Vir Heiden oor ’primitiewe siele’

  • 2

Dagsê Heiden

Ek lees hierdie sinsnede raak in jou briefie van 4 deser aan Jaco: " ...Die bybel ... geskryf deur en vir primitiewe siele van duisende jare gelede wat maar min geweet het."

Wat laat jou dink die mense van duisende jare gelede het min geweet? Gaan lees maar bietjie op oor Ötzi en hy het hier 5 of 6 duisend jaar gelede geleef; jy sal verbaas wees oor hoe gesofistikeerd die gemeenskap moes wees waarin hy gelewe het. Kyk byvoorbeeld hoe die antieke Grieke bewys het dat die wortel van 2 ’n irrasionele getal is en dit het hulle so 2000 jaar gelede al gedoen.

Neem ou geboue, die tempel van Karnak byvoorbeeld; dink jy mense wat min weet kon so-iets bou, of goed soos die piramides met hulle verstommende afmetings? Vat die Parthenon byvoorbeeld: Die buitenste kolomme, as jy nou die storie vanaf sy voorkant beskou, sit effens nader aan mekaar omdat lig van agter af deurkom en op die manier lyk die afstand tussen al die kolomme dieselfde. Die aksiale hartlyne van die kolomme sny almal op ’n punt 3 kilometer bo die aarde wat die illusie skep dat die gebou hoër is as wat hy werklik is. Die vloer is effens geboë anders sou dit lyk asof hy deursak en die kolomme se sye dy effens uit anders sou dit lyk asof hulle inplof. Dink aan die hangende tuine van Babel, die Romeine se waterkanale, hulle geboudienste (interne verwarming ens), die Arabiere se sterrekunde, die Sjinese se skepe en oorlogsmasjinerie ens ens, alles van duisende jare gelede en jy sal besef die ou-oumense was alles behalwe onkundig.

Wat jy ook nie kan sê nie is dat Kobus ’n ’bordeelbestuurder of daggahandelaar’ sou wees en dit omdat jy nie saamstem met wat hy sê nie. Dis mos nou die man speel in plaas van die bal. As jy dink hy praat snert sê hoekom, gee jou redes, staaf jou stellings anders spreek jy maar net ’n mening uit en dit gaan niemand van jou saak oortuig nie (want niemand gaan eers weet wat jou saak is nie).

Jy kan ook nie vir Jaco sê hy mors sy tyd nie want ander kan nou weer vir Kobus sê hy mors sý tyd en uiteindelik praat niemand met niemand nie want die ander party wil tog nie ingee nie en dan is SêNet en al die koerante se briewekolomme en redaksionele kommentare, alle kommunikasie om die waarheid te sê, poer in hulle glory.

Wat jy wél kan sê is net wat jy wil, solank jy dit net staaf.

Groetnis

Jan Rap

  • 2

Kommentaar

  • Jy het dit ongetwyfeld korrek oor die gesofistikeerdheid van ons voorouers van millenia gelede. Hulle was ons meerderes in terme van kuns, argitektuur, staatswetenskap, musiek, filosofie, letterkunde, e.d.m. Ons oorleef in die moderne wêreld op ‘n mengsel van tegnologiese vooruitgang en deur die kulturele kapitaal, wat ons voorouers opgebou het, te spandeer. Maar dit is tog opvallend dat nie een van die hoë kulture wat jy opnoem Christene (of Jode) was nie. Inteendeel, daar is ‘n perfekte korrelasie tussen die groei van die Christelike geloof en die ondergang van die Romeinse beskawing.

  • Jan, ekskuus, maar Heiden het nie geseg dat die mense van duisende jare gelede min geweet het nie. Sy stelling, soos ek dit verstaan, is bloot dat beide die ouens wat die Bybel geskryf het en die mense vir wie hulle dit geskryf het:

    (i) primitiewe siele was;

    (ii) duisende jare gelede geleef het; en

    (iii) min geweet het.

    Ek vermoed die punt wat Heiden probeer maak, is dat mens die Bybel slegs ernstig kan opneem as jy soos 'n Bronstydse bokwagter dink. En daarmee verwys hy straks na 'n bereidwilligheid om aan stellings en idees vas te klou, selfs waar sodanige stellings en idees bots met latere wetenskaplike ontdekkings. Miskien verwys hy na ouens wat glo die aarde het in ses dae tot stand gekom - daai soort van ding?   

     

     

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top