
Foto: Canva.com
Vincent
Verf winterblou oor jou skilderdoek
laat die aarde bloei in Namib-bruin
olyfgroen verskroei in suurlemoen;
verkoel in skadu’s van blou, en bruin
verdor ’n sonneblom se sombergeel
en koring is soos ’n see wat dein
oor heuwels waar vrees in onweer speel.
’n Impasto van die lewensgang
waar raafswart sorge jou vrede steel.
In die kolk van onstuimigheid hang
die môrester aan ultramaryn
’n sterrekoor verhef ’n lofsang.
want God het tussen mense kom bly –
uit liefde gelewe en gely.


Kommentaar
Inderdaad, elke vers weldeurdenk, elke strofe 'n bestuurde reis 'n entjie nader aan die klimaks van die einde. In geheel 'n onafhanklike avontuur in sy eie reg.
Welgedaan, Cecilia.
Baie dankie, Cobus, ek waardeer jou oomblik se stilstaan.
Puik uitbeelding van Van Gogh se bekendste skilderye, lewe en lyding in lieflike en diep metafore. Welgedaan, inderdaad!
Opregte waardering, dankie vir die raak lees en fyn waarneming.
Ek kry ongelooflike heimwee as ek dit lees, dis só besonders.
Fantasties. Ek sê weer jy het jou kuns goed meester.
Baie dankie vir die besonderse terugvoer.