Vir Herman oor Afrikaans

  • 1

Beste Herman,

Dankie vir jou insiggewende skrywe oor Afrikaans.

Daar is verskeie teorieë oor hoe Afrikaans ontstaan het, en dit sal dom wees om sommer enigeen so goedsmoeds te aanvaar as juis. Almal, sover my kennis strek, is almal dit egter eens dat Afrikaans hier aan die Suidpunt van Afrika uit 17de eeuse Nederlands ontstaan het as gevolg van kontak met ander tale. Een so ’n teorie beweer dat Afrikaans ontstaan het agv kontak met die Hottentotte. Hesseling beweer dat Afrikaans ’n mengeltaal is, en dat die Koi-tale nie so ’n toestand van dubbeltaligheid kon skep sodat ’n mengeltaal kon ontstaan het nie. Hy meen Maleis-Portugees, wat die algemene verkeerstaal was, is verantwoordelik vir die ontstaan van Afrikaans, en daarvoor voer hy talle bewyse aan. Dr Bosman sien weer die ontstaan van Afrikaans as die gevolg van so baie vreemdelinge wat Nederlands moes leer.

Middelnederlands is ’n taal wat seker so vanaf die twaalfde eeu tot so die vyftiende eeu in die Suidelike en Noordelike Nederlande gepraat is. Hieruit het Nederlands ontwikkel, seker eers as streektaal waarna dit dialektiese status bereik het, en ek sou sê, ’n volwaardige taal in die sewentiende eeu, toe Jan van Riebeeck ’n verversingspos aan die Kaap gestig het. Hierdie sewentiende eeuse Nederlands was, soos jy tereg noem, geïsoleerd, maar dit was geïsoleerd van Europa. Hier in Suid-Afrika het dit in aanraking gekom met ander tale. 

My kennis oor die Brabantse taal is maar beperk tot my kamermaat op universiteit se geswoeg met die mirakelspele en klugte van die 15de eeuse Rederykers. Van die moderne Brabantse dialekte weet ek ook nie veel nie, en ek kan maar net gis dat geen taal in isolasie (indien daar ooit so iets moontlik is)  sal verander, en  ’n nuwe dialek vorm nie. Dat daar ooreenkomste is tussen Afrikaans en nuwe dialekte in Europa, moet noodwendig so wees, aangesien hulle afkomstig van dieselfde daktaal. ’n Taal tree mos op soos ’n lewende organisme, en net soos daar ooreenkomste is tussen bv die mens en die sjimpansee omdat hulle ’n gemeenskaplike voorouer gehad het, so sal Afrikaans ook ooreenkomste toon met ontwikkelende tale in Europa, ten spyte van die geografiese skeiding.  Dit sou interessant wees om nuwe tale met mekaar te vergelyk; so op die oog af lyk dit vir my of oa fleksieverlies ’n kenmerk is van ’n moderne taal.

Die dubbel negatief in Afrikaans is maklik te verklaar, aangesien dit voorkom in die sewentiende eeuse Nederlands. Dit is dus erfgoed en afkomstig van Middelnederlands, en dus nie snaaks as Vlaams ook so ’n dubbele negatief het nie. Hesseling weer, het beweer dat die dubbel negatief in Afrikaans  Maleis-Portugese invloed is,  wat ’n tweede negatief aan die einde van ’n sin het as sinsluiter.

Dit is wel so dat woordeskat uit Koi, Duits, Frans, Portugees, ens goed gedokumenteer is. Hierdie tale het vroeër ’n invloed gehad op die vorming van Afrikaans, maar op die oomblik is dit feitlik net Engels wat die woordeskat van Afrikaans verryk. Dis moeilik om te sê waarom Engelse woorde soms Afrikaanse woorde vervang. Ek is van mening dat dit is omdat die Afrikaanse woord en die Engelse woord nie presies dieselfde betekenis het nie. Taal gaan tog ekonomies te werk met sy woordeskat en absolute sinonimie word meestal uitgeskakel. Daar het darem al heelwat nuutskeppinge die lig gesien, terwyl ander weer nie die mas kon opkom nie, en ons moes terugval op meer direkte vertalings, die verafrikaansing van woorde of selfs woorde sommer so direk oorneem sonder verandering.

Spelreëls sal maar altyd ’n probleem wees, veral met ’n jong taal soos Afrikaans, omdat nie almal vertroud daarmee is nie. Los- en vasskryf skep ’n probleem, veral as gevolg van die Engelse skryfwyse. Dan is daar woorde soos ‘tot siens’, ‘huis toe’, ‘weer eens’ wat weer los geskryf moet word. Om sake te vererger, word los- en vasskryf ook gebruik om betekenisverskille aan te dui. Lees losstaande woorde nie soms makliker nie? Word die woord Rekenaar nie dalk as byvoeglike naamwoord gebruik  in ‘Rekenaar Kamer’ nie? Sou jy ‘Natuurenskeikundekamer’ of ‘Natuur- en Skeikundekamer’ verkies bo ‘Natuur- en Skeikunde Kamer’? So terloops, dit lyk my die samestellers van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls het moedverloor met die gebruik van die gravis- en akuutaksente. Deesdae is die gravis oorboord gegooi en kan jy sommer ‘nè’  met ’n é skryf. (Dit spyt my, maar my speltoetser wil nie toelaat dat ek nè met ’n é skryf nie.)

Dit is so dat tale vreemde draaie gooi, ten spyte van taalkommissies, taalpuriste, onderwysers, lektore en professors, want taal se hoofdoel is om ’n boodskap oor te dra.  

Groete

Angus

  • 1

Kommentaar

  • Baie interesant. Op skool het ek geleer dat die dubbele negatief van die Franse invloed afkom. Dit kon ek nooit verstaan nie want die Franse taal gebruik twee verskillende woorde (ne + pas) en kom altyd voor en na die werkwoord voor. Baie bly dat daardie mite se nek opgedraai is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top