Op elke aksie volg daar ’n reaksie

  • 0

Ek bly in die Vaaldriehoek. Meer Afrikaans en Afrikaner as wat jy daar kry, sal jy nie elders kry nie. Ek beweeg daagliks ook onder die sout van Afrikanerdom, dws die Vrystaatse boere as deel van my werk. Ek besit ’n strandwoonstel in Amanzimtoti, en selfs in Toti is dit oorwegend Afrikaans. Inteendeel, my kontak met Engelse of selfs die Engelse taal in my lewe is minimaal en toevallig.

Wat ek deur die bank agtergekom het, is die Afrikaner stel hoegenaamd nie meer belang in enige vorm van Afrikanerideologie nie. Hy wil net rustig met sy werksaamhede ongesteurd aangaan. Nieteenstaande het ek ook agtergekom die Afrikaner is trots Afrikaner, hou daarvan om saam met sy eie mense te verkeer en sosialiseer, rugby, krieket, braai en feesvier onderling met mede Afrikaners. Hy is kranig oor sy musikante, hoe swak van hulle musiek ookal sy, maar juis hierdie musiek simboliseer vir hom ’n “one upmanship” teenoor ander kulture van hierdie land welke kulture die Afrikaner daarvoor beny.

Hy is in groot getalle teen hoë kostes vir homself by Aardklop, KKKNK, Opiekoppie, ens om Afrikanerasem te skep. Kerstye wemel Hartenbos en Mosselbaai van Afrikaner vakansie- en feesgangers, asook by ander ATKV-oorde.

Taalgewys, praat hy soos dit vir hom op enige gegewe oomblik pas, hetsy suiwer Afrikaans, of Afrikaans met Engels deurspek, of in so baie ander gevalle, met amper meer vloekwoorde as die taal self (bliksem; f*ken; k*k; k*nt; P-woord; ens. Geen ander taal in SA kan die Afrikaner in hierdie opsig klop nie). Nieteenstaande bly hy kenmerkend Afrikaner, kenmerkend lief vir sy taal, kenmerkend lief vir sy eie mense.

Die handjievol Afrikaners wat met versluierde agendas die Afrikaner tot hulle denkwyse wil indruk, word deurgans deur die ander uitgelag, uitgekoggel en grappies van gemaak. Hulle is heeltemal uit voeling met vandag se Afrikaner. Inteendeel, hulle mis uit op persoonlike Afrikanergelukkigheid in hulle eie lewens.

As gevolg van hierdie non-aggressiewe benadering van Afrikaners tot die samelewing, word brue met ander gemeenskappe ten gevolge gebou. In die Vaaldriehoek, die senter van anti-Afrikaner sentiment in 1976 (Sharpville), is swartes vandag goedgesind jeens Afrikaners, en skroom nie om ongevraagd goeie Afrikaans te praat nie. Tot my verbasing, toe ek onlangs by die ABSA-tak in Toti was, het ’n jong Indiër, ongevraagd my Engels teenoor hom, met Afrikaans terug be-antwoord, en die man was ooglopend trots om te kan bewys hy kan ook Afrikaans praat!

Elke aggressiewe aksie, sal ’n aggressiewe reaksie ten gevolg hê. Elke goedgesinde aksie sal ’n goedgesinde reaksie uitlok.

Jaco Fourie

 

 

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top