Titel: Tik
Skrywer: Piet Steyn
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624055303
Klik hier om Tik in e-boekformaat by Kalahari.com te koop.
Soos haelgeweerskote, so is die drie vorige misdaadromans van Piet Steyn. Kliphard. Dalk onsubtiel, maar onmiskenbaar. Steyn is ’n genre-hardebaard. Sy Snoeiskêr, Bottelnek en Tou word gekenmerk deur hul leesbaarheid, komplekse karakterisering, die verduistering van die skeidslyn tussen goed en kwaad, en natuurlik ’n gesonde dosis aksie. Daar skort min met die intrige – Steyn wéét net hoe om die leser in te katrol. ’n Mens verwag dus van hom om sy beste voet voor te sit in Tik, sy vierde roman in die misdaad-genre.
Enige misdaadfiksie-liefhebber, of hy nou Agatha Christie, Dashiel Hammett, Sarah Paretsky of Deon Meyer lees, weet dat die premis van die storie onmiddellik die verbeelding moet aangryp. Kyk mens na Steyn se indrukwekkende legkaartstukke, is daar aanvanklik beslis rede tot opgewondenheid.
Aan die spits van die intrige is die blitsvinnige vervaardiging, verspreiding en verslawing van die dwelm metamfetamien, lolly, tjoef, tik in die Goudstad duidelik vir Steyn ’n tipe Sodom en Gomorra. Kolonel Kat Harmse en kaptein Jerome Williams is nou deel van die Valke, oftewel lede van die Direktoraat vir Prioriteitsondersoeke, die elite-eenheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Hulle gaan na die Vredefort-koepel en woon ’n konferensie oor tikverslawing by, en moet verdwynings in die area ondersoek.
Steyn bring hier ’n monster, Salmaklak, uit die volksverbeelding om niksvermoedende slagoffers op te gaps – of dalk is dit eerder ’n gewoontemoordenaar wat van sy slagoffers in die Vaalrivier ontslae raak. Tjoeftjaf, daar dryf jy in die rivier af.
Harmse en Williams word gou betrek by die ondersoek na ’n kultusgroep met die enigmatiese Vader aan die spits. Hierdie sekte het ’n tipe Charles Manson-agtigheid aan hulle soos wat jongmense deur seks en dwelms ingelei en dan totaal beheer word.
Dis beslis nie al nie. Daar is ’n eko-intrige, waar ’n boorperseel gebruik word as dekmantel vir dwelmhandel; ons maak weer kennis met die Freislichs van Virginia, met ’n lid van die familie wat self begin tik gebruik; Kat ontwikkel ’n tipe obsessie met die forensiese patoloog, die mooie Annie de Villiers, wat as potensiële liefdesbelangstelling dien. Na aanleiding van hierdie gegewens behoort Tik ‘n onderhoudende en kleurryke misdaadstapisserie aan lesers te bied.
Wat ’n jammerte dat Steyn eenvoudig nie ’n bevredigende maal hier opgedis nie. Daar is ’n aantal problematiese areas wat vermelding vra: ’n skaarste aan geloofwaardige intrige; resepmatige skryfwerk; tweedimensionele of onderontwikkelde karakters; en ’n beduidende tekort aan nuwe insigte rakende die boek se dwelmfokus.
Dis veral laasgenoemde wat die meeste opval: Wat bied Steyn se misdaadfiksie die man op straat wat laasgenoemde nie al telkemale op die TV, in die koerant, of oor die radio teëgekom het nie?
Met die intrapslag boei Tik. Dit voel asof Steyn begin waar hy in Tou opgehou het, en die roman begin met ’n polsende, aangrypende toneel waar bloed en derms in elke moontlik denkbare rigting in ’n familiewoning spat. Onmiddellik slaag Steyn daarin om die leser te betrek by die konflik tussen wetstoepassers en kriminele randfigure in die letterlike en figuurlike bloedbad wat die landswye tikverslawing in die afgelope tien jaar teweeggebring het. Dis maar ’n deeltjie van ’n groter geheel, maar Tik se openingstoneel verdien vermelding.
So ook is die eerste paar hoofstukke van die boek herhaaldelike vuishoue in die holtes van jou maag: jy is nie net betrokke nie, jy voel wat die karakters voel. Dis hard, genadeloos. Die vertelling werk.
Soos wat die roman begin spoed optel, bevind die leser hom egter in iets wat hom toenemend soos ’n oorbekende televisiedrama afspeel. Dis ongetwyfeld so dat die leser van jou hoofkarakters moet hou om ’n soort verhouding met, en vertroue in, die skrywer op te hou, maar hier is die "goeie" polisiemanne eenvoudig so platvloers dat hulle naderhand nie veel meer as stereotipes word nie. Ons het eenvoudig al te veel oorgewig, macho polisiemanne met vinnige bekke en vinniger vuiste teëgekom om heelhartig te glo in die geregtigheid van die vereenvoudigde, hardgebakte “types“ wat ons hier vind.
Anders as in Steyn se vorige romans is daar nie veel van Pine Pienaar te sien nie. Sy sjarmante houding en skerp instinkte word hier verruil vir die meer oppervlakkige en minder simpatieke Kat Harmse, wie se amper knaende arrogansie en fiksasie op sy kollega Annie de Villiers wil-wil dreig om hom pateties te laat lyk.
Van die geloofwaardige, en soms snaakse, liefdesverhoudings in Skêr en Tou is hier te min te bespeur. Van die interaksies wentel nie ver van vereenvoudigde gesprekke nie. Dit voel naderhand of jy steier met ’n brandewyn-babelas, so word jy toegegooi met banale gesprekke wat op die bladsye ronddobber. Steyn het in hierdie opsig beslis al beter werk gelewer.
Sonder om oorkrities te wees: daar word weinig verder as die braaivleis-brandewyn-en-boepens-verpersoonliking van manlikheid hier gekyk. Dis debatteerbaar of elke man in diens van die gereg nou werklik so hoef voor te kom in misdaadfiksie, beproefde resep of nie. Die hardnekkige sjarme van Deon Meyer se Mat Joubert of Zet van Heerden sou hier nuttig te gepas gekom het, maar Steyn het reeds bewys dat hy van sy mans macho en moeilik hou.
Ons het te make met hardgebakte speurders, die randfigure in die wêreld van die moderniste, maar daar is in die hier en nou van Steyn se Tik bitter min eksistensiële gewroeg. Net te min patos, en in plek daarvan ’n niksseggende gekrul met die vingers van Kat Harmse se snor.
Soos telkemale die geval is in die misdaadroman as genre, word vroulike karakters meestal tot buitestanders van die aksie gereduseer, met die belangrike uitsondering van Baby Freislich. Haar karakter word genoegsaam ruimte gegee om te ontwikkel, en sy voel eg, menslik, met deernis voorgestel.

Wat karakterisering verder aanbetref, word die tronkvoël Charlie onder die booswigte simpatiek voorgestel, al het hy moord gepleeg. Steyn bied vir Charlie ’n netjiese, geloofwaardige agtergrond en sodoende word hy meer as net nog ’n gewetenlose misdadiger.
Daarteenoor, wat die meeste krap van die kultusleier Vader – met sy lang nek, uitpeuloë en Moses-kleed – is sy uiterste breedsprakigheid en amper lagwekkende selfvoldaanheid. Dit het na ’n ruk vir my net te dik vir ’n daalder geword. Vader en sy groep volgelinge kom voor as ’n meer oordrewe, minder skrikwekkende tweeling van die kultusfigure wat so sentraal tot die narratief in Tou was. Net soos in daardie roman het Steyn ook swaar geleun op Bybelse aanhalings en verwysings om die dramatiek van die verhandeling suksesvol te verhoog, en daar was dit gepas, slim. Hier voel dit asof dieselfde resep eenvoudig herwin word, wat geensins indruk maak nie.
Twee voorbeelde van waar Steyn die vermoë van die misdaadroman om deur fiksie te verhelder goed aanwend, is in afsonderlike tonele waar twee kante van die tik-epidemie kop uitsteek. Die een is vroeg in die storie, waar ’n tipe Ellen Pakkies-figuur by ’n beraad gesels oor haar seun se gedaanteverwisseling as gevolg van tik, oorstelp deur emosie; die ander waar ’n jong vroulike hoofkarakter se eerste ervaring van tik kristalhelder en met uitstekende vernuf en aanvoeling beliggaam word.
Dit is hierdie tipe skryfwerk – liries eerder as macho, veelvlakkig eerder as clichéagtig, dawerend emosioneel eerder as net eendimensioneel – wat nie deurgaans genoeg van ‘n eie ruimte gegun word nie. Dis asof Steyn vir ‘n oomblik “vergeet” het van die jukstaposisionele, van die ligte en die donker in sy vakmanskap, van die broodnodige skakerings van patos, en hier eerder poog om breedvoerig met sy tematiek om te gaan.
Dis een ding om taalgebruik sonder tierlantyntjies aan te wend om jou leser op sy gemak te plaas – dit het seker al vir Steyn talle lesers gewen – maar die vraag bly staan of die deursnee-misdaadfiksieleser nie dalk wel geprikkel en getoets wil word deur meer uitdagende, beeldende uitdrukkings nie. Ek skat dat dit wel die geval is, en dat daar heeltemal te min voorbeelde in Tik te vind is waar Steyn werklik ’n bekende element of beeld neem en dit met mening nek omdraai. Ons het immers hier te make met 'n roman, nie net ’n misdaadroman nie. Daar is beswaarlik min verweer vir ’n teks waar daar eerder op die banaliteit van die oorbekende gerugsteun word as op die stuwende krag van vernuwende uitdrukkings.
Ter versagting kan daarop gewys word dat die roman allermins sensasioneel probeer wees, ook dat daar tog oomblikke van opregte sensitiwiteit en insig deurskemer. Ongelukkig is hierdie oomblikke te onegalig versprei om die leser werklik stof tot nadenke te bied.
Die skeidslyne tussen goed en kwaad word nooit werklik oortuigend geproblematiseer nie; so ook nie juis die feilbaarheid van die goeies nie. Is dit nie iets wat elke misdaadroman as ’n onontbeerlike element moet bevat nie?
Dus moet die leser hom/haar afvra: Verwag hy of sy dat die samespel van verskillende elemente genoegsaam moet wees om dit te verhef bo bloot die gemiddelde? Gaan die leserskorps wat oënskynlik misdaadromans verslind, tevrede wees met sulke pogings na uitsonderlike, kreatiewe toevoegings tot die genre soos die onlangse werk van Kerneels Breytenbach, Deborah Steinmair, Chris Karsten?
Wat neem die leser, wat met tye bitter hard moet werk deur ’n saai middelafdeling, weg van die roman? Die antwoord is skynbaar so wasig soos ’n tik-walm. Op die ou einde voel die meeste van Tik net te familiêr, te gestroop van kompleksiteit, asof die redigeringsproses dalk net te vinnig plaasgevind het en die behoefte aan “nog ’n boek“ net te groot was.
Leesbaarheid is nooit in die Piet Steyn-misdaadroman ’n probleem nie. Vir die minder kieskeurige leser is dit dalk net te lekker om boedel oor te gee en sekere ongeloofwaardighede of stokkerige dialoog oor die hoof te sien.
Tik is uiteindelik 'n verspeelde kans om 'n meer afgeronde, meer oorspronklike toevoeging deur ’n bepaalde skrywer tot die plaaslike misdaad-genre te bied.


Kommentaar
Nog!