Vir die muse

  • 1

Vir die muse

Foto: Canva

My kas is deurmekaar
Briewe en poskaarte lê ongeskryf
Ek wil see toe gaan
En leer hoe om te swem
Na die waarheid toe
Na my drome toe
Na die uiteinde toe
Agter erfenis aan

In my dop
Is woorde en whiskey
En al die goed waarmee ek nie deal nie

Sonder grens
Werk ek aan gedigte
Wat nooit sonder spelfoute is nie

Nege maande
Word veertien jaar
Word ’n leeftyd
Word goud

Ons praat niks
Oor my deurmekaar kas
Waar ou briewe lê
Om vergeet te word nie

Ek staan voor die poskantoor en die kerk
En praat nie
Soos ’n radiostasie nie
My gebede en briewe hou ek in my hart
Tot die koeie huis toe kom
Tot my hare weer groei
En my bril my weer laat sien

Soos my hart see toe klop
Bly my oë op die ink wat uitloop
Ek skryf en skryf
Tot die engele my kom haal
Tot my spelfoute regkom
Skryf ek vir die muse

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top