Hans, jy't weer die kat aan die gat beet. Waar sou ek nou Engels verpes? Ek het dan juis gesê omtrent al elf my boeke is Engels. Van my beste vriende is Engels, van my beste kollegas is Engels en my ma se mense het in 1820 hier aangekom. Met ’n skip. Van Engeland af. Oukei, hulle was nou wel Skotte maar het teen daardie tyd nie meer Gaelic gepraat nie.
Wat ek wel verpes is die Afrikaanssprekende se slap houding teenoor sy eie taal; die feit dat hy dit heeltemal in orde vind om alles in Engels te doen en te dink dat die taal sal oorleef as hy dit by die huis praat, en daarin droom. Soos Ton Vosloo gesê het, as ’n taal nie kommersieel aangewend word nie gaan hy vir seker sterf.
Mens kan sien hoe die taal agteruitgaan deur maar net na die briewe hier te kyk. Kyk maar hoe min het die basiese begrip van “een begrip een woord” onder die knie; hulle kry dit bloot net nie reg nie. Jy byvoorbeeld praat van ’n “hipokraat”, wat de moer is dit? Bedoel jy dalk “huigelaar”?
Jan Rap

