Beste Jaco
Jy som kamtig my “relaas” op maar vir “meelopers, joiners en verraaiers” gebruik jy 129 woorde waar ek 97 gehad het. Crazy mixed-up kid.
Verder gaan jy en jy gee ander betekenisse aan die definisies wat ek vir jou gegee het. Waar het ek ooit van “sterre” gepraat in die definisie van meeloper wat ek vir jou gegee het? Sluwe taktiek.
Jy skyn my ook ietwat van ’n bedorwe brokkie te wees; jy noem my voorwaardelike verwysings na “slapgat”, “meeloper” ens geniepsig maar in dieselfde asem skel jy mense uit wie se sienings van joune verskil as behorende tot die “gekkegrens”, jy gaan selfs sover as om te sê jy minag Dan Roodt. Hoe bring jy die kloutjie by die oor? Jaco mag slaan; niemand mag terugslaan nie want dan is hulle geniepsig.
Ek praat hierbo van “voorwaardelik”, ek sê mense wat willens en wetens toelaat dat sy goed vertrap word, in hierdie geval taal, slapgat is. Mens kan een van twee besware teen hierdie stelling hê: 1) Die taal word nie vertrap nie, die persoon wat hierdie stelling gemaak het yl. 2) Dit is wel so dat die taal vertrap word maar mens kan die wat dit gelate aanvaar nie slapgat noem nie, dis lelik, noem hulle liewer sagmoedig of realisties of in voeling met die tye of so-iets.
Jy het nie een van bogenoemde gebruik gemaak nie; jou beswaar was "sies, jy's geniepsig". As jou beswaar op grond van 1) hierbo is kan ek staaf dat Afrikaans wel vertrap word en jy kan my redes bevraagteken, daaroor kan ons debatteer. As dit op grond van 2) is kan ons ook debatteer waar die grens tussen sagmoedigheid en slapgatgeit lê of so-iets maar deur net terug te kap met “geniepsig” is, by wyse van spreke, die skoen aantrek wat pas.
Jy vra my wat PRAAG doen aan die feit dat Afrikaanse straatname verander word en die getal Afrikaanse skole krimp, behalwe praat. Wel, ek weet nie presies nie maar gestel nou hulle doen niks nie behalwe praat soos jy sê; is dit nie oneindig meer as mense wat dit net gelate aanvaar nie, of erger nog, mense wat meehelp om skole en straatname uit te wis nie? Of is jy vies dat PRAAG te min doen, jy stem dus saam met die onhoudbare toestand van verdwynende straatname en Afrikaanse skole? In daardie geval kan jy dan ook maar begin praat daarteen, tot sover moet ek aflei jy praat dit goed.
’n Ander ding, jy kla oor Dan en PRAAG niks doen nie maar ’n paar briewe terug was jy baie leedvermakerig oor hoe hy in die strate uitgejou was. Dit alleen behoort mos nou vir jou ’n aanduiding te wees dat ’n ou wat sover gaan as om vir sy saak uitgejou te word, godsonmoontlik nie daarvan beskuldig kan word dat hy niks doen nie.
Nou ja, twee vrae vir jou voor ek afsluit: 1) Wat is dit wat jou sekere mense as “regse gekkegrens” laat etiketteer en 2) Wat doen Dan wat jou so die hoenders in maak?
Groetnis
Jan Rap

