Verwonding

  • 0

Waar is die weermagkamp nou? Dit was net hier? Die oorlog is verby. Ander soldate marsjeer nou. Walvisbaai. Namibië. Suidwes. Miskien het die dorp net so uitgebrei dat mens dit nie meer kan sien nie. Hulle ry lank in die dorp rond op soek na tekens van die verlede.

“Kom ek gaan wys julle die Flaminke.”

Die Flaminke sit rooi gekleur op die meer. Hulle dwarrel nie op nie en hulle kan hulle nie goed sien nie. Daar is miswolke in die lug.

“Die weer verander vinnig hier. Die een oomblik warm dan draai die wind – stof – en dan weer mis. Oosweer is net stof tot die aand. Die aande is lieflik. Baie mense het dan ’n vleisbraai gehou.”

Hulle ry na die hawe toe. Die kiosk. Bybels in verskeie tale. Matrose het dikwels hier Bybels gekry.

Herinninge wat opstapel. As jeugdige die kiosk beman. Daar was altyd die verwagting van hoop.

Die aand laat. ‘n Chinees van die visserskuit. Hy kyk geïnteresseerd in. ’n Chinese Bybel lê oop. Rooi kaartjie by Johannes drie vers sestien. Wys na die teks. Die Chinees loer na die teks. Kan waarskynlik nie lees nie. Kyk dan weer op in sy oë in. Die ligte slaan uit. Die Chinees wip hemelhoog en storm met ‘n kreet uit die kiosk uit.

Die wêreldwyse westerling. Wat wil hy hom leer? Hy weet immers alles. Hy reis orals. Lankal afskeid geneem van enige geloof. Wil weet of hy sommerso ‘n vlieg kan doodzap. Nie? Wat help dit dan. Geloof is maar ‘n droom. Mens moet reis. Aanhoudend. Dan sien jy dinge. Leer dinge ken. Weet God is nie daar nie. Weer Johannes drie vers sestien. Luister tog net. Hy lag. Dink hulle is naïef. Stap slinger-slinger na buite.

Hy het volgehou. Matrose wou nie veel weet nie. Tog was daar diegene wat geluister het as hulle in gebroke Engels met mekaar probeer praat het. Met prentjies verduidelik.

Walvisbaai-weermag se Siberië vir baie. Weggebêre van die hoë koppe in Pretoria. Troepe vergete in die woestyn. En tog – niemand sukkel met ‘n woestynrot nie. Soms is die onopleibares hierheen gestuur. Kyk of hulle iets in die woestyn kan leer. Dan kom die pshyco’s en ondersoek hulle. Stuur hulle huis-toe. Nie almal wou gaan nie. Daar was eer om jou land te dien.

Walvisbaai bars uit sy nate. Vooruitgang soos nooit vantevore nie. Toegangspoort tot Namibië.

Hoe het die man hom geskel. Julle deel traktaatjies uit en kyk wat doen julle teenoor die mense in die land. Hy – geskok – wil sê julle doen veel erger dinge. Sou wou weet wat hulle nou dink. Die Weste het beangs geword. Het geen raad met immigrante en terreur nie. Hulle wat so alles geweet het.

Toe die troepe die eerste keer aankom is hulle van die trein na Duin Sewe geneem. Gejaag to bo en terug aanhoudend, aanhoudend. Kotsens toe. Verwelkom in Walvisbaai. Hier is julle nou. Weet wat vir julle wag.

Met die stap na die motor swik sy voet. Skielik ‘n brandpyn. Hy trippel ‘n entjie. Gryp sy voet. Dink dit is maar net ‘n verswikte enkel maar die pyn bly brand. Hy gaan sit. Byt op sy tande. Sy gesin kom besorgd nader. Hulle moet hom dra en help om agter in te klim. Dit word aand soos ‘n droom wat oor mense kom en hulle nie meer daarvan kan loskom nie. ‘n Droom van die nag. ‘n Droom wat nooit sal verander nie. Net so bly. Nag oor hulle, nag van verlanges oor mense wat stil verbyloop soos die skimme van die nag. Waar is hulle nou?

Hy knyp op sy tande.

Daar was die geval van die jong soldaat. Op die skietbaan. ‘n Dag van wind en stof. ’n Dag wat mens sou wou vergeet. Die dag van Walvisbaai. Die plek wat hy sy gesin kom wys het. Die plek in Namibië waar die vis loop. Die plek van die nuwe verwagting.
Dit was die dag van die soldaat. As jong dienspligkapelaan wou hy uitgaan na die skietbaan maar iets het hom weerhou.

Dit was ‘n harde dag. ’n Dag van uitputting. ‘n Dag …

Die troepe rus eers, maar die korporaals skel nog steeds. Hulle jaag die een na die ander heen en weer.

Dit was die dag van die jong soldaat wat op tweehonderd meter gaan staan het. Hy het sy R1 opgetel. Gespan. Wou hy die korporaal skiet? Het hy hom bedink? Is ek ‘n woestynrot? Het hy so gedink? Toe die sneller getrek. Op homself gerig.

Die Kommandant was baie simpatiek. Hy het by die parade rustig daaroor gepraat. Die soldaat erken. Gevra dat die kapelaan lei in gebed. Al sou Pretoria daarna oor die dood baie vrae vra.

Die jong Dienspligkapelaan was verslae. Sou hy hom kon gekeer het?

Mens kon teen Duin Sewe met ‘n duinplank afgly. Dit was verbode vir die troepe. Maar daar is soms gebraai by die duin en dan het die kinders van bo tot onder met die duinplank afgegly.

Daar was die Russiese vissersboot. Hulle het hom kom waarsku by die kiosk. Hy neem dadelik Bybels na die boot. Dit is sy kans om Bybels in Rusland in te kry. Daar is mans en vroue op die boot. Hy gee Bybels aan. Hulle blaai daarin. ‘n Vrou begin lees. Hulle drom om haar saam. Sy lag soos iemand wat ‘n groot geskenk gekry het. Die vissers drom om haar saam. Hulle koester die Bybels. Hulle gaan vertrek. Die Bybels word een vir een teruggeplaas op die kaai. Nie een word geneem nie. Skielik val ‘n Bybel in die see. Hulle klap hulle tonge in weemoed. Die boot vertrek uit die hawe. Dit word stil. Daardie aand is die see soos ‘n spieël met die son geel wat in die water kaats.

Sy enkel swel op. Hulle moet verder reis. Daar is nie tyd vir ‘n dokter nie. Hy sal dit verbind. Die pyn sal tog weer verminder. Herinneringe sal in die oggend kwyn. Die reis sal ook eindig. Soos die oorlog.

 

Lees hier meer oor die reisskryfkompetisie: 1 001 reiswoorde

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top