Beste FC Boot,
Jy sou graag wou hê dat ek uitrafel, maar ek kan jou verseker met die wetenskap as basis, is daar maar min hoop voor. Gelukkig maak ek nie op die Bybel staat nie, want dan sou ek beslis uitgerafel het, soos jy.
Jy maak heeltemal verkeerde aannames wat die wetenskap betref. Die doel van die wetenskap is nie om enigiets te bewys nie. (Ek moes dit seker al male sonder tal aan jou verduidelik het.) Die doel van die wetenskap is om ONDERSOEK in te stel na dit wat onbekend is. Daarna volg bewyse om hierdie ondersoek te toets aan die waarheid. Daar is baie dinge wat die mens nie weet nie. Die wetenskap ontdek dit en verklaar dit sodat dit deur die mens verstaan kan word. Dit is onmoontlik (tot dusver) om te weet wat voor die totstandkoming van die heelal was. Die wetenskaplikes is eerlik en sê hulle weet nie. Die Christene is oneerlik en sê hulle weet. Dis glo nou waar die Bybel inkom.
Robert Jastrow is ʼn bekende kreasionis en gelowige in Intelligent Design. Die mens is al so geïndoktrineer dat hy dink alles wat bestaan, deur ʼn intelligente wese gemaak moes gewees het. Daarom dink gelowiges soos Jastrow dat die heelal so ingewikkeld is, dat dit alleenlik deur ʼn intelligente wese geskep is. Hierdie soort denke is al ʼn hele klompie kere in Amerikaanse howe getoets, en telkens is bevind dat dit onwetenskaplik is. Jy hou mos daarvan om te google. Gaan google bietjie die Doversaak, en word wys.
Ek kan elkeen van Jastrow se kwotasies aan flarde trek, maar spasie ontbreek.
Groete,
Angus


Kommentaar
Beste FC Boot
Angus se standpunt as hy sê: "Dit is onmoontlik (tot dusver) om te weet wat voor die totstandkoming van die heelal was. Die wetenskaplikes is eerlik en sê hulle weet nie." is in die kol en in lyn met die Wetenskaplike standpunt.
In die tydskrif Science is die wetenskaplike standpunt in die verband duidelik as volg gedokumenteer. "Although the big bang theory is famous, it's also widely misunderstood: A common misperception about the theory is that it describes the origin of the universe. That's not quite right. The big bang is an attempt to explain how the universe developed from a very tiny, dense state into what it is today. It doesn't attempt to explain what initiated the creation of the universe, or what came before the big bang or what lies outside the universe.”
Groete
Panda
Beste Angus
Ek weet nie of dit die moeite werd is om jou te antwoord nie, want iemand wat so minagtend soos jy met sake omgaan wat vir ander kosbaar is verdien nie ’n antwoord nie. Ek verwys na jou kommentaar onder New Atheism waarin jy ondermeer sê op 28 November: “Dit maak saak of God bestaan of nie. As hy wel bestaan, is dit tyd dat Superman die mannetjie in die bek loop ruk.
As jy die opmerking gemaak het tov sekere ander gelowe sou ’n ekstreme nou planne beraam om jou kop van jou skouers te verwyder.
Wanneer ek sê Jy is reeds aan flarde, verwys ek wat jy beskryf as 'Intelligent Design' . Intelligensie is op sigself 'n menslike konstruk, want intelligensie is al donkiejare gelede in die ‘Introduction to Psychology’ beskryf as: “A general term referring to the overall capacity for learning and problem solving.”
Dit sou dan impliseer dat die Skepper soos ’n mens die skepping tot stand gebring het deur eers deur proef en waarneming probleme op te los en daaruit te leer alvorens Hy oorgegaan het tot die skepping van ons heelal. Hoe absurd sou so iets nie wees nie?
Die probleem is die Skepper is nie ’n mens nie en menslike konstrukte is dus nie op Hom van toepassing is nie. Jy praat van “Die mens is al so geïndoktrineer dat hy dink alles wat bestaan, deur ʼn intelligente wese gemaak moes gewees het.” Maar jy is eintlik die een wat geïndoktrineer is, want jy dink aan die Skepper in menslike terme.
Nou praat jy van ’n wetenskaplike metode as ’n ondersoek na die onbekende wat weereens ’n foutiewe stelling in sigself is.
Die volgende dink ek som dit beter op:
“Die wetenskaplike metode is die proses waardeur ’n idee (hipotese) op ’n beheerde, herhaalbare manier getoets word vir geldigheid. Die wetenskaplike metode kan opgesom word deur die volgende proses:
• Definieer ’n vraag wat deur die teorie (hipotese) beantwoord moet word.
• Observeer (Versamel inligting en bronne van inligting).
• Herhaal die volgende stappe om die hipotese te toets en sodoende die akkuraatheid van die hipotese te bepaal:
• Vorm ’n hipotese wat die teorie verduidelik.
• Toets die hipotese deur middel van ’n eksperiment en deur die versameling van data – op ’n herhaalbare manier.
• Analiseer die data.
• Interpreteer die data en vorm gevolgtrekkings wat dien as vertrekpunt vir ’n volgende hipotese.
• Publiseer die resultate.
• Hertoets (Dikwels gedoen deur ander wetenskaplikes).”
Jy kan nie na iets wat onbekend is soek nie, jy moet darem ’n idee hê van wat dit is waarna jy soek . Uit jou ondersoek mag daar dalk dinge na vore kom wat voorheen aan jou onbekend was.
Nou gaan jy verder en hou wetenskaplikes voor as eerlike mense en Christene as oneerlike mense. Dit is weereens ’n bewys dat jy geen benul het van wat die Evangelie beteken wat in die Bybel aan ons bekend gestel is nie.
Nou maak jy verder die volgende ongegronde afleiding wanneer jy skryf:
“Dit is onmoontlik (tot dusver) om te weet wat voor die totstandkoming van die heelal was. Die wetenskaplikes is eerlik en sê hulle weet nie. Die Christene is oneerlik en sê hulle weet. Dis glo nou waar die Bybel inkom.”
Wat die Bybel leer is dat voordat ons heelal tot stand gekom het en al die dimensies waaraan ons gewoond is, was daar ’n dimensie waarin dit nie bestaan het nie.
’n Tydlose dimensie wat altyd daar was,’n oneindigheid, waarin die God wat sigself gedeeltelik in die Bybel openbaar as die ‘Oorsaak’ waardeur alles tot stand gekom het, dus ook die mens, ewig woonagtig was. ’n Oneindige in ’n oneindigheid. Dit moet ook redelik duidelik wees dat ons heelal uitmekaar kan dy omdat dit ook in ’n oneindigheid bestaan.
Jy is self oneerlik in jou opmerking want die Bybel maak dit tog duidelik in Kor13 dat ons God nooit ten volle sal ken nie en dit sluit ook in sy besluitneming tov die Skepping. Die Bybel vertel ons dus nie hoe alles gebeur het nie, dit lê in die veld van die wetenskap. Dit sê net in talle teksverse wat die Oorsaak was.
Ek is nie ’n wetenskaplike nie maar verstaan goed dat as al die faktore wat nodig is vir lewe op aarde in ag geneem word, die kans dat alles net toevallig gebeur het, feitlik nie haalbaar is nie. Die volgende is al in die opsig deur die wetenskap geïdentifiseer. Ek gee dit maar in Engels, om vertalingsfoute te vermy. Omdat jy jou beroep op die wetenskap behoort jy die belangrikheid daarvan te verstaan en aan die lesers te kan verduidelik
1. Proximity to the Sun allowing liquid water.
2. The size and composition of Earth as a Rocky Planet
3. Stability of Earth's atmosphere and chemical composition.
4. The Magnetosphere.
5. Consistency of temperatures on Earth.
6. Diversity of Life.
7. Earth's moon.
8. Stability of the Sun as a star.
9. The Ozone Layer.
10. The amount of water on earth.
11. Jupiter as a Solar System vacuum cleaner for asteroids, comets, and meteors.
12. The stability of the solar system.
13. Our location in the Milky Way Galaxy
14. The Stability of the Galaxy.
15. The Stability of our Quantum Universe.
Wetenskaplikes wat die waarskynlikheid probeer bereken het, het tot die slotsom gekom dat die kans dat alles toevallig is, so klein is as die kans wat jy sou hê om ’n muntstuk te vind wat effens van al die ander verskil, nadat jy die hele Amerika vol muntstukke gepak het en ’n berg tot by die maan gebou het.
Verder skryf jy: “Ek kan elkeen van Jastrow se kwotasies aan flarde trek, maar spasie ontbreek.”
Kom ons kyk na een wat hy gesê het:
“Consider the enormity of the problem. Science has proved that the universe exploded into being at a certain moment. It asks: What cause produced this effect? Who or what put the matter or energy into the universe? And science cannot answer these questions, because, according to the astronomers, in the first moments of its existence the Universe was compressed to an extraordinary degree, and consumed by the heat of a fire beyond human imagination. The shock of that instant must have destroyed every particle of evidence that could have yielded a clue to the cause of the great explosion.”
― Robert Jastrow, The Enchanted Loom
Jy erken self in jou skrywe dat “Dit is onmoontlik (tot dusver) om te weet wat voor die totstandkoming van die heelal was. Die wetenskaplikes is eerlik en sê hulle weet nie”.
Dit is mos presies wat Jastrow op ’n ander manier sê. In die in die aanhaling hierbo praat hy van “who or what”. Hy vra dus wat die oorsaak was. Nou hoe gaan jy dit nou aan flarde trek?
Die mens is die enigste primaat wat oor die vermoë beskik om vrae te vra en antwoorde te soek. Maar dit neem nie die feit weg dat ons tot stand gekom het agv ’n wonderwerk wat biljoene jare gelede plaasgevind het en waar al die faktore hierbo genoem daartoe bygedra het.
Die mens is dus ’n gevolg en nie ’n oorsaak nie. Die probleem is nou dat die wetenskap gebruik word om mens, wat ’n tydelike en sterflik wese is, bo die Oorsaak, die “Ek is wat Ek is’ soos in die Bybel geopenbaar te plaas en sigself tot godstatus verhef.
Baie het al probeer en is daar talle voorbeelde daarvan in die Bybel, maar nie een het dit oorleef nie. Moenie dat wetenskap jou ook in die opsig mislei nie.
Mag dit met jou goed gaan.
Beste F C Boot,
Weer eens, as jy tik hier op SêNet, hang jou onderrok meters ver uit.
Die bekende kan nie ontdek word nie, dis klaar gedoen. Dis die onbekende wat ontdek moet word. As dit nie so was nie, het ons almal nog in bome rondgeswaai en kokosneute met klippe oopgebreek.
Ek twyfel of jy weet wat jy gegoogle het oor die wetenskaplike metode van ondersoek, want nadat jy dit mooi netjies getik het, kom jy met die onsinnigheid dat ʼn mens nie kan soek na iets wat onbekend is nie. Die feit van die saak is, deur ondersoek kom jy op die onbekende af. Soos jý dit wil hê en insien, is presies hoe die geloof werk: jy kry eers die antwoord, en dan probeer jy die antwoord met geloof bewys. Jou aanname is dat daar ʼn god is, en dan bewys jy dit deur te glo dat daar ʼn god is. Jy neem sommer aan dat daar ʼn sondvloed was, en dan word naarstiglik na bewyse daarvoor gesoek.
Ek kan sommer sien jy weet absoluut niks van ‘Intelligent Design’ nie. Dis nie ʼn term wat ek of enige ander ateïs geskep het nie. Dit is ʼn term wat geskep is deur Christen Kreasioniste, wat dit as wetenskap in Amerikaanse skole wou invoer. Alhoewel jy g'n snars verstaan nie, is jy tog onbewus ʼn aanhanger is van ID. Deur so behep te wees met Jastrow se aanhalings bewys jy dit, want hy is ʼn sterk aanhanger daarvan. Hy vra self “Who or what put the matter or energy into the universe?” Met ander woorde, hy kan nie aanvaar dat die ontstaan van die heelal ʼn natuurlike gebeure is nie. Hy is so geïndoktrineer dat hy intelligensie agter die bestaan van alles sien. Intelligent Design wil dit dan ook hê dat, omdat die wetenskap dan nie die antwoord sou hê nie, dit ʼn bewys is dat God die intelligente wese is wat die oorsaak en skepper is van die heelal.
Dit is so dat die 15 punte wat jy gegoogle het, wys op die onwaarskynlike van lewe op aarde, maar dit het gebeur anders sou ons nie die ontstaan van lewe op aarde kon bespreek het nie. Die aarde verkeer in hierdie Goue Lokkies-posisie, maar dis geen bewys dat daar ʼn God is nie. Dis egter tipies van die gelowige se redenasie: dit wat nie verstaan kan word nie, kry God die skuld voor.
Natuurlik is God ʼn antropomorfologiese skepping van die mens, hoe dan anders? God is dan die vader en Jesus sy seun. Dis mos vanselfsprekend dat God ʼn mens moet wees. Êrens is daar ook ʼn heilige gees, wat nou wel ʼn sak wind kon gewees het, maar darem! Indien sprinkane die dominerende spesie op aarde was, sou God die vorm van ʼn sprinkaan aangeneem het.
Dis maar ʼn grappie wat ek gemaak het dat Superman God moet gaan opdons, maar dan moet jy onthou, "Ful ofte in game a sooth I have herd saye!". Jou dreigement om my kop van my skouers af te haal, is maar net ʼn bewys hoe gevaarlik geloof vir die mensdom is. As die kerk in beheer van die staat was, sou jy jou dreigement sonder vrees kon uitvoer. Ek voel nou soos Salman Rushdie.
Groete
Angus
LOL Angus
Jy beweeg van die bekende na die onbekende, dws as jy ten minste 'n idee het. Of postuleer jy 'ek gaan die onbekende ontdek' sonder 'n vertrekpunt?
Nou stry jy eintlik met jouself want jy skryf: "Die feit van die saak is, deur ondersoek kom jy op die onbekende af. Soos jý dit wil hê en insien, is presies hoe die geloof werk: jy kry eers die antwoord, en dan probeer jy die antwoord met geloof bewys. Jou aanname is dat daar ʼn god is, en dan bewys jy dit deur te glo dat daar ʼn god is. Jy neem sommer aan dat daar ʼn sondvloed was, en dan word naarstiglik na bewyse daarvoor gesoek."
Natuurlik was daar groot vloede maar die aarde waarvan gepraat word is mos nie die aardbol nie, maar wel dit wat aan die mens bekend was. Daar kon mos nooit droë grond ontstaan het het as die water nie kon wegvloei nie. Trouens daar is maar sowat drie persent vars water op die planeet en die sou versout gewees het en die aarde brak en onvrugbaar. Sien jy hoe die wetenskap kan help om verhale in hul regte konteks en agtergrond te lees.
Nee geloof werk nie so nie. Geloof is 'n genadegawe en 'n vertroue in beloftes vervat in die Bybel. Verder fouteer jy met jou stelling dat ek 'n onbewustelikte aanhanger van ID is. As jy dit glo het jy geen benul van wat intelligensie is nie. Wat in die Amerikaanse skole onderrig word het ek vrede mee. Die aanhangers van ID doen die Christelike geloof meer skade as goed.
Verder verstaan die ook nie vir Jastrow se aanhaling nie. As hy presies geweet het
sou hy mos nie gepraat het van “What cause produced this effect? Who or what put the matter or energy into the universe?"
Nou maak jy verder die volgende gevolgtrekking:
"Natuurlik is God ʼn antropomorfologiese skepping van die mens, hoe dan anders? God is dan die vader en Jesus sy seun. Dis mos vanselfsprekend dat God ʼn mens moet wees."
Indien God die Oorsaak is waardeur alles ontstaan het kan Hy mos onmoontlik 'n mens wees, want oorsake kom voor gevolge.
Dit gaan mos oor waarskynlikheid wanneer die 15 punte se moontlikheid van toevalligheid ondersoek word - dit probeer dus soos Jastrow die vraag van: “What cause produced this effect? Who or what put the matter or energy into the universe?" te beantwoord. Toevallig of nie, wat is die waarskynlikheid?
Jy lees ook maar sleg wanneer jy skryf: "Jou dreigement om my kop van my skouers af te haal, is maar net ʼn bewys hoe gevaarlik geloof vir die mensdom is. As die kerk in beheer van die staat was, sou jy jou dreigement sonder vrees kon uitvoer. Ek voel nou soos Salman Rushdie."
EK skryf: "As jy die opmerking gemaak het tov sekere ander gelowe sou ’n ekstreme nou planne beraam om jou kop van jou skouers te verwyder." Daarmee distansieer ek mos die Christelike geloof van die ander gelowe.
Om dit duidelik te maak, Christene gaan nie jou bloed soek nie, maar daar is ekstremiste in ander gelowe wat wel tot sulke optrede in staat is.
So as jy nou regtig wil sê: “Ek voel nou soos Salman Rushdie” moet jy jou kommentaar rig aan die ander gelowiges.
LOL jy begin met "Weer eens, as jy tik hier op SêNet, hang jou onderrok meters ver uit". Ten miste is daar 'n onderrok – jy loop sommer kaalgat hier rond wat weerspieël word in jou kommentaar.
Groete.
Beste FC Boot,
Die meeste ontdekkings het toevallig gebeur. Toe Wilhelm Röntgen met lig gewerk het, het hy toevallig strale ontdek wat deur alles dring. Hy het nie geweet wat dit is nie, vandaar die naam X-strale. Toe Columbus Indië wou bereik deur wes te seil, het hy toevallig Amerika ontdek. Miskien raak jy effens verward met die soektog na iets bekends, soos die ontdekking van goud aan die Witwatersrand. Selfs sulke ontdekkings kan ook toevallig wees, soos die ontdekking van diamante in Suid-Afrika. Ek doen nie sulke lelike dinge as om te postuleer nie. Ek toets dinge oor en oor, en maak seker dat dit nie perdedrolle is wat vir vye verkoop word nie, soos bv geloof.
Soos gewoonlik, lees jy, maar jy verstaan nie mooi nie. Ek het spesifiek die sondvloed genoem, nie vloede nie. Miskien moet jy vir jou ʼn goeie woordeboek kry. Met sondvloed word bedoel die groot vloed soos in Die Bybel, Genesis 7, beskryf word. Die storie van Noag, weet jy?
As jy nie ʼn aanhanger van Intelligente Ontwerp is nie, dan moet ek jou geluk wens, want dan is jy op die regte pad. Dan besef jy ook, soos alle ateïste, dat die totstandkoming van die heelal op ʼn natuurlike wyse geskied het, sonder die inmenging van ʼn god. As jy egter glo dat God van die Bybel of ʼn god daarvoor verantwoordelik was, dan is jy ʼn aanhanger van ID.
As Jastrow vra: “What cause produced this effect? Who or what put the matter or energy into the universe?" dan is dit ʼn retoriese vraag. Met retoriese vraag word bedoel dis ʼn vraag waarop geen antwoord verwag word nie, want die antwoord is vanselfsprekend: Intelligent Designer.
Weer eens moet jy maar êrens ʼn woordeboek gaan leen. Met antropomorfologiese skepping bedoel ek dat die mens sy god voorstel as ʼn mens, nie dat hy ʼn mens is nie. (Eintlik bestaan hy glad nie.) Hy dink aan hom in terme van menswees, daarom is hy God die Vader. Alle gode deur al die eeue heen, is as menslike wesens gesien. As ons perde was, sou god die groot goue hings gewees het.
Jy onderskat die Christene nou heeltemal; natuurlik soek hulle my bloed. Hulle het al gedreig om hierdie ateïs te teer en te veer, sy huis af te brand, en vele meer. Jare terug het ʼn ouderling wat my besoek het, gesê dat ʼn goeie drag slae my sal regruk. Nie so baie honderde jare gelede nie, sou ek as ketter verbrand kon gewees het. Nie so baie jare gelede nie, het Christene mekaar nog vermoor om te bewys wie die grootste Christen is. Moslem en Christen is maar dieselfde geloof, so hoe jy ook al probeer met jou distansiëring, dit gaan nie werk nie.
Nee, ek bly maar ver weg van geloof; dis bleddie gevaarlik.
Groete,
Angus
Beste Angus
In al jou voorbeelde in jou eerste paragraaf is dit van ‘die bekende na die onbekende’ Wilhelm Röntgen met lig gewerk die bekende gewerk en toe die onbekende ontdek. Nee Columbus het nie Amerika ontdek nie, dit is lank voor sy tyd ontdek. En die ouens wat die geskiedenis sê dit ontdek het het, het dit ook nie ontdek nie, want toe hul daaraan kom was dit alreeds bewoon.
Die ontdekking van goud en diamante sou ek nie as wetenskaplike ontdekkings voorstel nie.
Die Sondvloedverhaal is nie onbekend in die Ou Nabye Ooste. Daar is talle verhale. Die Bybelverhaal mag dalk ’n teenvoeter wees vir die verhale, want Noag en sy mense word nie onsterflik nie soos in die ander verhale, en was in die Noag-verhaal die oorsprong van die vloed die sonde van die mens en nie oorbevolking nie.
Daar is geen bewys dat dit ’n wêreldwye vloed was nie. Verder skryf jy: ’Dan besef jy ook, soos alle ateïste, dat die totstandkoming van die heelal op ʼn natuurlike wyse geskied het, sonder die inmenging van ʼn god’. Dit is natuurlik nie waar nie, want die natuur waardeur dit op ’n natuurlike wyse moes plaasgevind het, het nie bestaan nie en dus geen rol daarin gespeel nie. Die natuur het eers ontstaan na die gebeurtenis biljoene jare gelede.
Daarom is Jastrow se vraag nie ’n retoriese vraag nie, maar wel ’n vraag na wat lê agter die Oerknal. Die oerknal insigself is een van baie teorieë, maar tot op datum die mees populêre en mees aanvaarde. Die Bybel beantwoord die vraag gedeeltelik. Die oorsaak wat gelei het tot die Oerknal moet in jou bekrompe denke intelligent wees, nieteenstaande die feit dat ek jou reeds daarop gewys het:
Dat Intelligensie is: ’A general term referring to the overall capacity for learning and problem solving.’ Intelligensie is meetbaar en ‘n produk van menslike denke. Die ontstaan van ons heelal wys egter op iets anders, wat totaal onverklaarbaar is en wat beslis nie gesukkel het soos ’n mens om alles inwerking te stel nie.
Jy skryf: "Met antropomorfologiese skepping bedoel ek dat die mens sy god voorstel as ʼn mens, nie dat hy ʼn mens is nie.” Dit is suiwer ateïstiese denke wat daarop gemik is om alles tot op menslike vlak te reduseer om dan soos Job ’n eg menslike gesprek te voer. My woordeboek van keuse is die ‘the shorter Oxford English dictionary on historical principles’.
Die gebruik van byvoeglike naamwoorde om God te beskryf is juis kenmerkend van die mens se onvermoë om te verstaan met Wie hy werklik ingesprek wil tree. Die Jesus wat jy verwerp en sê nie bestaan nie, het egter die posisie totaal verander.
Jy lewe saam met die Christene en ouderling wat jou bloed soek in totale onkunde. Verder verraai jy jou onkunde verder deur te sê dat: ’Moslem en Christen is maar dieselfde geloof,’ en stel voor dat jy eers die oorsprong van die Christelike geloof en die Moslemgeloof bestudeer voordat jy sulke ongegronde uitsprake maak. Ek sou jou graag ’n geseende kersfees wou toewens, wat egter uit jou ongeloof, nie moontlik is nie en volstaan dus met ’n wens dat jy hierdie feestyd sal geniet
Groete.
So van die os op die jas: Daar was nie 'n oerknal nie; dit was 'n oerspuit. Energie is vanaf 'n hoër dimensie (4de, 5de, 6de, wat ookal) ingespuit in ons driedimensionele wêreld. 'n Analoog is 'n straaltjie ink wat tap op 'n stuk papier - die ink begin as 'n kolletjie en dy uit. Vir 'n tweedimensionele wese kom dit voor asof ekstra materie (ink) vanuit die niet verskyn en net aanhou groei of uitdy.
Oloff het my hierdie goed vertel, Dis die vresen wat vir my kom kuier as ek en hond daar onder die priëel sit en ontspan. Sy naam is nie regtig Oloff nie; sy regte naam kan nie deur ons aardlinge uitgespreek word nie en om dit vir my maklik te maak het hy gereken ek kan hom maar Oloff noem, die naam wat hy op die botteltjie sien wat daar langs my onder die priëel staan.
Nota: Ek weet papier en 'n straaltjie ink is ook driedimensioneel maar vir verduidelingsdoeleindes neem aan die straaltjie ink is eendimensioneel en beskou net die boonste vlak van die papier, 'n tweedimensionele ruimte dus.
Beste Jan,
Of daar nou 'n oerknal was of nie, Prieel spel 'n mens sonder 'n deelteken. Dit het alles met lettergreepverdeling en klinkers te make.
Groete,
Angus
Beste Jan
Volledigheidshalwe: prieel - priële; dieet - diëte; finansieel - finansiële.
Groete,
Angus
A, nou onthou ek. Lyk my die taalonnie het my nie genoeg slae gegee nie. Dankie; ek sal nie weer daardie soort fout maak nie (hopelik).
Beste Jan Rap
In hierdie gesprek gaan dit nie eintlik oor of dit 'n oerknal-oerspuit is wat gelei het tot die ontstaan van die heelal waarin ons planeet geleë is nie, maar wel oor wat die oorsaak was wat daartoe gelei het.
Vra vir Olaf om dit vir jou op te los. Wat ook al sy antwoord is mense het as gevolg daarvan ontstaan en kon dus nie die oorsaak daarvan wees nie. Daar is alternatiewe vir die Big bang soos:
http://www.infoplease.com/cig/theories-universe/big-bang-alternative.html
Beste FC Boot,
Jou hele kommentaar hierbo wys dat jy ʼn yslike probleem het met die betekenis van woorde. My raad aan jou is, kry vir jou goeie woordeboeke, en dan slaan jy die betekenisse daarvan na, al dink jy dat jy weet.
Jou skrywe bewys dat jy geen benul het wat ‘ontdek’ beteken nie. Volgens die HAT het dit twee betekenismomente: Te wete kom van iets wat bestaan bv Columbus het Amerika ontdek. (Die feit dat daar alreeds bewoners in Amerika was, gee die Europeërs en vir Columbus nog nie die kennis van die bestaan daarvan nie.) Dan beteken dit ook: kry, iets vind wat verborge is, soos bv Röntgen het X-strale ontdek. (Of hy toevallig daarop afgekom het, of doelbewus daarna gesoek het, maak nie saak nie.)
Die woord ‘sondvloed’ verwys spesifiek na die verhaal in die Bybel, nie na ander vloedverhale nie.
Dan verwar jy die woord ‘natuurlik’ soos ek dit gebruik het, met die woord ‘natuur’. Die heelal het op ʼn natuurlike wyse tot stand gekom, maw nie op ʼn bonatuurlike wyse, soos met die ingryping van God nie. ‘Natuur’ het te make met die plante en diere op aarde.
Dan weet jy ook nie wat ʼn retoriese vraag is nie. Dis ʼn vraag waarop geen antwoord verwag word nie, want dit gee die antwoord. As Jastrow vra wie die heelal geskep het, wil hy nie ʼn antwoord daarop hê nie, want daarmee bedoel hy dat God die heelal geskep het. Ek is juis na ʼn Kersfeesdiens toe gesleep deur kuiermense en daar sê Dominee ewe teatraal: “En wie het aan die kruishout gesterwe vir ons sonde?” Hy het nie verwag dat iemand moes opspring met die antwoord nie, want die antwoord was in die vraag.
Ongelukkig gryp jy na ʼn woordeboek wanneer dit vir jou nutteloos sal wees. ‘Intelligent Design’ kan jy my maar glo, is soos ek alreeds aan jou verduidelik het. Dit is ʼn teologiese konsep waarvolgens daar intelligensie agter elke skepping is. Hierdie intelligente wese is dan God wat verantwoordelik is vir die skepping van die heelal. Aanhangers hiervan wou dit as skoolvak naas wetenskap invoer in Amerika, maar omdat dit staat maak op die ingryping van God, wat nie bewys kan word nie, is dit in talle hofsake verwerp.
As jou ‘the shorter Oxford English dictionary on historical principles’ beweer dat ‘antropomorfologies” beteken “Dit is suiwer ateïstiese denke wat daarop gemik is om alles tot op menslike vlak te reduseer om dan soos Job ’n eg menslike gesprek te voer”, dan moet jy dit onmiddellik wegsmyt, want dan het daar baie suurlemoensap deurgeloop. Kyk voor in hierdie woordeboek. Heel waarskynlik staan daar ”Made in China”. Woorde het hulle oorsprong in ander tale. Die HAT verduidelik die voorvoegsel ‘antropo-‘ soos volg: Mens [Grieks anthropos, mens]. As ek sê God is ʼn antropomorfologiese skepping, het dit niks met ateïsme te make nie. Gaan vra maar vir elke gelowige hoe hy God voorstel, en hy sal vir jou sê hy is ʼn man. Dit kan ook nie anders nie, want hy word dan aangespreek met “ons Vader”, hy het Maria bevrug en sy het God se seun, Jesus gebaar. Geen gelowige sal aan God dink as ʼn wolk, of mistigheid, of ʼn sprinkaan, of ʼn olifant nie. Slegs oervolkere het hulle gode voorgestel as diere, soos bv die Khoi.
Of jy dit nou wil glo of nie, die Judaïsme, die Christendom en Islam is sustersgelowe, of Abraham-gelowe. Gaan lees maar die Koran; die Bybelstories kom ook daarin voor. Al verskil tussen Islam en Christen is dat die Christen God en Jesus aanbid, terwyl die Islamiet vir Allah aanbid met Mohammed as sy profeet. Vir Islam was Jesus ook ʼn profeet.
Voorspoedige 2017 vir jou. ʼn Goeie Nuwejaarsvoorneme sal wees om vir jou goeie woordeboeke aan te skaf.
Groete,
Angus
Beste Angus
Jy begin jou kommentaar met:
“Jou hele kommentaar hierbo wys dat jy ʼn yslike probleem het met die betekenis van woorde. My raad aan jou is, kry vir jou goeie woordeboeke, en dan slaan jy die betekenisse daarvan na, al dink jy dat jy weet.”
En dit is presies wat jou probleem is. Toe Columbus kastig vir Amerika ontdek wat reeds ontdek is deur die eerste mense wat die landbrug tussen die kontinente oorgesteek het, het hy iets ontdek wat mense derduisende jare voor hom reeds geweet het, nl daar is nog ander kontinente. Nou al wat Columbus bewys het, is hoe gebrekkig die Europeërs se kennis daaromtrent was, amper soos jou Bybelkennis, nieteenstaande dat jy spog met 23 Bybels.
Die Oxford Dictionary on historical principles ook in verkorte form is seker een van die beste woordeboeke in die wêreld. Daar dra die woord ‘discover’ die volgende betekenis na sy Latynse oorsprong: “To remove the covering from”, “to disclose or expose to view”. Toe Columbus dus Amerika “ontdek” het, het daar skille van sy oë afgeval en het hy seker opgewonde uitgeroep: “goeie genugtig manne ek het nie geweet daar is nog ander kontinente ook nie!”
Nou is dit nou eenmaal in die wetenskap so dat as jy deur die wetenskap iets ontdek, waarvan die bestaan aan jou voor die ontdekking onbekend was dan beteken dit net dit. Die wetenskap is dus in 'n neutedop een groot ontdekkingsreis, want “science beteken in sy oorsprong “the state or fact of knowing”. In ’n stadium het jy gesê Christene is oneerlik en ateïste is eerlik, want ons gee nie voor dat ons weet wat die oorsaak was wat gelei het tot die ontstaan van die heelal. Nou sê jy alles het op ’n natuurlike wyse plaasgevind, hoe weet jy dit?
Nee die heelal het nie op 'n natuurlike wyse tot stand gekom nie, want as dit so was sou die mens kon verduidelik wat daartoe aanleiding gegee het.
Jy het geen benul van die begrip 'intelligensie' nie. Natuurlik het dit alles met ateïsme te make, want 'n “Atheist is one who denies or disbelieves the existence of a God”.
Dit is dus ongelowiges soos jy wat met sulke verduidelikings voor die dag kom. Jy verstaan ook waarom gelowige mense al was hul ook in ballingskap altyd wanneer hul in gesprek tree met ongelowiges hul verhale ook oor die sondvloed sal weerlê.
Ek het van te vore gesê dat jy uitrafel in hierdie gesprek en jou antwoord bewys dit weereens. Die feit dat Jesus in 'n menslike vorm tussen ons kom woon het maak nie sy oorsprong tot niet nie. Dit behoort baie duidelik uit een van jou 23 Bybels te wees.
Jou 23 Bybels help jou niks want dit lyk my maar jy kort 'n ander Bybel, want dit word duidelik dat jy niks wys word uit jou 23 Bybels nie. Die Boodskap tesame met die Bybel A-Z kan net vir jou 'n goeie begin wees.
Nee dit is nie sustergelowe nie, maar wel openbaringsgelowe wat iets probeer vertel van dit waarmee jy worstel. Ek het die Koran gelees totdat iemand dit geleen het om nooit weer terug te besorg nie.
Die Moslemgeloof het in teenstelling met die Christelike en Joodse geloof ’n geweldadige begin. Lees gerus Mohammed se geskiedenis. Nee die Oxford Dictionary het lank voor die woordeboek wat jy gebruik bestaan. Uit die Bybel is dit duidelik dat jou gedagtegang ’n ateïstiese gedagtegang is.
In jou ateïstiese denke is God ’n man. Mense het eers ontstaan nadat daar ’n gebeurtenis biljoene jare gelede plaasgevind het - die mens is dus ’n gevolg en nie die oorsaak van die gebeurtenis nie. Maar dit lyk my jy wil op grond van die wetenskap dit omdraai.
Dit is duidelik uit die Bybel dat niemand God kan aanskou en bly lewe nie. Lees Moses se ontmoeting.
Die feit dat mense eg menslike terme gebruik om te kommunikeer in gebed en daartoe in staat is is juis, ’n bewys hoe ver Jesus afgedaal het om die Evangelie op die mens se vlak te openbaar en openbaring daarvan is van die onuitspreeklike liefde en genade wat slegs in Jesus Christus te vinde is.
Dankie vir jou goeie wense my bede vir jou is dat die woord “discover” ook vir jou sover dit die Evangelie aanbetref die betekenis sal dra van: “To remove the covering from”, “to disclose or expose to view” en jy Christus in jou lewe sal vind.
Lekker dag.