Dagsê Angus
Ek sien jy sê "ateïsme is maar net ’n ander naam vir realiteit". "Realiteit" is ’n relatiewe begrip, jóú realiteit is hoe jý die inligting verwerk wat jy deur middel van jou vyf sintuie bekom het. Jou sintuie is nie 100% betroubaar nie (toemaar myne ook nie) en jou verwerker, jou verstand, laat veel te wense oor (toemaar myne ook).
’n Duif sien meer kleure as ons, ’n olifant hoor klanke in die infraklankspektrum en ’n hond in die ultraspektrum. Ek het nou die dag gesien ’n sjimpansee kan getalle wat vir ’n vyfde van ’n sekonde op ’n skerm vertoon en dan gemasker word beter uitwys as studente (mine joe dit sê seker nie veel nie).
So, die inligting wat jy kry is onvolledig (en selfs verwronge as jy dit uit koerante kry) en jou prosesseerder is beperk. Die ’realiteit’ waarop jy dan besluit is onderhewig aan ernstige hersiening en bywerk. Jy kan dus nie stellings maak soos "kerke is nutteloos" of impliseer dat Islam nie vredeliewend is nie.
Ek luister baie Donderdagaande na Islam in Fokus en sover kon ek nog geen aanhitsing tot geweld agterkom nie. Om die waarheid te sê, as ek die beginsels wat daar verkondig word reg verstaan sal die wêreld ’n beter plek wees as dit toegepas word, net soos die wêreld ’n beter plek sal wees as ons Christene volgens Christelike beginsels lewe. Islam preek onder andere uitreiking na behoeftiges en Christendom, onder andere, naasteliefde en weerhouding van wraak. Ek sê ’onder andere’ want ek is nou nie ’n dominee of ’n Imam nie.
Jy kan ook nie sê ’n kerk is nutteloos nie want jou verstand sê dit is so omdat hy net een keer ’n week gebruik word. Ek sê weer hulle is nuttig want hulle versier die dorp (oukei nou nie almal nie maar wel die oueres soos in Graaff- Reinet), daar is orrels in wat ’n goeie ding is sover dit komponiste en musici aangaan, loodse gebruik hulle as landmerke en baie mense kom eenkeer ’n week daar bymekaar vir sielevoedsel, die soort van ding; kan ook dien as die gom waarvan Thomas gepraat het.
’n Ander realiteit is, as jy nou jou verwerker bietjie meer inspan, is dat die toestand in die land sedert ’94 erg versleg het; mense emigreer, plase word aangeval en boere uitgemoor, Afrikaans word gejag en Afrikaanssprekendes word afgejak en die infrastruktuur is byna moer toe.
Jy kan nou wel aanvoer dat hierdie ander realiteit dan ook onvolledig is, en dit mag so wees, maar tenminste is die bewyse van hierdie ander realiteit om ons.
As jy energie wil spandeer om die aarde ’n beter plek te maak, kyk dan na hierdie soort van goed in plaas van dinge te propageer wat, sou dit aanvaar en implementeer word (as mens nou so iets soos ateïsme sou kon implementeer), GEEN uitkoms gaan hê nie. Dit gaan absoluut niks bydra om die land se agteruitgang te stuit nie.
Let wel, ek sê nie julle ateïste is verantwoordelik vir die agteruitgang van die land nie, of dat julle geen morele beginsels het nie; ek sê net as jy daarin sou slaag om al die Christene (en Islamiete en Hindoes) na ateïsme te ’bekeer’, dit nie die land ’n beter plek gaan maak nie. Inteendeel, baie van die wat onder die broodlyn lewe gaan nie meer voor gesorg word nie. Dink net aan die ellende as byvoorbeeld net die Heilsleer ontbind.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Jan, as hier duimpies was het ek myne "op" vir jou gedruk ... is jy nie bang jy land in die "hutspot" waaroor Kobus en Woutie so vloek nie?