Vir Angus oor sy kommentaar onderaan my brief van 13 Mei 2016

  • 7

Beste Angus

Jy lê woorde in my mond of jy lees verkeerd.  Ek het jóú nooit 'blameer' nie, in watter opsig sou ek dit nou doen?

Ek hoef ook nie op die taalkommissie te dien om die reël van een woord vir een begrip te maak nie want daar is reeds so 'n reël; 'vye konfyt' byvoorbeeld is verkeerd, dit moet 'vyekonfyt' wees. Hierdie reël bestaan in Duits, Nederlands en ek vermoed Sweeds, Deens, Noorweegs, Yslands, Wallies en miskien nog Russies ook, en Pools, en dalk Hongaars en nog sommer ’n hele klomp ander tale ook want dis logies. 

Ek het ook nie die taalkommissie van enigiets beskuldig nie, ek het die taalkommissie nie eers genoem nie; ek het bloot gesê die verskoning van lompheid is onsin en die foto geplaas van die Duitse voorbeeld (waarmee die Duitsers geen probleem het nie).  Jy kan nie die taal verskraal of verrinneweer omdat daar mense is wat te lui is om te lees nie, dis soos om die spoedbeperking op snelweë te verminder na 40km/h toe omdat daar mense is wat nie vaardig kan bestuur nie.

Jy sê aan “ . . . taalagteruitgang soos [ek] dit noem . . .”  en die implikasie is jy reken ek sien taalaanpassing as agteruitgang.  Jy verstaan nog steeds nie die verskil tussen taalevolusie, of taalaanpassing, of taalontwikkeling en taalstagnasie of -agteruitgang nie.  Ek het nou al baie analoë vir jou voorgehou soos appels wat verander van groen na ryp of ryp na vrot (albei gevalle van verandering maar resp vooruitgang en agteruitgang) maar hier’s nou vir jou ‘n werklike voorbeeld uit ‘n sepie:  Die karakter sê vir sy meisie “jy’t ge-mention dat ons nie ’n future saam het nie.”  Is dit nou volgens jou ‘n verbetering op “jy’t genoem dat ons nie ‘n toekoms saam het nie”?  Daar is nog talle voorbeelde, kyk maar na die Afrikaanse sepies op KykNet.

Jy reken taal is in die hande van die gebruikers daarvan.  Gedeeltelik reg, maar elke taal het sy spelreëls, woorde- en grammatikaboeke; elke taal het sy hoeder.  Indien die taal slegs van die gebruikers afgehang het was taalkommissies, woordeboekmakers ens onnodig.  Elke taal het sy instansies wat hulle beywer vir handhawing en voorkoming van verval en/of agteruitgang.

Jy praat van professore, onderwysers, lektore en die meer, al sou die handelinge van dié nou ’n bewys wees dat wat tans aan die gang is maar bloot ‘aanpassing by omstandighede’ is.  Dit is nie waar nie; óf hulle versaak hulle plig, óf hulle is medepligtig of bloot net onbekwaam want Afrikaans gaan sodanig agteruit dat allerhande feeste en dinge nou gereël word om die taal van ondergang te red.

Ek het die dokterstorie vir jou genoem as voorbeeld van die verwarring wat geskep word as die vasskryfreël NIE gevolg word nie.  Die Engelse koerantopskrif lui “six foot doctors arrested”.  Dit kan wees “Ses voetdokters gearresteer” of “Sesvoet dokters gearresteer”.  Die Afrikaans (of Duits of Nederlands) is duidelik, die ware betekenis in Engels kan slegs uit konteks afgelei word.  So dit is net die teenoorgestelde wat jy sê, naamlik die dokterstorie dui NIE op onuitvoerbaarheid nie.  Inteendeel, dit wys juis op die noodsaaklikheid van reg spel (in Afrikaans, Duits en Nederlands – die Engelse moet maar konteks bestudeer om te verstaan wat gesê word).

En ja, ten slotte, daardie twee vrouens hét stasies en hulle bestuur hierdie stasies sodanig dat Afrikaans ondermyn word op hulle stasies.

Groetnis

Jan Rap

 

 

  • 7

Kommentaar

  • Beste Jan,
    Jy stel my teleur. Teen die tyd sou ek al gedink het dat jy vir jou 'n Woordelys en Spelreëls sou aangeskaf het, en dat jy in die taalkommissie dien. Aangesien jy niks gedoen het om jou kennis te verruim nie, laat ek dit maar vir jou doen.
    Daar bestaan nie so 'n spelreël soos een begrip een woord nie. Dit het nog nooit bestaan nie en sal ook nooit bestaan nie. Dis 'n reël wat onderwysers vir kinders op skool geleer het, sonder dat hulle die spelreëls bestudeer het.
    Die spelreëls is tog duidelik vir diegene wat die moeite wil doen om dit te lees. Afsonderlike woorde word los geskryf. Samestellings word aanmekaar geskryf.
    Kry tog vir jou die boek en jy sal sien dat aanmekaarskrywe oor ongeveer 14 bladsye verduidelik word. Jou reël van een begrip een woord, werk net nie, deels omdat die Afrikaanse spelling berus op begrip, en deels omdat dit soms lomp is.
    Daar is tog 'n verskil tussen geel perske en geelperske, en wie wil opgeskeep sit met onderwysleierskapontwikkelingsprojek of met Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein?
    Ek is 'n evolusionis, (het dierkunde en plantkunde aan die universiteit studeer), ek verstaan taalevolusie, (het taalkunde – Afrikaans – op honneursvlak aan die universiteit studeer), daarom begin ek taalevolusie so effens verstaan. As jy wil, kan ek vir jou presies verduidelik wat gebeur as appels ryp, en later vrot word.
    Kortliks: ek het nuus vir jou: taal is nie appels nie.
    As ek reg kan onthou, ek het laas die opmerking gemaak dat jy nou Afrikaans praat as gevolg van die "agteruitgang" (soos jy dit noem) van Nederlands. Jy bly egter doodstil hieroor. Hoe pas jou appelstorie hierby in?
    Elke taal het nie sy spelreëls en grammatikaboeke nie. Daar is nog honderde ander tale en dialekte in die wêreld wat dit nog nie het nie. Die linguistiekveld lê nog braak.
    Wat die voetdokterstorie betref, Engelse spelling berus op konteks wanneer dit kom by los- en vasskrywe. Soms skryf die Engelse ook vas, soos in postmaster. Ek het nog nooit gehoor dat iemand histeries deurmekaar geraak het hieroor nie. Die Afrikaanse spelwyse is weer volgens begrip: daar is ʼn verskil tussen ʼn klein huisie en ʼn kleinhuisie. Iemand word ter aarde bestel, maar die samestelling is aanmekaar: teraardebestelling. Daar is ook ʼn verskil tussen aan mekaar en aanmekaar.
    Ja, spelling is belangrik, maar 99.999...% van ʼn taal word gepraat, en hier volg Engels en Afrikaans maar dieselfde reël. Baie belangrik is die ritme van ʼn taal. In “ses voetdokters” val die beklemtoning op ‘ses’ en ‘voet’. In “sesvoet dokters” val die beklemtoning op ‘ses’ en ‘dok’. So sal “geel wortel” die ‘geel’ en die ‘wor’ beklemtoon word, terwyl in “geelwortel”, die beklemtoning net op die ‘geel’ is.
    Die spreektaal is natuurlik primêr, terwyl die skryftaal ʼn latere bykomstigheid is. Eersgenoemde is ingebore, terwyl laasgenoemde aangeleer moet word.
    Groete,
    Angus

  • Uit hierdie kryt sal ek maar ter wille van my eie veiligheid, uitbly. Aanvanklik gedink Angus is in die hoek en verduur swaar straf maar toe verhang hy die bordjies netjies en ek dink hy het die rondte maklik ingepalm. Dankie, aan beide van julle. Julle gesprekke is altyd ’n hoogtepunt hier op SêNet.

  • Beste Jan,
    Vir my beteken taalevolusie eintlik 'n yslike probleem vir Darwinistiese evolusie. Van alle spesies besit slegs die mens die vermoë tot taal. Dit beteken dat daar evolusionêr 'n groot biologiese sprong moes plaasgevind het, en Darwinistiese evolusie berus juis op geleidelike afstam van 'n gemeenskaplike voorouer. As jy Darwin se Origin of Species lees, sal jy sien dat Darwin bewus was van hierdie probleem.

    So terloops, evolusie beteken nie noodwendig ontwikkeling en vooruitgang nie.

    Wat vermenging van tale betref, vir jou en my is dit lelik, maar dit is nog taal. Dit kommunikeer en taal is kommunikasie.

    Groete,
    Angus

  • Beste Panda,
    Daar is wel iets waaroor jy in die kryt kan klim. Ek wil weet hoe presies verskil 'n black hole van 'n white hole. Ek gebruik maar die Engelse terme, want, los of vas, die Afrikaanse vertaling kan my dalk ook in die hof laat beland soos met die ape-hofsaak.

    Groete,
    Angus

    • Angus, die Afrikaans is 'gravitasiekolk' of 'swartkolk' word ook somtyds gebruik. 'n 'White hole' is die teenoorgestelde van 'n gravitasiekolk; waar 'n gravitasiekolk alles en dis nou ALLES in sy omgewing insluk is die 'white hole' (sover nog net bespiegeling oor die bestaan van so iets) die teenoorgestelde - niks kan 'n 'white hole' binnedring nie. 'n Gepaste woord, sou ek dink, is 'n 'energieknal' want daar word gewonder of die oerknal nie dalk 'n 'white hole' is nie.
      Groetnis

  • Beste Angus,
    Man ek dink dink dis ook maar soos by ’n mens — ’n ‘in’ en ’n ‘uit’. Die black hole sluk die goed in en dan word dit iewers in sy binneste verwerk en by die white hole word dit wat oorbly uitgewerp. ’n Mond en ’n poephol dus.
    Groetnis
    Panda

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top