Menere, julle kommentaar onderaan daardie brief verwys.
Jaco, ek is bly daar is darem hier en daar iets waaroor ons saamstem. In hierdie geval is dit eintlik logies want, soos jy sê, die meerderheid Afrikaners is ongelukkig oor die naamsveranderinge. Eintlik seker almal; ek twyfel of daar ’n enkele een is wat daarmee saamstem. En ja, ek het voorstelle.
In die eerste plek, om ’n brand te blus moet mens ophou stook. Die blote feit dat mense stil is hieroor is, in effek, toestemming dat met die praktyk voortgegaan kan word. Ons moet dus ophou toestemming verleen deur ’n allemintige bohaai op te skop elke keer as ’n naam verander word. Die amptelike opposisie, die DA, kan nie eintlik op gereken word om te help in dié verband nie; onthou, hulle is maar eintlik die Engelse party, die koagulering van die oorblyfsels van die Black Sash, Progs, die soort van ding. Trouens, ek sal nie verbaas wees as daar van hulle is wat die Afrikaners, wat golfies oor die naamsveranderinge gaan maak, vir Nazi’s gaan uitskel nie.
So, ons MOET ons misnoë uitspreek, hard en aanhoudend. As 15 swart kindertjies ’n Afrikaanse skool kan verengels kan 3 miljoen Afrikaners vir seker ’n veldtog loods wat nie deur die regering ignoreer kan word nie.
Duitswester, ek kan nie anders as om jou gelyk te gee dat nie meer ons land is nie; alles dui daarop. Wie nie met jou sal saamstem nie is die regering; hulle maak mos groot gewag van die reënboognasiestorie en dat almal kwansuis welkom moet voel, ’baai in die warm gloed van eenheid in diversiteit’ soort van ding (wat ’n absurde stelling, ’eenheid in diversiteit’; dis soos ’vooruitgang deur melkkos’ of ’meelewendheid in gordynvoerings’, disjunkte, selfs teenstrydige goed). So, as die regering volhou dat ons welkom is moet hy ophou om ons name uit te wis. Ons, genoeg van ons, moet dit net vir hom (dis nou die regering) vertel.
Die ding dat De Klerk die land weggegee het is nie heeltemal reg nie; ’n horde Afrikaners het saamgestem met die oorgawe. Mens kan aanvoer dat hulle om die bos gelei is maar dan geld die volgende: Hulle het ’n fout gemaak en moet ten minste ophou om voort te gaan met die fout; ophou om hout te gooi op ’n vuur wat geblus moet word.
Indien hulle NIE om die bos gelei is nie verdien hulle natuurlik wat hulle gekry het. Dan is dit egter nie die eerbare ding om te emigreer nie; hoe kan jy jou beywer vir ’n bestel en dan, sodra dit volbring is, los jy die ouens wat nie daarvoor gevra het nie in die gemors? Ek maak natuurlik die aanname dat dié wat emigrasie kan bekostig meestal juis diegene is wat ja gesê het vir die NSA. Ek mag verkeerd wees.
Terloops, daar is daar nog ’n ding waaraan bietjie gedink moet word: Ek verstaan in 1979 het De Klerk verklaar dat, sou PFP-beleid (ek dink dit was daardie tyd PFP) ooit implementeer word, sal dit lei tot chaos en ekonomiese verval. Einste hy is toe die ou wat uiteindelik instrumenteel was in die implementering van PFP beleid (en dit het toe wel gelei tot chaos en ekonomiese verval). So hier is bietjie dinkwerk nodig; wat het werklik hier gebeur?
Om terug te kom. Is daar genoeg van ons om ons misnoë teenoor die vergrype teen ons uit te spreek? Ek dink van ja as die ’stille meerderheid’ ophou om te gaan staan en lê en ook stem dikmaak, en ons emigrante kan ook maar handjie bysit. Niemand hoef sy party te verlaat wat die straatnaamfiasko betref nie. Selfs die wat ANC stem, soos my een suster, kan hulle uitspreek teen hierdie absurde praktyk. Ons moet net rug styfmaak. As ons kan kla oor die petrolprys kan ons ook kla oor die regering Afrikaans verguis.
Groetnis
Jan Rap

