Beste Angus
Soos jy sê, daar is 'n verskil tussen 'n 'geel perske' en 'n 'geelsperske'; dink net hoeveel beter is dit as 'n raak beskrywing eerder as om af te lei uit konteks of van 'n soort of 'n kleur van 'n perske gepraat word (soos byvoorbeeld die Engelse 'six foot doctors', die voorbeeld wat ek aan die begin van hierdie gesprek aan jou voorgehou het), of dalk die verskil tussen “yellow peach” en “yellow peach”.
Ek is bly om te sien jy skryf, onder andere, 'spelreël', 'woordelys', 'aanmekaarskrywe', 'taalevolusie', 'taalkunde', 'honneursvlak', 'grammatikaboeke', 'spelwyse', 'linguistiekveld', 'spreektaal', 'skryftaal'
en nie
'spel reël', 'woorde lys', 'aan mekaar skrywe', 'taal evolusie', 'taal kunde', 'honneurs vlak', 'grammatika boeke', 'spel wyse', 'linguistiek veld', 'spreek taal', 'skryf taal' nie (soos die oorgrote meerderheid mense sien ek op my vrou se facebookblad).
Ek het wel nou nog nie die Woordelys en Spelreëls aangeskaf soos jy aanbeveel het nie maar, as einste toelaat dat mens mag maar spel soos laasgenoemde klomp woorde hierbo(los), sal ek uiters verbaas wees want dit is gewoon verkeerd.
Wat die 'agteruitgang van Nederlands', soos jy dit noem, betref: Afrikaans het ontstaan uit 17de eeuse Nederlands en, onder andere, deur gedeeltelike isolasie, het van die grammatika agterweë gebly. Ook, onder die invloed van immigrante (onder andere Franse, Duitsers en veral slawe) het die uitspraak, sintaks (sintaksis? – Webvoet), idioom en kadens (daar is seker nog goed) heelwat verander, tot so ’n mate dat mense (soos Arnoldus Pannevis byvoorbeeld) tot die besef gekom het maar hier is skoon ’n ander taal. Dis nie Nederlands nie maar ook nie ’n geroesmoes (geroesemoes? – Webvoet) van ’n klomp tale nie (dus nie ’n pidgin-taal nie).
Die res van die geskiedenis ken jy – die taal het nou (vir ’n geruime tyd al) woordeboeke, spelreëls en ’n verbasend groot letterkundeskat, soos vele ander tale op aarde.
Of ’n taal aanpas by omstandighede is debatteerbaar. ’n Eskimo het miskien nie ’n woord vir stof nie bloot omdat daar nie stof in sy omgewing is nie. As ’n Arabier en sy gesin in die Arktiese omgewing gaan woon, gaan hy nooit sy woord vir stof gebruik nie en sy kinders sal gevolglik nooit daardie woord leer nie maar hulle gaan nog steeds Arabies praat. Indien hulle nie in aanraking met Eskimo’s is nie sal hulle woorde maak vir goed wat onbekend in hulle oorspronklike omgewing is. Indien hulle wel in aanraking met Eskimo’s is sal hulle leenwoorde inlyf maar hulle sal nog steeds hulle eie woorde vir hulle bekende begrippe hê soos byvoorbeeld ‘toekoms’ en ‘noem’ en ‘doelwit’ en ‘stel’ en ‘bereik’ en ‘gewoonlik’.
Hulle sal dus nooit die ekwivalent van ‘jy’t gemention dat ons nie ’n future saam het nie’, of ‘gewoonlik as ek vir my goals geset het achieve ek hulle’ gebruik nie. Al wanneer hulle so sal praat is wanneer hulle Arabies besig is om deur Aleut verdring te word tot uiteindelik daar geen Arabies meer is nie. Net soos, op die oomblik, Afrikaans deur Engels verdring word.
Angus, ons is terug waar ons begin het: Byna daagliks is tale besig om uit te sterf en ’n taal sterf uit wanneer hy nie meer sprekers het nie. As al die sprekers sterf, soos sê maar ‘n pigmeëvolk as gevolg van griep (ingevoer deur sendelinge), het hulle taal saam met hulle verdwyn. Aan die ander kant kan sprekers effektief verdwyn deurdat hulle bloot net ophou om hulle taal te praat (soos op die oomblik met Afrikaans aan’t gebeure is). Outomaties, na so ’n aanneemstorie, is die nageslag die ander taal.
As jy dink ‘jy’t gemention dat ons nie ’n future saam het nie’ verteenwoordig taalontwikkeling verstaan jy nog steeds nie die verskil tussen ‘groei’ (of ontwikkel) en ‘agteruitgang’ nie, of tussen leenwoorde en vreemde woorde nie. Ek sien die appelstorie het jou deurmekaar gemaak so laat ek jou maar weer verduidelik: As bestaande Afrikaanse woorde op ’n lukraakwyse (lukrake wyse? – Webvoet) deur Engelse woorde vervang word dan praat die persoon nie meer Afrikaans nie. Anders gestel, as jy ’n Afrikaanse EN ’n Engelse woordeboek nodig het om ’n stuk teks in, sê Russies, te vertaal dan is daardie teks nie Afrikaans of Engels nie, dis ’n gemors.
Hoekom jy die dokterstorie noem is ’n raaisel; dit is dan juis die storie wat ek vir jou aangehaal het om die gevare, of onlogiesheid, van losskryf te illustreer. Nou sê jy, en ek haal aan “. . . Engelse spelling berus op konteks wanneer dit kom by los- en vasskrywe.” Dis mos presies wat ek vir jou gesê het; as jy nie reg spel nie (maw los skryf) is die betekenis nie duidelik nie want jy kan dan slegs die ware bedoeling uit die konteks aflei.
Nog ’n ding, indien daar tale is wat nie geskryf word nie (sendelinge sal seker nog daarby uitkom), het hulle wel nie ’n boek met spelreëls of ’n grammatikaboek nie maar grammatika het hulle wel, anders sou dit nie ’n taal gewees het nie. Die linguistiekveld lê miskien wel braak soos jy beweer (soos omtrent enige ander wetenskaplike rigting) maar beslis nie omdat daar tale is waarvoor die ouens nog nie hulle grammatika in boekvorm opgeteken het nie. Linguistiek is ver wyer as die opteken van grammatika.
Wat jou ‘taalevoluise’ betref, ek wonder of daar ooit so iets is. Ek het al voorheen die verskynsel genoem dat die moderner tale ’n eenvoudiger grammatika as hulle ouertale (ouer tale? – Webvoet) het. Dit lyk dus of daar eerder taalDEvolusie is. Ek het nog genoem dat ‘n verduideliking dat ons taal ‘geërf’ het (die oorspronklike taal of tale toe ons vanuit ‘n ander sterrestelsel hier aangeland het) en verwaarloos, vir my meer sin maak as die idee dat taal uit ’n gegrom en geblaf ontstaan en ‘evoleer’ het tot tale met ’n hoogs ingewikkelde grammatika. Maar nou ja dis ’n totaal mal en ‘buite die boks’-idee en iemand soos jy wat taal op universiteitsvlak studeer het kan my dalk ’n verduideliking oor taalevolusie gee.
Sover dit die ryp- en vrotwordende appels aangaan, ek is jammer, soos ek reeds gesê het, dat dit jou deurmekaar gemaak het. Ek wou maar net aandui dat nie alle verandering ontwikkeling is nie; die Engfikaans wat ons nou oral kry, veral in die Kaap, is verrotting in sy ergste vorm. Terloops, jy maak ‘n eienaardige stelling, naamlik “. . . ek verstaan taalevolusie . . . (taalkunde op honneursvlak studeer) daarom begin ek taalevoluise so effens verstaan.” Hoe werk dit; verstaan jy taalevolusie of verstaan jy dit net effens?
Nou ja, in diesem Sinn, jou vrind (hopelik)
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan,
Ek weet nie waarom jy onder die indruk is dat ek ʼn voorstander is van los skrywe nie. ‘Spelreël’, ‘taalevolusie’, ‘grammatikaboeke’, ‘spelwyse’, ens is tog almal samestellings, en die spelreël sê duidelik: samestellings word aanmekaar geskrywe.
‘Geel wortel’ word so geskryf omdat ‘geel’ ʼn byvoeglike naamwoord is en ‘wortel’ ʼn selfstandige naamwoord. ‘Geelwortel’ word so geskryf omdat dit ʼn samestelling is.
Jy skryf baie, maar sê niks van jou Janrapreël van een betekenis, een woord nie. Enkelvoudige sinne is ook een betekenis. Volgens jou reël moet ʼn mens dus so skryf: Kindersmoenieindiewatermorsnie, dieoumensewilditdrink.
Ek wil jou dit ten sterkste aanraai om maar ʼn Woordelys en Spelreëls aan te skaf.
Die taal wat Arnoldus Pannevis gesien het as ʼn ander taal was maar pidgintaal. Taalkundiges het dit veredel tot die Afrikaans wat ons vandag ken, deur Anglisismes uit te roei, Engelse woorde te vertaal, nuutskeppinge, woordeboeke, grammatikaboeke en spelreëls daarvoor te skryf. So het dit ook ʼn skryftaal geword, wat daartoe gelei het dat dit in 1925 ʼn amptelike taal kon word.
Natuurlik moet ʼn taal hom aanpas by omstandighede, hoe anders? Dis hoe die woordeskat van ʼn taal vergroot. Pannevis se taal sou nooit vandag die mas kon opkom nie. ʼn Arabier in die Arktiese omgewing sal beslis leenwoorde moet “inlyf” in sy Arabiese taal, en dis presies wat aanpassing is.
As Engels Afrikaans verdring, dan sal die taal wat gepraat word, Engels wees. As Afrikaans en Engels vermeng raak, sal ʼn nuwe taal ontstaan wat nie Engels of Afrikaans is nie. In Suid-Afrika het Nederlands vermeng geraak met Maleis-Portugees en ander tale. Die nuwe taal, is nie Engels, of Maleis-Portugees, of Frans, of Duits, of Hottentots nie. Dis Afrikaans.
ʼn Verdere ontwikkeling sal wees dat hierdie Afrikaans vermeng raak met Engels, en ʼn nuwe taal sal ontstaan wat nie Afrikaans of Engels is nie. Dis hoe nuwe tale nog maar altyd ontstaan het.
As ek kans kry, sal ek oor taalevolusie iets skryf. Dis ʼn moeilike onderwerp en debatteerbaar.
Groete,
Angus
Webvoet, 'ouertale' (parent languages) en 'ouer tale' (older languages).
Ek het gepraat van die tale waarvan 'n betrokke taal die afstammeling (dogtertaal) is.
***
Ek besef nou, Jan Rap. Net soos die perskes dus ... Webvoet
Beste Jan,
Jy haal my verkeerd aan in jou skrywe.
Ek het geskryf: "Ek is 'n evolusionis, (het dierkunde en plantkunde aan die universiteit studeer), ek verstaan taalevolusie, (het taalkunde – Afrikaans – op honneursvlak aan die universiteit studeer), daarom begin ek taalevolusie so effens verstaan."
Ek weet nie waar jy aan "taalvoluise" kom nie.
Ek verstaan taalevolusie net so effens, net soos ek die evolusieleer net ten dele verstaan. Evolusie is so 'n wye onderwerp en geen enkele mens op aarde kan dit ten volle verstaan nie. Dis maar soos met 'n motor en 'n vliegtuig wat slegs deur spanpoging gebou kan word. As twee breinsjirurge oor evolusie gesels, bly ek maar stil.
Grammatika is die studie van 'n taal se struktuur. Alle tale het struktuur, maar nie alle tale se strukture is al bestudeer en beskryf nie. Die enigste tale wat van meet af aan 'n grammatika het, is kunsmatige tale, want die skeppers daarvan baseer die tale op 'n bekende taal vir hulle, se grammatika.
Groete,
Angus
Beste Jan,
Jy verstaan evolusie ook nie ten volle nie. Jy dink dat dit vereis 'n al hoe ingewikkelder struktuur. Moderne tale soos Afrikaans, het op die oog af 'n eenvoudiger struktuur omdat taal ook weggooi wat onnodig is soos bv onnodige fleksie. Dis juis ook aanpassing en deel van 'n taal se evolusie.
En die werkwoord van evolusie is evolueer.
Groete,
Angus