou volgende punt, naamlik dat daar meer gewigtige sake is as die handhaaf van Afrikaans.

Jy vergelyk nou appels met pere; laat my dink aan die komediant Jimmy Carr wat gevra het "what is worse than biting through an apple and finding a worm in it?" Die gehoor skree om ’n halwe wurm in die appel te kry en Jimmy Carr sê nee, "being raped." Dit is ’n non-redenasie; as alle kommunikasie in Afrikaans uitgereik word en die Engelssprekendes kla dan kan jy met presies dieselfde redenasie vorendag kom en dan lekker kwaad wees vir die Engelssprekendes omdat hulle dit nie aanvaar nie.

Buitendien, taal is deel van jou identiteit en dus jou lewensgehalte; dit is onnatuurlik om gedweë te aanvaar as jou goed vertrap word. Jy kan ook nie winsmarges as verskoning gebruik vir die afskaal van Afrikaans nie; mens maak geld om ’n lewe te maak en, om lewensgehalte in te boet vir geld, maak net nie sin nie; jy span die kar voor die perde.

Jou optimisme oor die toekoms van Afrikaans kan ek net toeskryf aan selfhipnose. Luister maar radio en kyk televisie – die mense praat al hoe swakker Afrikaans en skryf al hoe swakker Afrikaans. Afrikaanse skole word minder en al die Afrikaanse universiteite is nou oorwegend Engels. Jy leef in ’n droomwêreld swaer, jou akkommoderende houding is nie pragmatisme of goeie maniere nie, dit is pleinweg gedienstigheid. Goddank daar is mense soos Dan Roodt en Anton Barnard.

Groetnis

Jan Rap 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top