Dagsê swaer
Ek is jammer ek het jou deurmekaar gemaak met die X- en Y-tale; dit was maar net die algemene geval van die punt wat ek probeer maak. Ek probeer maar net vir jou vertel wat geld vir Afrikaans ten opsigte van kontaminasie (of besmetting of verkragting) geld vir alle tale op aarde
Jy gee steeds te kenne dat ek bekommerd sou wees as Afrikaans in ander tale vertaal moet word as dit Engelse woorde in het. Dis nie die storie nie Angus, ek is geensins gepla met vertaling nie; ek het net aan jou probeer verduidelik wanneer 'n taal 'gekontamineer' is (of besmet is of verkrag word) teenoor 'beïnvloed' is. Jy het hierdie mal idee in jou kop dat, as 'n Engelse woord in Afrikaans gebruik word, dan WORD dit Afrikaans en dit is nie so nie.
Laat ek weer probeer: As Steve vir Gert iets sê in Afrikaans en Gert verstaan dit nie omdat Gert nie Engels ken nie dan beteken dit dat die stuk teks wat Steve aan Gert probeer oordra het, Engelse woorde bevat. Nie leenwoorde nie, Engelse woorde. So, as Steve vir Gert sê "usually as ek vir my goals geset het achieve ek hulle" sal Gert nie verstaan nie want Gert ken nie Engels nie. Dit beteken dan Steve se Afrikaans is gekontamineer met Engels; die Afrikaanse teks van Steve is halfpad Engels en Steve het dus verengelsde Afrikaans gepraat met Gert. As jy dít nie verstaan nie sal ek maar weer probeer, laat weet net.
Wat die veringewikkelding en latere vereenvoudiging van tale uit jou 'evolusionêre oogpunt' betref die volgende: Gestel ons kan die ingewikkeldheid van 'n taal kwantifiseer, noem dit maar die InK, die ingewikkeldheidskwosiënt. Nou volgens evolusie het taal iewers met 'n oerblaf en –grom begin, InK 3 ('n slang se sis is 1), gevorder deur die millennia deur 90 tot by 'n hoogtepunt van, sê 180, en begin dan (deur 'suinigheid' en 'ekonomie' soos jy verklaar) vereenvoudig tot weer by 90. Nou hoekom styg na 180 as 90 heeltemal die doel gedien het? Dit maak mos nie sin nie; wat het nou van suinigheid en ekonomie geword?
Jy mag reg wees maar jou verduidelikings sover hou nie water nie. My model, naamlik dat ons taal klaargemaak iewers gekry en laat agteruitgaan het is vir my 'n model wat die verskynsel beter verklaar (dus eerder Occam se mes as evolusie), soos, byvoorbeeld, ons die omgewing verwaarloos. Die probleem met my verklaring is nie so groot nie, naamlik dat ons as yljins hier geland het, of dat ons voorouers destyds met ruimteskepe moes vlug en toe weer teruggekom het. Die ruimte is mos vol wesens, dan nie? Waar húlle taal vandaan gekry het is dan weer 'n ander storie (dalk evolusie?).
Terloops, wat foeter jy met Chaldees of Aramees; Adam en Eva het Afrikaans gepraat; gaan lees maar Genesis.
Groetnis
Jan Rap

