
Titel: Victor – My reis
Skrywers: Victor Matfield en De Jongh Borchardt
Uitgewer: Zebra Press
ISBN: 9781770221451
Prys: R129.95
Klik hier om Victor – My reis te koop by Kalahari.com.
In een van die Amerikaanse skrywer Trevanian se boeke laat hy ’n karakter praat van die lewe wat ’n metafoor is vir die Chinese bordspel go, eerder as andersom. In ’n sin kan dieselfde van rugby gesê word. Vergelyk maar Bloemfontein of Pretoria se strate op ’n wedstryddag in die Curriebekerseisoen. Luister na die skares by die stadions, of die gesprekke in winkels en banke voor ’n wedstryd. Mense raak begeester, meegevoer. Hulle raak ’n bietjie nuts.
Rugby is dus groot. Nie sokkergroot nie, maar groot genoeg. Rugbyspelers is ook groot. Nie altyd net in persoon nie, maar ook in statuur wat op fisieke prestasie gebou is. Hulle praat in soms kortaf of onduidelike sinne voor TV-kameras en by mediakonferensies, dink heelwat van mekaar, of baie min, is die trots van die mense by die huis, sê dinge soos: “Boys, dis een vir die team.”
Matfield vertel die hele verhaal, van hoe hy as kind deur sy pa gebrei is om sterk te raak vir sport, hoe hy op skool begin uitblink het, ook in krieket, maar gereeld uit die span of posisie gehou is waarvoor hy gewerk het, hoe die patroon hom in sy studentejare en jong volwasse lewe herhaal het.
Sy loopbaan strek oor sestien jaar en om dit in hierdie bladsye te verken, is om van tyd tot tyd koue rillings van bewondering en herkenning te ervaar. Dis nie net dat ’n mens die figure uit koerante en TV-uitsendings ken nie. Dis ook mannewêreld wat hier beskryf word, iets waarvan ’n ou wil glo dat jy dit self sou kon meemaak, het dinge anders vir jou uitgewerk, was jy groter, kleiner, sterker, vinniger, slanker, dapperder, slinkser of net meer by die wedstryde. Jy sou self hierdie toets wou ondergaan, hierdie wêreld intiem wou leer ken, hard soos dit gereeld is. Vuishoue en stampe word uitgedeel. Mondskerms en kopskerms, en in Matfield se geval ook ’n armskerm, is nodig. Later in sy loopbaan sukkel hy met ’n knie, toe ’n haarlyn-fraktuur in sy nek, maar speel voort. Kapteins skel op juniors. Juniors noem seniors oumanne. En een of ander tyd word daar in ’n skrum of by ’n inisiasieseremonie wraak geneem. Daarna praat ’n mens nie oor wat gebeur het sonder om te lag nie, want jy wil nie as ’n softie gesien word nie.
Maar een of ander tyd in ’n prominente persoon se lewe kom Die Boek waarin wel ernstig gepraat word, en in Matfield en De Jongh Borchardt se vertelling van sy verhaal het ons ’n leesbare en insiggewende werk waarvan die skryfstyl goed is. Wie vir die grootste werk verantwoordelik is, weet ek nie, seker Matfield, maar Borchardt en die redakteur Tobie Wiese het goeie werk gedoen. Ek is bly dat die boek in die verlede tyd geskryf is. Dit bevestig dat hierdie tydvorm inderdaad met groot vrug in Afrikaans aangewend kan word en die skrywer toelaat om effekte te bereik wat alte opsommend en informeel in die teenwoordige tyd sal lyk.
Wel, die boek is dalk nie so insiggewend vir die ingewydes nie, vertel iemand my wat meer van rugby weet, want die boek maak nie groot openbarings nie. Maar wat daarvan? ’n Mens geniet die boek as jy ooit self ambisie gehad het om jouself te vestig, of dit nou in sport is of in ’n loopbaan of op ’n ander terrein.
Wat ’n bietjie vermaaklik aandoen, ten minste wanneer jy op jou rusbank sit en lees en nie vyftien aanstormende rugbyspelers voor dertig duisend mense hoef te konfronteer nie, is die aggressie wat met die sport gepaard gaan. ’n Mens moet glimlag wanneer jy lees hoe Kobus Wiese en Rudolf Straeuli voor wedstryde aan mekaar gepluk het en hulleself teen mure gestamp het om in die ding in te kom. Dit was interessant om meer oor Jake White en Matfield se werksverhouding te hore te kom, soos ook oor Matfield se vriendskappe met mense soos Fourie du Preez en Bakkies Botha. Laasgenoemde is keer op keer in internasionale wedstryde uitgelok om hom te vererg en te oorreageer, wat die span geel kaarte gekos het en miskien tot vermaaklike grappies aanleiding gegee het, maar ook ’n beeld van ’n sensitiewe en gelowige jong reus oordra. Van gelowigheid gepraat: dis interessant dat van die Bulle, sowel as die Bokke, vir Christelike sessies bymekaargekom het en so ook op ’n geestelike vlak tot mekaar verbind was, iets wat sekerlik daardie ietsie ekstra tot die span se verrigting kon bydra.
Die omstrede Luke Watson figureer ook en die beeld wat ’n mens van hom kry, is van ’n persoon met sterk leierseienskappe wat nie sommer saam met die stroom gaan nie. Of hy in die span regtig arrogant was en doelbewus afsydig wou wees, soos hy nie net in boeke nie maar ook indertyd in die media in die algemeen geteken is, is ’n saak om oor te wonder. Teruggetrokke en ’n bietjie eenkant, ja. En hy moes sekerlik nie daardie gewraakte uitlating oor die Boktrui gemaak het nie. Maar randfigure is meestal ouens wat minder tuis voel as ander mense en dan anders reageer as wat verwag word. Dit is ’n persoonlike mening. ’n Mens kry in elk geval nie die gevoel dat Matfield ’n persoonlike wrok afstof nie. Hy gee net nog ’n aspek van sy ervaring van vele manne weer.
Die beeld van John Smit is anders. Ook van ’n leier, maar van een wat kon staatmaak op sy gewildheid, en ’n aanvoerder wat “legendariese motiveringspraatjies” kon hou. Hy was ’n puik kaptein wat altyd oor sy manne se welstand begaan was.
Verder lees ’n mens oor die hoë vlakke van mededinging – om plek in die span, om posisies, ook om die kalklig. Wat egter die duidelikste uitstaan, is die kameraadskap. Saam met hierdie ouens sal jy oorlog toe gaan, soos hulle sê, en die wedstryde en ook die gebeure agter die skerm herinner hier en daar wel aan veldslae. Daar is byvoorbeeld ’n kostelike relaas oor hoe Matfield en ’n maat een roekelose nag slae kry en hy die volgende oggend wakker word met ’n voosgeslaande gesig, sonder dat hy kan onthou wat gebeur het. Hy moes rondbel om uit te vind. Dis lekker om oor al hierdie bekende manne te lees en vir die duur van die verhaal deel te voel van hulle wêreld.
Daar is ook ’n liefdesverhaal in die boek. Matfield was aanvanklik ietwat van ’n haan onder die henne, maar dit was baie van die spelers volgens die boek ook. ’n Mens kry regtig die indruk dat sommige vroue letterlik agter hulle aangeloop het. Dit het ’n spesiale een met die naam Monja geverg om vir Victor te tem en hy moes die agternaloopwerk doen. As “rugbyweduwee” en ma moes Monja ná die troue heelwat opofferings maak wanneer Matfield reis om elders te gaan oefen en speel. Dis ’n mooi deel van die vertelling en kon miskien ’n bietjie uitgebrei gewees het. Maar soos my eie geliefde vir my sê: dis ’n boek oor rugby.
Onder die sestien jaar van sy loopbaan sonder Matfield 2007 uit as die beste een. By die provinsiale en Super14-wedstryde is dit die jaar van die tweede Wêreldbeker, wat Suid-Afrika sou wen. Die betrokke hoofstuk is ’n groot plesier met sy staaltjies en vertellings en deurgaans die afwagting, want jy weet immers die verrigtinge stuur op groot triomf af. Natuurlik kom daardie triomf met moeite, soos al in die eerste wedstryd blyk. Matfield maak die opmerking: “Die Samoa-systap is mos om bo-oor jou te hardloop.”
Met verwysing na Os du Randt, wat ook in 1995 in ’n Wêreldbeker gespeel het voor hy uit rugby is, net om terug te keer en 2007 mee te maak, stel Matfield dit dat ’n rugbyspeler elke oomblik moet geniet, want jy weet nie wanneer jy skielik aan die einde van jou loopbaan kom nie. Dalk is die essensie van die boek in hierdie siening geleë. Want rugbyspelers, groot van statuur soos hulle word, se loopbane is op jong ouderdom verby. Wat bly daarna oor? In die professionele era kan sportmanne finansieel vir die toekoms voorsiening maak. Buitendien noem Matfield sy vennote saam met wie hy voortaan in ’n onderneming genaamd WAD Finance gaan werk, asook ’n aanbiedersrol op SuperSport, en sê: “My planne (is) agtermekaar.” Maar wat van ander aspekte, die status, erkenning en ook mag wat gereeld met aktiewe loopbane gepaardgaan en ná aftrede mag kwyn? Is die bewondering van die publiek, die verskynings op televisie, die Old Boys-byeenkomste, die braaivleisvuurnabetragtings en die foto’s en herinneringe genoeg om ’n man lewenslank te dra?
Tog wel, wil dit lyk. So ’n man kom uit ’n smeltkroes waar ander manne hom gevorm het, maar waar hy ook getemper is deur invloed van buite, soos in Matfield se geval sy ouers, vrou en sekerlik later kinders. Matfield skryf: “Ek was gelukkig … om deur rugby baie lewenslesse te leer. Vir my was die belangrikste dat jy nooit jou beginsels moet prysgee nie.” En ons lees ten slotte van die nuwe droom, om eendag as Springbok-afrigter mee te doen daaraan om weer die Webb Ellis-beker Suid-Afrika toe te bring.
Die boek bied ’n portret van ’n jong man wat in ’n sportsoort prestasie en erkenning, maar ook teleurstelling, geken het (vergelyk 2011 se Wêreldbeker en ’n foto van ’n uitdrukkinglose Matfield wat afkyk op die skeidsregter Bryce Lawrence terwyl die twee bladskud), en langs die pad hegte vriendskapsbande vasgelê het. ’n Mens het vertroue in die kalm stem wat jou hierdie verhaal vertel en jy glo dat die lesse wat in die spel geleer is, op ’n groter terrein toegepas sal kan word. Dat die nuwe, stiller lewe wat noodwendig op soveel sukses volg, tog op ’n manier net so bevredigend en opwindend sal wees.

