Die uitpluis van raaisels wat eenvoudig voorkom maar moeilik verklaarbaar is skyn jou kos te wees sien ek in jou brief van 28 deser. Hier's vir jou nog 'n paar; jou verklarings sal interessant wees.
- Dis 01h00, die lang wyser staan op die 12 en die korte op die 1. Teen die tyd wat die lang wyser tot by die 1 gevorder het, het die kort wyser tyd gehad om 'n entjie te vorder na 'n volgende posisie. Hierdie proses herhaal homself; elke keer wanneer die lang wyser tot by die vorige posisie van die kort wyser gevorder het, het die kort wyser tyd gehad om te vorder, weliswaar teen een twaalfde van die omwentelingspoed maar nogtans het hy tyd gehad om te vorder. En tog, na 'n sekere tyd (5.454545454545454... minute om taamlik presies te wees) weet ons het die lang wyser die korte ingehaal en gaan hy hom verby. Hoe verklaar jy dit?
- Hoekom het so baie Afrikaanse skole verdwyn?
- 'n Bal trek deur die lug en, sou tyd gaan stilstaan, sal daardie bal op 'n sekere plek in die lug stilstaan. Jy kan enige verdere tydstip kies wanneer die tyd moet gaan stilstaan en daardie bal is stasionêr in die lug op 'n sekere plek op daardie tydstip, maak nie saak hoe dig jy hierdie tydstippe langs mekaar inpak nie. So wanneer beweeg die bal? (want ons weet hy trek deur die lug en gaan iewers grondvat)
- Hoekom stuur Afrikaanse mense hulle kinders Engelse skole toe?
- Hoekom ruil 'n spieël links en regs om maar nie bo en onder nie?
- Wie of wat is 'n Afrikaner?
- Hoekom skryf die koerante vir weke oor 'n vrou wat sê sy hou nie eintlik van swartes nie maar noem slegs, indien enigsins, plaasmoorde?
- Hoekom kan kindertjies 'n Afrikaanse skool in 'n Engelse skool verander maar nie andersom nie?
- Hoekom dink RSG almal kan Engels praat maar hulle maak voorsiening vir gaste byvoorbeeld wat nie Afrikaans kan praat nie.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Hello Jan, ek probeer met:
1. Die oomblik dat die lang wyser die kort wyser verby gaan meet ons 'n eindige tyd en afstand. Sê maar X tussen die beginpunt (A) en die eindpunt (B). Die verdelings tussen A en B is oneindig, maar, maak nie saak hoeveel keer dit verdeel word nie, X is nie oneindig nie. Solank die lang wyser teen 'n konstante spoed beweeg moet hy X aflê.
Om dit te laat werk het moes ek aanvaar het dat die lang wyser wel die kort wyser verby gaan om X te merk as eindig. Ek het dit gedoen omdat jy my toestemming gegee het: "(5.454545454545454... sekondes om taamlik presies te wees)", maar is die syfer wat jy gee nie self oneindig nie? Maak so 'n syfer nie die merk van X onmoontlik nie? Jou vraag is nie soos wanneer Achilles en die skilpad hardloop teen mekaart oor 'n afstand wat vooraf bepaal is nie. Hier is die merk van X geen probleem nie.
3. My antwoord hier is nog flouer: Beweging is onmoontlik as tyd stilstaan. Die bal beweeg glad nie. Ons is nie besig om te kyk na 'n bewegende bal nie en kan nie aanvaar dat hy ooit sal grondvat nie, behalwe die tydstip (waar tyd stil staan) waar die bal raak aan die grond.
Die res van jou vrae is heeltemal te moeilik vir my en ek gaan nie eers probeer om nie vir jou 'n antwoord te gee nie.
Chris
Beste Jan Rap,
Ek wil nie jou speletjie met Heiden probeer bederf nie en daarom gaan ek net 'n antwoord sonder 'n verduideliking gee want ek weet jy sal goed weet hoe ek daarby uitkom. Vraag 1: Die lang wyser haal die korte presies na 5 min en 45/99 sekondes in. Vraag 5: Hierdie poging van my is 'n wilde raaiskoot !: As jou oë nie langs mekaar gesit het nie maar een bo die ander sou die spieël bo en onder omgekeer het en nie links en regs nie. As jy dus vier oë gehad het — twee langs mekaar en twee in die middel daarvan maar bo mekaar, behoort jou gevreet met 180° te swaai. Help maar asseblief as ek die bal mis geskop het.
Groete
Panda
Beste Jan Rap.
Jammer vir my tikfout. Die sekondes moet ook minute lees. Dus 5 minute en 45/99 van 'n minuut.
Groete
Panda
Jan Rap
Interessante vrae.
Die vraag wat my die meeste interesseer is : Wie of wat is ’n Afrikaner?
Ek beskou myself as ’n Afrikaner en sou dus ’n Afrikaner beskryf as ’n persoon wat van Suid-Afrika afkomstig is en Afrikaans praat. My definisie probeer so inklusief moontlik wees. Baie mense wat graag namens die Afrikaner praat sal natuurlik heeltemal van my verskil en my byvoorbeeld as gevolg van my geloofsoortuigings wou uitskryf uit die definisie van die Afrikaner. ’n Hoogs eksklusiewe definisie van die Afrikaners wat geloof, velkleur en nog ’n klomp ander besondere eienskappe uitsonder sal seker vir daardie ouens meer aanvaarbaar wees.
Ek sou graag vêrder oor die onderwerp wou debateer.
Groetnis
Thomas