Miskien moes ek die invloed van Middelnederlands op Afrikaans uitgebrei het na die warboel in die Nederlandse taal voor Algemeen Beschaafd Nederlands, nou bekend as Standaard Nederlands, ingevoer is. Hoewel die proses nou min of meer voltrek is (daar word nog koppe gestamp hieroor) word gemeen dat slegs sowat drie persent van die Nederlandse bevolking teen 1920 dié taal onder die knie gehad het. En dit is net in Nederland waar dié taalvorm as elite-vorm in veral die Hollandse dialekte ontstaan het. Mense daarbuite, soos die Vlaminge, om nie van eertydse kolonies soos Suriname te praat nie, sou nog langer neem om dit te praat, of te kan praat, wat ons vandag as Standaard Nederlands ken.
Toe Afrikaans in 1925 al ’n amptelike taal in Suid-Afrika geword het, het nog ’n minderheid Nederlanders werklik Standaard Nederlands geken – eers teen die 60’s word gemeen het almal Standaard Nederlands verstaan.
Die punt wat ek basies wil maak is dat Afrikaans en Standaard Nederlands grootliks gelyktydig ver van mekaar ontwikkel het, maar dat die een meer deur sekere dialekte beïnvloed is en die ander meer deur ander. Brabants gebruik die woord “di” in plaas van “de”, presies soos ons skrywers van die eerste Afrikaanse taalbeweging. Beide Nederland en België het ’n Brabant, en Brabant, wat ook met die Belgiese koningshuis verbind word het in Vlaandere ’n groter impak gehad as in Nederland.
Ek is geleer ons het die woord “kombuis” (eintlik ’n skeepskombuis) eerder as die Nederlandse “keuke” oorgeneem omdat ons voorouers lank op skepe deurgebring het om hier te kom, maar ’n dialektiese inslag hier is seker ook moontlik.
Die tweede punt is of die opneem van woorde met ’n oosterse herkoms soos baie, blatjang, rottang, bobotie en ander, Afrikaans ’n mengtaal maak. Is Nederlands nie dalk meer van ’n mengtaal as Afrikaans nie? Lees ’n mens nou Nederlands (wat veronderstel is om Standaard Nederlands te wees waaroor die Taalunie wag hou, dan lees ons hoe die Israeli’s en Palestyne mekaar met “raketten” (vuurpyle of mortiere) bestook, van die tien tips vir Sharon Dijksma, iemand wat vir doping gevang is, ens, om ’n paar voorbeelde te noem waarop my oog vinnig geval het.
Afrikaans is on der druk van Engels. Dié week het ’n groot Afrikaanse koerant weer gepraat van “seksie” sus en so-komiteelid, in plaas van “artikel.” En glo my, dit is al voorheen opgeneem en reggestel.
Vanoggend berig die koerant weer oor die Nkandla-verslag wat “hoogs geheim” geklassifiseer is, in plaas van die korrekte uiters geheim, maar die oorspronklike teks was seker Engels en het “top secret” gelui.
Op RSG was daar ewe-eens ’n nuutskepping, naamlik Brasiliërs, na aanleiding vd sokker-moleste.
Die vreemdste goed broei nou uit wanneer Engelse tekste vertaal word, Hoeveel keer moet ons nog lees van die ANC wat verban was (verbied was) en lede wat “verban” (ingeperk) was. Die Engelse woord “ban” dui immers nie “verban” (die land belet) aan nie – daarvoor het hulle die woord “exile.”
En ja, ek wag vir die dag wanneer ’n rugby-unie weer skryf die “hele familie” kan vir ’n R100 inkom, en iemand daag met al sy neefs, kleinneefs, hul vroue en kinders op en gaan maak vir ’n R100 amper ’n hele pawiljoen vol.
En ja, my stad Bloemfontein het ’n radiostasie wat so trots Afrikaans is, maar knaend moet ’n mens veral in Afrikaanse advertensies hoor die adres is 116 Poggenpoelstraat – in der mate dat ek al gaan uitvind het by ’n taalkenner of dit dalk al erken word. Toe nou nie.
Kortom, as ’n mens Afrikaans wil behou moet ’n mens ook maar konserwatief wees met die krakies wat ’n mens in die damwal toelaat.
Herman Toerien


Kommentaar
Beste Herman,