Vir Auntie Schwartz oor die Jode en die Afrikaners

  • 1

Dagsê Auntie Schwartz

Dit is inderdaad so dat daar goeie 'n goeie verhouding tussen baie van die Afrikaners en baie van die Jode bestaan het en, nie net voor 1914 (rebellie) nie, maar selfs na die tweede wêreldoorlog. 'n Aangetroude familielid van my, 'n enkelma, het jare vir 'n Jood wat 'n diensstasie besit het gewerk en was dit nie vir hom nie het sy dit nie gemaak nie. Soos ek van haar verstaan sou sy nie eers haar kinders deur skool kon kry nie.

Dit is egter ook so dat daar 'n soort van 'n afkeer tussen Jood en Afrikaner ontwikkel het veral gedurende die tweede wêreldoorlog. 'n Groot groep Afrikaners was uiters teësinnig om betrokke te raak, nie noodwendig omdat hulle pro-Duitser was nie maar wel anti-Engelman. Hoe anders? Die oorlog teen die Engelse met sy konsentrasiekampe en verskroeide aarde was destyds meer onlangs as wat WOII vandag is (en dink net hoe erg moes hierdie gevoel in 1914 gewees het).

Die Jode het dit egter as pro-Duits en, ipso facto, as anti-Semities gesien en gevolglik hulle verbind tot 'n anti-Afrikanerveldtog. Anti-Afrikaanse propaganda het gedy in koerante soos die Rand Daily Mail om nou maar een te noem en dit was vir almal duidelik dat die joernaliste wat hier besig was oor die algemeen Joods was. Dink ook aan mense soos Goldreich en Wolpe en dan die fotograaf (Goldberg? Ek's nie seker nie) wat taamlik onlangs twee boeke, 'n kwansuise fotobeeld van die Afrikaner, gepubliseer het. 'n Ekwivalente een oor die Amerikaners sou foto's van al die Jerry Springer Show se karakters gewees het.

Dit is dus duidelik dat die Jode hulle nie eintlik bemind maak sover dit die Afrikaner aangaan nie en, bloot menslik, het baie van die Afrikaners 'n wederkerige afkeer ontwikkel. Om dit vir jou in jou taal te stel, those Afrikaners (the few you deem to be anti-Jewish) don't resent the Jews, they resent them back, a sort of a retaliatory resentment.

Van anti-Semitisme, iets waarvan jy eintlik die Afrikaner tussen die lyne beskuldig, is daar nie sprake nie. Soos ek alreeds hier genoem het, anti-Semitisme is die oortreffende trap van 'n soort jaloesie: Die Jode is 'n identifiseerbare, en dus in 'n sekere sin vreemde, groep uiters suksesvolle mense op alle gebiede van die samelewing – kuns, die handel, drama, wetenskap ens wat tot gevolg het dat hulle finansiëel uiters sterk staan.

Dit bring in 'n groot mate 'n afkeer teweeg in die mense wat nie so goed as hulle presteer nie; daar is selfs die wat sover sal gaan as om hulle van onderduimsheid te beskuldig. Anti-Semitisme kom dus hoofsaaklik onder besigheidsmanne en professioneles voor (hulle steek dit net goed weg) en soos jy weet was die Boere tradisioneel boere.

In 'n groot mate, en byna op dieselfde manier, bevind die blankes in Suid-Afrika hulle in dieselfde bootjie; hulle is 'n aparte duidelik identifiseerbare groep wat meer suksesvol (ryker) as die res van die bevolking is en die gevolgtrekking is hulle moet iets onderduims aanvang. Die Sjinese in die Fillipyne bevind hulle in 'n soortgelyke posisie en ek is seker as jy rondsoek sal jy nog sulke gevalle dwarsdeur die wêreld kry.

Dit is die wat ek sê, rassisme is die oortreffende trap van jaloesie en nie snobisme soos algemeen aanvaar word nie. Die wat rassisme in Suid-Afrika gepleeg is definitief nie die wittes nie.

Groetnis

Jan Rap

  • 1

Kommentaar

  • Stephan Marcus

    Jan jy rook jou sokkies.

     

    Dit was rassisme wat die wittes in die suide van die VSA gedryf het om hul swart medeburgers se regte in te perk. In die dele en tye waar die rassisme die ergste was soos Mississippi in die 1940's en 1950's was swart mense arm en gemarginaliseer, glad nie ’n groep om op jaloers te wees nie.

    Die Jode in die weste van die Russiese ryk is vir eeue aan pogroms onderwerp deur medeburgers wat hulle verag het omdat hulle arm en agterlik was. Daar was geen sprake van jaloesie nie, die Jode was ’n uitgeslote onderklas wag geen seggenskap in die staatsbestel of mag gehad het nie.

    In Australië is daar tot ’n paar dekades gelede genadeloos teen Aborigines gediskrimineer. Selfs vandag ten spyte van hierdie groep se armoede en sosiale verval word hulle in baie kringe in daardie land verag.

     

    Ek het daagliks te doen met wit rassiste. Hierdie is nie mense wat op swartes neersien omdat hulle, hulle beny nie. Inteendeel. Hulle glo in hul harte dat swart mense inherent dommer, meer gewelddadig, lui, vuil, siek, ambisieloos en promiskueus is. Daar is nie ’n sweempie jaloesie hierby betrokke nie. Die rassisme hou geen verband hou met die optrede, voorkoms, kwalifikasies of enige ander maatstaf wat diegene sou gebruik om te onderskei tussen benydens- en bejammerenswaardige wittes nie. Hulle dink gewoon hulle is sleg en niks wat enige iemand sê of doen, sal hulle laat afsien van die oortuiging nie. Hulle was nog altyd met ons. Dit was hulle wat aangedring het op klein Apartheid (die skeiding van geriewe) en dis hulle wat oortuig is dat die huidige regering pateties swak is omdat hulle swart is (en nie omdat hulle geldgierig, selfsugtig en onbekwaam is nie).

     
    En jy kan op en af spring en jou armpies in die lug waai soveel soos jy wil: die meeste rassisme in die land kom steeds van wit kant af.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top