Vir Angus, Wouter, George, F Marx et al

  • 3

Dag here, julle kommentaar onderaan verskeie briewe verwys.

Angus, ek vermoed jy skeer gek. Al daardie woorde wat jy noem wat uit Hottentots, Bantoe (ek neem aan jy bedoel die swart tale), Portugees ens ens ontleen is, is waar en dit maak 'n sekere persentasie uit van die totale woordeskat. Jy kan egter enige stuk Afrikaanse teks vat en nie enige Hottentots-, 'Bantoe'-, Portugees- of Maleissprekende sal dit kan lees nie; die aantal bogenoemde woorde gaan uiters skaars wees (omdat dit 'n klein persentasie van die totale woordeskat uitmaak) en die sintaks van Afrikaans het bitter min of niks met bogenoemde tale te doen nie.

Die aantal Engelse woorde egter in die stukkies drek wat F Marx skryf is ver bo die persentasie woorde wat aan Engels ontleen sou wees. Marx se Afrikaans is so absurd dat ek vermoed dit eintlik tong-in-die-kies is maar, indien nie, is dit gatlekwoorde, dit is nie Afrikaans nie. Afrikaanssprekendes kan dit slegs verstaan as hulle ook Engels magtig is.

Soos ek jou opmerkings oor evolusie, die ruimte ens lees blyk jy heel intelligent te wees en ek kan dus nie verstaan dat jy die paar leenwoorde (wat in enige taal voorkom) kan sien as regverdiging vir geradbraakte Afrikaans nie, of dat die pidgin-Afrikaans van Marx nou kamtig aangepas en gespierd sou wees nie.

Die treinspooranaloog is wel 'n gepaste ene; die spoor pas aan by die omgewing, oor bulte en valleie, om koppies, die soort van ding maar die aanpassing is nie lukraak en sporadies nie, die aanpassing is in lyn met die sleutel van die taal. Buitendien, die willekeurige ingooi van vreemdetaalwoorde is nie aanpassing nie, dis onbekwaamheid en verkragting.

Terloops, jy het op 'n kol opgemerk dat Marx se Afrikaans 0% vir taalkunde kry maar 100% vir kommunikasie. Dit is seker 'n kwessie van smaak; dit is soos om 100% vir die Walmartmense te gee vir kleredrag (het jy al daardie foto's gesien?). Vir my is F Marx se slordige goed uiters swak kommunikasie; dis lomp taal en totaal ontoereikend vir kommunikasie. F Marx weet nie eers wanneer iets los of vas geskryf moet word nie, sy Afrikaans is dus nie eers standerd 3 standaard nie. Waar was die kêrel op skool?

En George, ek is nie hardegat met die gebruik van die term 'gatlekwoorde' nie, dit is myns insiens onnodiglik eufemisties want sulke taalgebruik verdien baie kragtiger woorde as 'gatlek'. Wat anders kan 'n mens sulke gedienstige en kruiperige taal noem?

Wouter, waar kom jy aan die sinnelose gedagte dat Afrikaans 'n " kunsmatige bevoorregte rol .... tot en met die laat 1970's ..." gehad het? In die 70's byvoorbeeld het ek op 'n stadium vir Openbare Werke gewerk en jy kon 'n tekening óf tweetalig, óf net in Engels maak alhoewel die kontrakteurs feitlik voor die voet Afrikaanssprekend was. Daar het later 'n wet/bepaling/regulasie uitgekom dat alle ontvangsdames tweetalig moes wees. Ek was teen hierdie reëling want die implikasie was dat ons Afrikaners te treurig was om ons eie taal te handhaaf maar die feit bly staan, as Afrikaans in 'n bevoorregte posisie was was sulke maatreëls nie nodig nie.

Op Tukkies, in die laat 60's, het ons Engelse ouens in die klas gehad (hulle het gesê Wits was te duur) wat altyd hulle vrae in Engels gevra het en die lektor het hulle in Engels geantwoord. Ek het 'n paar klasse by Wits bygewoon en geen Afrikaanse ou het ooit vrae in Afrikaans gestel nie. In Johannesburg en omgewing was daar hier en daar 'n winkel met 'n plakkaat in die venster wat aankondig dat hulle Afrikaans ook kan praat. In 'n hotel in Kaapstad in 1971 kon hulle nie Afrikaans praat nie; toe die kelner die derde keer verkeerde kos bring het ek maar Engels gepraat. So waar kom jy daaraan dat Afrikaans in 'n bevoorregte posisie was

Jy vra of krane in elf tale gemaak moet word. Waar kom julle tog aan die elf-talestorie? Hoekom is die regverdiging vir die gebruik van uitsluitlik Engels regverdigbaar deur hierdie onsinnige redenasie? Sal die Engelssprekende dit aanvaar as iets net in Afrikaans is en as hy navraag oor die Engels doen, gaan hy dit aanvaar as jy vir hom sê maar dan moet dit in elf ander tale ook gedoen word? Wat 'gatlek' en 'gedienstig' betref, soos ek vir George hierbo gesê het, daar is nie sagter woorde vir sulke kruiperigheid nie.

So, Afrikaans het vanaf die begin af aan die agterspeen gesuig. Die rede hiervoor is nie, soos ek al voorheen gesê het, die noodlot of die sterre of die Engelsman se skuld nie, dit is ons eie skuld. Niemand het nodig om Afrikaans te praat nie want ons praat o tog so graag Engels. 'n Afrikaner wat swak Afrikaans praat is nog half trots daarop maar hy sal tien dode sterf voor hy swak Engels praat of skryf. As ons nie vingertrek nie gaan Afrikaans verdwyn soos alreeds besig is om te gebeur, ons sien dit aan die Afrikaans van mense soos F Marx.

Jan Rap

  • 3

Kommentaar

  • Jan Rap

    Jou kommentaar aan Angus, Wouter, George, F Marx verwys. Daarop sê ek Hoor! Hoor! Groete, Et1

  • Jan

    Volgens hierdie brief van jou, lyk dit vir my of jou trein ontspoor. Ek sal maar weer in 'n aparte brief dit beantwoord.
     
    Groete
    Angus
  • Hello Jan

     
    Agterspeen suig was dit defnitief nie en wil ek nie graag herhaal wat ek dink 'n ingeligte leser behoort te weet nie, maar sal dalk ook eerder 'n aparte brief skryf waarin die historiese verloop onder loep geneem word. 
     
    Baie dankie,
    Wouter
     
     
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top