Vier Amerikaanse skilders en ’n Brit

  • 0

Amerika, of't wel die VSA, is ’n enorme land met baie kenmerke. Die groot invloed wat die rolprentbedryf en televisie het, is een van daardie kenmerke. As ’n mens daar woon, val dit gou op dat Amerikaners geneig is om sosiaal op te tree asof hulle op televisie is. ’n Mens is blykbaar veronderstel om die beeld uit te dra dat jy suksesvol en selfversekerd is. Ek was skepties oor die modestrominge wat soos getye oor die land spoel. Ek het in ’n mate verstaan waarom skynwetenskaplikes, naamlik sielkundiges, so ’n groot rol in die lewens van baie Amerikaners speel.

Daar is by my ’n afkeer van grootdoenerigheid gewek. As ’n uitvloeisel van my belangstelling in kalligrafie (en tipografie) het ek groot waardering vir die swart en wit skilderye van Franz Kline (1910-1962) ontwikkel. [Daar is ook die tersaaklike swart skilderye van Adolph Reinhardt (1913-1967) waarna ek voorheen verwys het (SêNet, 23.05.2011).] Ek het daardie Kline-kleurloosheid in my kleredrag nageboots. My skeptisisme oor die vergenoegdheid van mense het my genoop om my naam en van met kleinletters te skryf en om die gebruik van titels te vermy. Die punt wat ek wil stel, is dat blootstelling aan ’n omgewing ’n mens beïnvloed. Die mate van invloed word deur die tydperk van blootstelling bepaal en die soort impak hang van die aard van die persoon af. Om vinnig deur ’n land te reis, laat ’n ander indruk as wanneer jy vir ’n langer periode daar bly.

As ’n mens deur die nywerheidsgebiede in die noord-weste van Engeland gereis het, sal die skilderye van die Britse skilder, LS Lowry (1887-1976), tot jou spreek. Maar dit is ’n enkele aspek van die Britse landskap. Die veelvlakkigheid van Amerika kan nie deur ’n enkele kunstenaar weergegee word nie. Tog is daar ’n skilder wat myns insiens die kontras tussen die natuur en die mensgeskepte Amerikaanse werklikheid treffend uitbeeld. Ek verwys na Edward Hopper. In hierdie skrywe maak ek gebruik van Ivo Kranzfelder se Edward Hopper, 1882-1967: Vision of Reality (Cologne: Taschen, 2010, 200p). Hierdie boek bevat ’n verteenwoordigende seleksie van sy skilderye, goed gereproduseer en aangevul met deskundige, sinvolle kommentaar. Op die internet is daar ook heelwat inligting oor Hopper se lewe en skilderye beskikbaar.

Hopper was so veramerikaans dat drie besoeke aan Europa in sy twintigerjare hom nie merkbaar beïnvloed het nie. "The only real influence I've ever had was myself" (p 181). Hopper se skilderye wek dieselfde emosies oor verstedeliking by kykers as Lowry se werke: privaatheid, geïsoleerdheid, verlatenheid, leegheid, eensaamheid, anonimiteit, eentonigheid, verveeldheid, nostalgie. Kortom: Lowry se "dignity of solitariness" (SêNet, 2.08.2011), wat ’n afgestompte kunstenaarsgees kan impliseer.

Die uitgangspunt van Hopper was dat kuns die uitdrukking van die kunstenaar se innerlike ervaring is, dus ’n objektivering van die subjektiewe. In sy skilderye gee hy dus sy siening van die wêreld weer. Benewens dít wou hy nie eintlik sy skilderye verduidelik nie; des te meer omdat hy ’n introvert en hoogs onsosiaal was. Hy was ’n swaarmoedige indiwidualis wat lief vir stilte en rustigheid was. Hy het graag en wyd gelees, maar verbaal en skriftelik min gekommunikeer. In sy skilderye is daar min aksie. Hy het bely dat hyself nie aktief genoeg geskilder het nie.

Hy het alledaagse voorwerpe en tonele geskilder, elke keer die onderwerp goed oordink en dikwels baie sketse gemaak voordat hy begin skilder het. Die resultaat is sy kenmerkende sagte realisme met ’n goeie skeut fatalisme (en selfs betekenisloosheid) wat oor ’n tydperk van 43 jaar min verander het. Die lewe was vir hom ’n verhoog waarop rolle gespeel word. "The actors do not actually feel emotions, but feign them" (p 144). Soos in Samuel Beckett (1906-1989) se toneelstuk, En attendant Godot (1952), word daar as't ware gewag op iets wat nie gebeur nie, ’n droom wat onvervuld bly, ’n toneel wat deur die kyker voltooi moet word.

Kranzfelder verwys verskeie kere na Alexis de Tocqueville se Democracy in America (vol 1, 1835, vol 2, 1840) om die essensiële Amerikaansheid van Hopper tuis te bring. Daar word ook aangetoon hoe dikwels Hopper daarin slaag om die binnenshuise en buitenshuise elemente van ’n toneel naatloos ineen te laat vloei. "He drew attention to the everyday, usually unnoticed sense impressions and emotional reactions of living individuals" (p 48). Maar hy het geen toegewings aan die smaak van die massa met die oog op populariteit gemaak nie. "Hopper tries to restore perception to its primal state of simple, unreflected recognition" (p 89). "Hopper's standpoint was not critical, but merely dispassionate. He depicted things as he saw them without making value judgements" (p 79). Hopper reduseer homself tot die rol van "an outsider who does not understand what he is observing" (p 102). Dit is ’n soort primitiwiteit of (hopelik) nie-aanstootlike banaliteit.

"Man ... seems isolated and insignificant in face of both nature and of his own products" (p 81). Met min besonderhede word die verlangde stemming of atmosfeer geskep. Tog het die resultaat Hopper subjektief onvergenoegd gelaat: "I was never able to paint what I set out to paint" (p 44). Dalk is dit ook ’n probleem eie aan die skilderkuns: "We as viewers inadvertantly attempt to virtually extend the real space we occupy into the pictorial space of the image. This draws us into the picture, which at the same time attempts to exclude us" (p 54). Maar kyk gerus met oorgawe na Hopper se skilderye. Daar is ’n kontras tussen die onsentimentele benadering van die skilder en die emosies wat by die kyker gewek word.

Mark Rothko, ’n ander groot indiwidualistiese Amerikaanse skilder, het waardering vir Hopper se werke gehad. Rothko se gees het selfs groter behuisingsnood as Hopper ervaar. By albei word die skilderye droomlandskappe. Die heeltemal abstrakte, wasige kleurvelde van Rothko, gestroop van besonderhede, kan vir die sensitiewe kyker ’n intense ervaring wees. Jacob Baal-Teshuva skryf oor "the emotional force of pure color" (Mark Rothko, 1903-1970: Pictures as Drama, Cologne: Taschen, 2003, p 10).

Hopper se analogie van die lewe as ’n verhoog waarop rolle gespeel word (wat in sy skilderye sonder ’n storie uitgebeeld word), kom ook by Rothko voor, maar mét drama: "I see my pictures as dramas, their figures as actors" (p 40). Die sagte realisme van Hopper word by Rothko met abstrakte landskappe vervang. Dit is twee heeltemal verskillende maar tog aanvullende maniere om uitdrukking aan die "loneliness and isolation of modern urban life" (p 28) te gee. Hopper beklemtoon die fisiese en Rothko die geestelike. "Rothko said that he knew nothing of how the viewer would use his pictures to meet the needs of his spirit, but that when the viewer had both needs and a spirit there could be a true exchange" (p 91).

Tans is skilderye plaaslik in die nuus. Ek het dit dus tydig geag om oor vier skilders, wat grootliks tydgenote was en wie se werke ek in Amerika teëgekom het, te skryf. Oor Kline het ek hierbo die minste geskryf, maar hy het my die meeste beïnvloed. Hopper is die ongeëwenaarde uitbeelder van ’n kenmerkende aspek van die Amerikaanse werklikheid. Hy kon niks anders as ’n Amerikaner wees nie. Rothko het al hoe meer swart in sy skilderye gebruik totdat sy kleurvelde soos Reinhardt se skilderye gelyk het. Sy morsige selfmoord met ’n skeerlem was amper onvermydelik. Toe het dit duidelik geword dat Rothko die gevoelvolle maar fatale lewensiklus van die mens, van niks tot niks, uitgebeeld het.

Johannes Comestor

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top