Vir Angus – Die wonder van taal

  • 1

Beste Angus

’n Mens moet versigtig wees om Afrikaans te veel as die produk van ’n taal in kontak met ander tale, soos Koi-tale te beskou. Hoe meer ’n mens tekste van verskillende Middel-Nederlandse dialekte lees, hoe meer kom ’n mens onder die indruk dat Afrikaans nie uit Nederlands (ABN) ontstaan het nie, maar dat beide Afrikaans en ABN uit dialekte van Middelnederlands ontstaan het. Die dubbele “nie” is maar een voorbeeld hiervan.

Afrikaans het wel, weens isolasie, waarskynlik verder van die hoofstroom soos ons vandag Nederlands en Vlaams ken, ontwikkel, maar waarskynlik nie so ver soos Brabants (wat maar enkele jare gelede sy eerste eie Bybelvertaling gekry het nie – trouens, in baie opsigte lyk Brabants nader aan Afrikaans as Nederlands. Onlangs was daar berigte in De Standaard (België) oor hoe sekere belangrike politici vir die eerste keer in die openbaar sekere dialekte praat wat baie van Vlaams verskil.

Benewens Nederlanders wat verskillende dialekte gepraat het (en selfs ander tale soos Friesies – self weer met ’n groot aantal dialekte), is die geledere van die vroeë koloniste ook aangevul deur mense van ander Germaanse lande soos Swede en Duitsland. Ons ken almal die verhaal van die Hugenote.

Die nie-Dietse woorde in Afrikaans is goed gedokumenteer soos woorde wat uit Maleisiese dialekte oorgeneem is, Franse woorde en plaaslike Koi-tale. Hierdie woorde het in SA dikwels nie net klankveranderings nie, maar in die proses betekenisveranderings ondergaan, bv Duiwelspiek, wat van die Koi-woord duva(wind) vervorm het, en Hoedjiesbaai, wat van die koi uki (vuur) afgelei is.

Die vraag is nie dat tale onder die invloed van grotes verander nie, maar hoeveel, en hoe nodig? Moet ’n mens gelate aanvaar dat bestaande Afrikaanse woorde deur byvoorbeeld Engelse woorde vervang word sonder dat daar goeie redes soos makliker uitspraak is, of die oorgeneemde woorde korter is? Of Yslands dit nog doen, weet ek nie, maar toe nuwe voorwerpe soos rekenaars en vuurpyle op die toneel verskyn het, is nie bloot Engelse name daarvoor oorgeneem nie, maar ’n taalkommissie het in die ou Nordiese woordeskat na beskrywende woorde gaan soek van uitgesterf het, en hulle dan met die nuwe betekenisse laat herleef het.

Afrikaans ly nie net woordeskatgewys onder die werklike onnodige verdringing nie, maar kyk maar veral op die kuberruim hoe word spelreëls oorboord geslinger. Dis soms selfs moeilik om iets te lees omdat woorde wat aanmekaar geskryf moes wees, los geskryf is en ’n mens se onderbewuste eers ’n losstaande begrip vir die tweede deel gaan soek, en dan besef alles hoort bymekaar. Ek wonder dikwels of Afrikaans daardie stryd nie lankal verloor het nie. Selfs die koperplaat by ’n bekende Afrikaanse skool in  Bloemfontein lui: “Rekenaar Kamer”. By ’n kerk is ’n nuwe naambord vir die gemeente aangebring, en al het die oue en nuwe aanvanklik langs mekaar gestaan het dit die komitee wat daarby betrokke was lank gevat om uit te pluis wat verkeerd is toe ’n lidmaat uitwys dat daar ’n spelfout in die nuwe naambord is. “Bloemfontein Suid” met die oue, “Bloemfontein-Suid” langsaan. Ag, en kyk maar hoe dikwels word Suid-Afrika deesdae sonder die koppelteken geskryf.  

Ons jongste is outisties, en sukkel werklik om taal onder die knie te kry. Hy het homself egter heelwat Engels aangeleer. Ons het aanvanklik gemeen dit is omdat al sy helde soos Spiderman en Popeye Engels praat, maar het later besef dit het ook te make met die sagter klanke van Engels, omdat hy met die harde klanke soos die “r” en “g” in Afrikaans sukkel. Toe lees ek van ’n outistiese seun in Namibië wie se ma Afrikaans, en pa Duits is. Die kind praat Duits en Engels, maar raak kwaad as iemand met hom Afrikaans praat – waarskynlik ook omdat die harde “g” hom hinder.

Tale loop soms vreemde draaie. Ek lees nou die dag weer in ’n Afrikaanse ensiklopedie hoe die ou Rooihuide voor Columbus al koring geplant het. Die Engelse teks van corn (mielies) is net so vertaal. Onlangs was ’n “aardvark” (in Afrikaans tog ’n erdvark) in die nuus. Dit sal nogal ’n interessante storie uitmaak om te weet hoe dit gekom het dat die Engelse en die Yanks met die skynbaar Afrikaanse “aardvark” opgesaal bly sit het.

Herman Toerien

  • 1

Kommentaar

  • Ja-nee Herman, ek vind dit verbysterend dat ouens wat met gemak integrale en differensiaalvergelykings oplos nie kan uitwerk wanneer woorde aanmekaar geskryf moet word nie.  En as jy nou wil hê jou hare moet regop staan gaan kyk na die beskrywings by die boerepatentafdeling by Nampo.

    Wat die 'sagte' klanke van Engels betref weet ek nie so mooi nie.  Daar is wel Afrikaners wat die 'g' besonder hard uitspreek maar oor die algemeen is die klank nader aan die Duitse 'ch'.  Die Franse 'r' is oor die algemeen net so hard as die Afrikaanse 'g' behalwe nou vir iemand soos Edith Piaf wat die 'r' erg rol.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top