Vir Jaco Fourie oor sanik

  • 1

Hallo Jaco

Ek verwys na Johannes Comestor se brief van 24 Mei asook jou en my kommentaar onderaan.

Jy reken Johannes moenie sanik oor wat in die verlede gebeur het nie; dis verby.  Vir jou inligting, hy praat nie van die verlede nie, hy wys uit wat nou fout is.  As iets verkeerd is, is die eerste stap tog om die fout te identifiseer.  As julle ry en die kar gaan staan, en Wim vertel jou die waaierband het gebreek, gaan jy vir hom sê ’wat verby is, is verby’?  Natuurlik nie; julle gaan saam ’n plan bedink om daar weg te kom soos die eerste vrou wat verbyry stop en haar sykouse koop, of so iets.

Ek herhaal maar my kommentaar, vir ingeval jy dit nie gesien het nie (aangesien jy nog nie geantwoord het nie):

Johannes Comestor plaas, onder andere, die onbekwaamheid van, en onregverdighede aangevang deur, die huidige regering in die kollig.  As wat jy in die kol sien lelik is vir jou kan jy nie sê hy sanik nie.  Is jy bereid om te sê Mantashe-hulle sanik oor die Goodmangalery, of dat Nelson Mandela gesanik het oor swart politieke regte, of dat die Engelse pers (later ook die Afrikaanse pers) gesanik het oor die tuislandbeleid?  Sanik Willie Esterhuyse oor die vorige bedeling?

Indien jou antwoord ’ja’ is het jy miskien die bona fides om te sê Johannes sanik maar dan moet jy, vir balans, ook jou misnoë uitspreek oor Mandela en die ANC se gesanik deur die jare, asook die gesanik oor die skildery. 

Ek vermoed egter jou antwoord sal ’nee’ wees; ek vermoed sterk dat jy ook een was wat ’blinkoog oor die Nuwe Suid-Afrika’  (De Klerk se woorde) was ten spyte van, wat jy die gekkegrensers noem, se waarskuwings destyds en dat jy ywerig meegewerk het om die huidige bedeling daar te stel.  Jou gesanik oor wat Johannes sê is dus nie uit hoofde van jou kamtige weersin in mense wat volgens jou sou sanik nie, dit is omdat die blootlê van julle aandadigheid in die huidige mislukking te pynlik is om te verwerk.

Groetnis

Jan Rap

  • 1

Kommentaar

  • Beste Jan.

    1.  Ek het ge-"back pedal" op die woord "sanik" mbt. Johannes Commestor.  Lees my response in sy brief "Aspekte van die Suid-Afrikaanse politiek" gedateer 30 Mei 12.  Verder as wat reeds daar gese is, gaan ek nie verder uitwei nie. 

    2. In jou respons aan my brief "Uit die Bybel of uit oorlog" gedateer 06 Junie 12 is jy heeltemal reg.  Ek behoort die Bybel in Afrikaans te kwoteer.  Sodra ek 'n Afrikaanse Bybel aangeskaf het, binne hierdie week, sal ek voortaan daaruit kwoteer.  Met betrekking tot jou verwysing na die Engelse oorlog tussen hulle en die Boere, het ek hulle lankal vergewe, en is die hedendaagse Engelsman vir my soos 'n vriend, en ek koester geen vyandskap, wrok, of haat teenoor hulle hoegenaamd nie.

    Jaco Fourie

     

     

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top