Beste Adriaan
Ek maak graag van jou aanbod gebruik. ’n Vriend van my is ’n nutsman par excellence, hy’t deur die jare die vriendekring se yskaste, motors, alarmstelsels ens installeer, help installeer en gehelp om dit in stand te hou. Ek wil graag aan hom die Orde van die Goue Moersleutel toeken. Jy mag dalk aanvoer dat ’spanner’ meer as ’moersleutel’ gebruik word maar ’moersleutel’ klink meer gewigtig, pas meer by ’n formele sitaat en, buitendien, hierdie vriend van my vang ’n groter gly as ek in die verkragting van Afrikaans.
Die vorm wat hierdie orasie/sitaat moet aanneem is so paragraaf of twee wat die ou bedank vir sy onbaatsugtige en hoë-gehalte-diens en hiermee word die Orde van die goue Moersleutel aan hom toegeken deur die Instituut van Knutselaars of so-iets. Woorde soos ’nademaal’ en ’ontstentenis’ ens moet daarin voorkom, hoë formele woorde. Ek wil dit skryf op ’n plaat of ’n ding met ’n vergulde (vergilde?) moersleutel daarop gemonteer. Ons sal net oor jou tarief moet praat; dis bietjie styf.
Dan, op ’n puntjie van orde, ’n taal se welstand word wel gemeet aan die feit dat daar ’n opsie van Afrikaans op die OTM voorkom. Die feit dat die taal voorkom op OTM’s, spyskaarte, Brassoblikkies, wynbottels, melkhouers ens is ’n manifestasie van die feit dat die sprekers van daardie taal geag word.
Dikwels word daar gesê dat, as Afrikaans op onder andere houers, spyskaarte en dergelike gesit word, dan moet Zoeloe, Xhosa Venda en die res van die amptelike tale ook bygevoeg word en dit is te duur. Wat is fout met die redenasie dan dat, as slegs Afrikaans opgesit word, Engels uitgelos moet word omdat dan al die ander tale ook bygevoeg moet word en dit is te duur? Niks fout nie. Die rede vir die gebrek aan Afrikaans in hierdie storie is dus NIE omdat dit te duur is, of al die ander tale bygevoeg moet word nie maar dit is omdat die swartes daarteen is. Hulle gee in elk geval nie om dat dit nie in hulle tale verskyn nie want hulle verkies Engels, sit hulle kinders in Engelse skole, die soort van ding. Hulle kan in elk geval nie hulle eie tale (in die meeste gevalle) lees nie.
Die feit dat Afrikaans so afgeskaal word is nie die noodlot nie, of in Afrikanerdom se sterre nie, of so bestem nie. Afrikaans verskyn nie meer in die openbare lewe omdat dit nie nodig is nie en dit is nie nodig nie omdat ons nie tel nie en ons tel nie omdat ons gedienstig en gedweë is. Ons het met ander woorde gaan lê en as jy lê word daar makliker op jou getrap. Ons gedra ons soos ’n verslane volk.
Die ’troos’ dat die taal nooit sal sterf as hy net gepraat word nie is natuurlik snert; luister maar net na die Afrikaans om jou, selfs op die radio. Die mees gebruikte frase deur gaste is " ... ek weet nou nie wat die Afrikaans hiervoor is nie ... " en die omroepers is net so power. Hoe anders, as Afrikaans sy hoër funksies verloor sal dit noodwendig ’n kombuistaal word soos hy nou goed op pad is om te word.
En Angus, dit is sommer ’n bewys ook dat ’n taal se voortbestaan en ’gesondheid’ wel afhang van sy letterkunde. Of, eintlik, as ’n taal sterk is, met ander woorde as sy sprekers sterk en vol selfvertroue is, is sal sy letterkunde groei. So ’n letterkunde is ’n bewys van ’n lewende taal.
Was dit nie vir die kragdadigheid van die Romeine nie het ons vandag nie eers van Latyn geweet nie, wat nog van die wetenskaplike nomenklatuur en die inspirasie wat hulle letterkunde vir die hedendaagses het.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Jan jy sê: "Ons sal net oor jou tarief moet praat; dis bietjie styf." Mag ek daarop wys dat hierdie soort Transvaalse Afrikaans eintlik nie Afrikaans is nie. Dis anglisisties. Dis lekker om as Kapenaar jou 'n slag reg te help!
Waardeer nogtans die stof wat jy opskop. Ons moet minstens try om te probeer of wat praat ek alles?
Groetnis, George (L.W. Definitief nie George C nie)
Dankie Jan
Ek gee jou gelyk op die punt van orde. Die orasie sal ek beslis nie van die hand wys nie. Het reeds 'n nota gemaak van jou voorvereistes. Die tarief kan weer onder oë geneem word na lewering. Oor die intellektuele reus (lees ongegradueerde dagvervloeker) hier in ons midde wat 'n samestelling van talle digters oor een se "twak" wil afskiet het ek slegs die volgende te sê: indien jy die leviathan wil toor gebruik altyd die potlood se gomlastiek soos vroeër.
Tot later,
Adriaan
Beste Jan,
Hallo George
Dankie vir die teregwysing. Ek is seker daar is nog talle foute waarop jy my gerus kan wys en doen dit gerus. Jy is nie die eerste wat my op foute wys nie en dit is maar soos 'n ou leer, nooit te oud daarvoor nie.
Hallo Adriaan
Net 'n regstellinkie, ek het bedoel jou tarief per woord is bietjie hoog. Nog'n ding, jy kan nou nie gaan staan en 'n prys gee NA aflewering nie; netnou is dit steeds te hoog en ek moet sukkel om jou prokureur van my rug af te kry. Hou ook in gedagte dat jou naam as outeur onderaan gaan verskyn so daar is bietjie reklamewaarde in vir jou, ook 'n paar rand werd.
Nou-ja, laat dit juig daar by julle.