Vier begrafnisse en 'n troue - 'n Suid-Afrikaanse armoede-tot-rykdom-storie

  • 0

Vier begrafnisse en ’n troue
Pat Stamatélos
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795703072
Prys: R190.00

Pat Stamatélos se Vier begrafnisse en ’n troue (2010) is ’n roman met kleurvolle karakters en satiriese dialoog. Sy beweeg weg van die sterk outobiografiese inslag wat haar eerste twee romans, Kroes (2005) en Die val van die dice (2007), gekenmerk het. Die outobiografiese besonderhede het reeds verminder met haar derde roman, Die portier in 2009, en neem selfs meer af in haar jongste roman, Vier begrafnisse en ’n troue. In ’n onderhoud met Terésa Coetzee laat Stamatélos haar oor dié aspek van haar jongste roman soos volg uit: “Met Vier begrafnisse en ’n troue het ek darem my skandes en skaamtes ’n bietjie dig gehou, maar dan lees jy van haar liefde vir die kinders, die slapelose nagte oor honger diere, die betrokkenheid by ander se lewe … ai” (Rapport, 2010).

Die titel herinner aan die bekende film Four Weddings and A Funeral (1994) met Hugh Grant en Andie MacDowell in die hoofrolle. Die ooreenkomste tussen roman en film is egter min, behalwe vir die eenderse titels wat die spanningslyn hou deur albei genres, die oordaad van byeenkomste (troues in die film en begrafnisse in die roman), asook die kameraderie tussen vriende. In teenstelling met die verwagte swaarmoedigheid waarop die titel dui, is hierdie ’n roman waarin hoop uitgespreek word – die ewige optimistiese hoop dat alles aan die einde reg sal uitwerk. Die slim gekose titel behou die spanning regdeur die roman, want die leser lees verder om uit te vind wie is volgende op die maaier se lys, en vir wie gaan die huweliksklokke lui. Die geleenthede waarna in die titel verwys word, werk dus as merkers vir die strukturering van die verhaal.

In Stamatélos se roman kan die oordaad karakters soms ietwat oorweldigend voorkom, maar hulle verbeeld nietemin ’n hegte gesinsband. Stamatélos het werklik ’n bont groep individue geskep wat gelees kan word as verteenwoordigend van ’n mikrokosmos van Suid-Afrika. Daar is Dulcie-Anne Douglas (noemnaam Dulcie), haar oorlede man, Bennie, en hulle kinders Cheryl en Ashwin. Die res van die familie sluit in Dudley en sy oorlede vrou, Hilda, Abrie Ferreira (Dudley se swaer), Sparky en sy gestorwe eggenote, Hanna, hul seun Enver met sy Amerikaanse vrou, Rose, en hul twee seuns, Bowie en Puck. Vriende sluit in Violet, Trevor, Lucretia, Sheena, Fanny Mabaso en haar ma, Lebogang, Florence Present (bynaam Shorty), Louwkie, Oubaas, Rocky van der Merwe, Tyler, Lana en Ferdinand Marais, die bouer Piet Kleyn en dan is daar natuurlik nog die honde China, Nash en Hoenertjie, asook die selfvoldane kat, Fati. Hiernaas is daar nog bure, polisiekonstabels en veeartse …

Dit is die veel beproefde storielyn van lompe tot luukse wanneer Dulcie Douglas se eggenoot sterf as gevolg van ’n fratsongeluk by die spoorweë, waar hy jare lank sy salaris verdien. Die drie miljoen rand wat dien as kompensasie word egter in ’n oogwink uitgegee met die koop en meubilering van ’n huis in die glansryke buurt van Roxy. Die Douglas-gesin is gretig om ’n nuwe lewe te begin weg van die armoede van Gumaville, maar al trek ma, dogter en seun weg, behou hulle steeds bande met hul voormalige buurt. Die sprokiesagtige verhaal word egter ’n skeut werklikheid toegedien met die ontvangs van ’n hospitaalrekening van R270 000,90 wat vereffen moet word. Dit is egter moeilik om ’n betaalplan uit te werk as jou enigste inkomste bestaan uit jou oorlede man se spoorwegpensioen en jou eie skamele pensioen van die tekstielbedryf. Dulcie Douglas het nie eens ’n kredietkaart op haar naam nie, maar vir haar is die uiterlike beeld van oorvloedigheid belangrik, soos afgelei kan word uit haar uitrusting vir ’n begrafnis (bl 155): “Op haar spykerhakke, aangetrek in ’n swart satynrok, Bianca & Hunt-namaaksels om haar arm en hals, en ’n geurtjie van Chanel Nommer 5 (die nagemaakte een) agter haar ore. Onder haar arm hou sy haar kamma-slangvelhandsakkie. Pure Jackie Onassis.” Dulcie leer nietemin aan die einde ’n paar belangrike lesse oor rykdom: nie geld of die gepaardgaande “regte” adres verseker noodwendig geluk nie en ryk mense het net soveel probleme as armes.

Dulcie is nogtans nie oppervlakkig en slegs gesteld op finansiële posisie nie. Dudley beskryf haar as iemand wat “meer vir mense om[gee] as enigiemand anders wat ek ken … Deur dik en dun. Jy het altyd familie eerste gestel, voor geld. Áltyd.” (bl 330). Dulcie se karakter kloek soos die spreekwoordelike moeder hen: sy bekommer haar oor haar volwasse kinders, haar uitgebreide familie, die bure se huishulp wat nie ’n heenkome het nie en selfs die troeteldiere – haar eie, asook al die diere wat sy teëkom. Dié sagte hart deel sy met haar dogter, Cheryl, wat aan rondloperhonde ’n tuiste bied, asook met haar seun, Ashwin, wat hom oor ’n enkelma en haar dogtertjie ontferm. Dulcie se diensvaardigheid is slegs ’n faset van haar persoonlikheid, soos haar raak beskrywings van mense getuig wanneer sy Ferdinand, Lana Marais se man, ontmoet: “Pap in sy hand en ’n stok in sy gat, dink Dulcie” (bl 157).

Die hoogtepunte van die roman is die outentieke en satiriese dialoog, asook die skrywer se humor, wat weerspieël word in die uitbeelding van alledaagse situasies en in die karakters se omgang met mekaar:

Nou ja, daar sit klein Puck toe gisteraand, vingers wat naarstig om sy bord soek. “Mamsie!

Where’s my fokken naaif?” skree-vra hy oor die tafel met sy mooiste Amerikaanse aksent.
               
Almal was meteens tjoepstil, vurke belaai met kos wat voor die monde hang. Sparky het sy mes laat val.
               
“Your fok ’n naaif is in your serviette, little darling,” het sy ma gesê, salig onbewus van die beroering wat deur haar little darling veroorsaak is. Dulcie het asem uitgeblaas, Cheryl het gegiggel en Sparky het lewe gekry.
               
“Enver, jy kan gerus vir jou kinders maniere leer. ’n Mens praat nie so aan tafel nie,” het Sparky in Afrikaans gefluister, asof hy bang was Rose kan dalk verstaan.
               
Enver het net gelag. “Nee, wat, Pa, hy vloek darem nie.” (bl 25)

Daar is veral ironiese en tog soms striemende kommentaar op Suid-Afrikaners se pogings tot politieke korrektheid. Waar daar gewoonlik met omsigtigheid met dié onderwerp omgegaan word, skeer Stamatélos gek met die hele reënboognasie. Veral Dulcie met haar begrafnismetgeselle wat sy volgens die velkleur van die oorledene kies – ’n wit persoon dien as metgesel vir ’n sogenaamde “wit” begrafnis en die teenoorgestelde vir ’n “swart” begrafnis. Die Amerikaanse Rose dien ook as komiese verligting as ’n buitestaander vir wie Suid-Afrikaanse kultuur vreemd is met die doolhof van politieke korrekthede wat te alle tye in ag geneem moet word. Kulturele ooreenkomste en teenstellings word selfs deur die verskeidenheid kospotte uitgebeeld, soos Dulcie se tuisgekookte kerrie of die tradisionele mopaniwurms en magou wat by ’n “swart” begrafnis bedien word.

Die intrige dreig soms om te verval in die voorspelbare, met die karakters wat byvoorbeeld gereeld dieselfde take uitvoer – hulle kuier heen en weer met mekaar, deel etes (tuisgebak, wegneemetes soos KFC of restaurantspyseniering), praat, lag en slaap, en die volgende dag begin dit weer met ’n paar ander gebeure (meestal ’n krisis) tussenin om die banaliteit te verlig. Ironies, dit is ’n ware voorstelling van ’n gesin se verhoudings met familie en vriende, maar of dit altyd goeie leesstof maak, is te betwyfel. As ’n parodie oor ’n Suid-Afrikaanse gesin is dit egter geslaagd en sal dit by heelwat mense aanklank vind. Stamatélos was doelgerig om dié keer ’n amusante roman te skryf wat lesers hardop sou laat lag (Coetzee, 2010):

Omdat my stories behep is met die dood, was ek vasbeslote om nié weer daaroor te skryf nie – ook nie oor donker emosies wat op loop gaan nie. Ek wou iets humoristies, lees skreeusnaaks, skryf. Op bladsy 3 of 4 van die boek het ek eers agtergekom ek is besig om ’n begrafnis te beskryf – daarna het die storie homself vertel (ek aanvaar geen aanspreeklikheid nie).

Dit is inderdaad die indruk wat geskep word, van ’n verhaal wat lewe kry en die karakters wat hul eie storie vertel. Weens die oordaad karakters word ’n groot deel van die roman aan die bekendstelling en ontwikkeling van die karakters bestee, maar dit is slegs die hoofkarakter, Dulcie, en met tye Shorty, die buurvrou se huishulp, wat enige diepte vertoon. Dit is ’n deernisvolle verhaal wat soms effe sentimenteel voorkom, soos blyk uit onder meer die kuise verhouding tussen Dulcie en haar minnaars. Die Douglas-gesin se onderskraging en bemoediging van die familie skyn ideaal te wees, byna die perfekte uitgebreide gesin, met net ’n paar haakplekke in die verhoudings wat aandui dat hulle ook menslik is.

Ondanks die geloofwaardige dialoog, talle kwinkslae en goeie storielyn – bestanddele van ’n goeie roman – slaag dié resep nie volkome nie. Een van die kwessies is die gejaagde ontknoping van die vierde begrafnis en troue. Te veel drade word teen ’n snel pas naby aan die slot van die roman bymekaargebring, wat die indruk skep dat die roman haastig voltooi is. ’n Strenger redigerende hand sou waarskynlik die verhaal ingekort het deur van die triviale te skrap en die slot beter afgerond het, maar nietemin is dit in ’n onderhoudende styl geskryf.

Aanhangers van Stamatélos se prosa, asook enige leser wat ’n ligte, vermaaklike, tong-in-die-kies roman wil lees oor die lief en leed van ’n groot familie op eie bodem, behoort hierdie roman te geniet. In Dudley se filosofies-morbiede woorde (bl 168): “Nou ja, eat, drink and be merry […] want môre sterf ons.”

Bronne
Coetzee, Terésa. 2010. Pat oor Pat Stamatélos. Toegangsdatum: 11 Julie 2011.

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.

Top