Titel: Verwoerdburg
Skrywer: Johann Rossouw
Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415204009
In die jaar 2014, 20 jaar na die 1994-verkiesing, met land- en stadskaarte wat lyk asof ’n nuwe geslag ontdekkersreisigers en dorpstigters dieselfde gebied nuut opgeteken het, kan ’n roman met die titel Verwoerdburg nie ongesiens verbygaan nie.
Verwoerdburg is die verhaal van ’n twintigjaar-reünie wat aan die hoofkarakter, die skrywer Jakes, die geleentheid bied om ’n bestekopname van sy generasie te doen. (Sy vriend Stefan praat van die “soort besetenheid wat hy gehad het, die skryfding van hom”, 39.) Jakes is gedurende sy skooljare bewustelik ’n skrywer in wording, wat geen morele of ander kommentaar lewer op gebeure wat nuttig sou kon wees vir sy literêre loopbaan nie. Wanneer Leo en Petra dus in standerd 8 seks in die biologieklas het, wil Jakes die besonderhede by sy vriend hoor: “Dankie, dit sal my help as ek eendag oor sulke goed moet skryf. En dalk as ek my kans met Adéle se ma kry” (92).
Verwoerdburg is ’n soort palimpses: Jakes het in sy eerste roman, Die agtergeblewenes, ’n eerste, vernietigende beskrywing van sy generasie gegee wat deurlopend as (fiktiewe) intertekstuele verwysing in Verwoerdburg gebruik word. Of is dit fiktief? Die skrywer-filosoof Johan Rossouw het, soos Jakes, een ander roman gepubliseer, ’n Rooi Z4 en ’n Renaissance-kasteel (2007). Dit speel binne dieselfde geografiese grense af en daar is interessante ooreenkomste (stadskaarte as ’n integrale deel van identiteit; die aantrekkingskrag van mooi vroue in mooi, vinnige sportmotors).
Tussen Jakes se skooldae en ’n reünie van die Hoërskool Eldoraigne verloop 20 jaar; gedurende hierdie tyd was die plaaslike ontwikkelaars ook nie ledig nie. Jakes het vir hom ’n nuwe lewe in die buiteland, in Monaco, geskep (soos bevestig deur ’n paar Franse woorde in die teks; Rossouw is ook die Afrikaanse vertaler van Pascal Quignard se Tous les matins du monde), maar kan nie wegkom van die herinnering aan Verwoerdburg nie. Dalk nóg belangriker: hy kan nie aan die skryf kom nie. Verwoerdburg is in die eerste plek ’n skrywerkarakter se persepsie van “hoe dit was”; dit is ’n roman oor dit wat ’n mens bedoel is om te skryf. In ’n era waar die soeke na identiteit as ’n sleuteltema in talle romans, films en dokumentêre gebruik word (die voorbeeld van die Algerynse pieds-noirs is voldoende), ondersoek Rossouw die invloed wat Verwoerdburg op ’n paar hoërskoolmaats gehad het. Verbasend baie van die klasmaats woon die reünie by: “Want hulle soek ’n huis en mense waar hulle behoort. Hulle het huis toe gekom, Jakes, al is dit net vir ’n middag en ’n aand,” meen Karel (147). Karel, Stefan, Laryna, Marius, Petra, Leo en Adéle het almal tydens hul skoolloopbaanop die een of ander manier leiding gesoek by Jakes: aanvanklik met hul lewenskeuses, maar uiteindelik ook (en miskien belangriker) met die neerpen van hul lewens as letterkunde en as ’n erkenning aan die plek wat aan hulle geboorte geskenk het en wat as gevolg van naamsverandering nie meer op ’n kaart voorkom nie. Hulle is die generasie wat van nêrens af kom nie: hoewel tallose dorpe en strate nou ander name het, was daar net een plek in Suid-Afrika wat ná die sluipmoord na Verwoerd vernoem is. Lyttelton het egter nie net Verwoerdburg geword nie; in die vroeë negentigs het die NP-regering besluit om van die lastige naam ontslae te raak: “Kamstige grootse volk wat nie gou genoeg hulle plek in die geskiedenis kon ontruim nie” (139). Rossouw spreek dus ook (Suid-) Afrikaners se gebrek aan ’n historiese bewussyn aan: Verwoerdburg is nie net die verhaal van ’n generasie nie; dit handel ook oor die identiteit van plekname, historiese bewussyn en die verwerking van die verlies van laasgenoemde deur ’n verteenwoordigende geslag jongmense.
Jakes se skoolvriende lewer almal kommentaar op Die agtergeblewenes in hoofstukke wat na hulle vernoem word en skryf sodoende saam aan die nuwe weergawe van die gebeure, Verwoerdburg. Hul kommentaar op Jakes se weergawe neem meestal die vorm aan van ’n karakterskets van Jakes self.
Jakes se invloed op sy vriende laat ’n mens dink aan Alain-Fournier se Le grand Meaulnes: “Maar jy kon hom voél, so ’n donker, broeiende gevoel. ’n Ondermaanse gevoel, sou ek vandag sê. En al wat hy gedoen het, as hy nie besig was om alles en almal om hom waar te neem nie, was om te lees” (42).
Die roman bestaan uit twee dele: deel 1 kan beskryf word as ’n reeks monoloë wat patroonmatig aangebied word (die hoofstukke word streng afgewissel tussen Jakes en die ander karakters; dus: Jakes > Karel > Jakes > Stefan > Jakes, ens). Dit het ook interessante gevolge vir die narratief, wat aan die einde van elke hoofstuk onderbreek word wanneer ’n nuwe verteller vanuit ’n ander tyd en plek die verhaal voortsit.
Die struktuur van die roman toon dat Rossouw (wat, soos alle skrywers, ook ’n ywerige leser is) deeglik besin het oor karakterisering en die vertelinstansie. Lesers met ’n bewondering vir die Franse skrywer Honoré de Balzac sal hierin ’n ooreenkoms sien met die Comédie Humaine, waarin dieselfde karakters in verskillende romans verskyn, elke keer vanuit ’n nuwe hoek. Daardie beginsel word hier in gekondenseerde vorm gebruik, in ’n betreklik kort roman van 167 bladsye. Dit skep die idee dat die buitestander Jakes nie net die hoofkarakter en onbetwisbare leier van sy vriendekring is nie, maar ook die ander karakters se herinneringe “korrigeer” met die gesag van ’n skrywer (verba volant, scripta manent, sê die spreekwoord: dit wat neergeskryf word, is uiteindelik die weergawe wat die geskiedenis sal onthou).
Die tydkapsule van ’n reünie het natuurlik ook ’n invloed op die praatstyl van die karakters: enersyds is almal nou twintig jaar ouer, andersyds is die onderwerp van bespreking hul herinneringe en die tyd wat verloop het sedert Verwoerdburg. Dit het sekere implikasies vir die skryfstyl (wanneer die karakters onthou, is dit dikwels met die woordeskat van die mense wat hulle toe was), soos in Laryna se geval (haar taalvermenging is ’n politieke stelling, ’n bewys van haar politieke bevryding): “Terwyl ek nie die tools gehad het om ’n kritiek op my pa se nasionalisme te ontwikkel nie, hét ek gevoel daar’s groot fout. I mean, ek was ’n akademiese wrak. [...] Obviously het ek nie besef my toestand is een van anxiety nie, of dat dit deur die military regime by ons huis veroorsaak word nie” (60). En: “Ek het lankal ophou publish of teach in Afrikaans en my vriende is basies almal Engels of prefer Engels, me included” (67).
In deel 2 word hierdie alwetende verteller, wat byna neerhalend, in verkleiningsterme, van sy maats gepraat het, ontmasker (om ’n ander deurlopende tema, dié van maskers, te gebruik) as ’n “onwetende” verteller: “Ek dink ek sien dat ons die onbekende oorlewendes is. Ons het PW en Verwoerdburg en 2 Februarie 1990 en alles daarna oorleef. Maar niemand weet van ons nie” (166). Die reünie gee hom nie net stof vir ’n nuwe roman nie, maar ook insig wat verkry word uit gesprekke, TV-onderhoude, vuisgevegte en die realisering van ’n ou seksuele fantasie. Petra ontleed as volg tydens ’n TV-onderhoud haar jeug en plek van grootword: “[As] the changes in the country set in, we had to confront the grim reality that our innocent youth was a time of extreme guilt. So, we are not permitted to be nostalgic for our youth, at last not openly. Which is why, I guess, we end up all the more nostalgic for it, and secretly so” (152).
Die reünie vind in Centurion plaas, maar die titels en hoofstukverdeling lei vir Jakes en die leser terug na Verwoerdburg en die bestaansrede vir hierdie roman. Dit is by die reünie dat hy insig in homself verkry deur sy skoolmaats se getuienis: “En julle almal het ’n stuk van my gesien wat ek nou eers begin besef. [...] Die punt is dat ek gedink het ek kan myself maak, dat ek niks van julle is nie, dat ek niks op hierdie plek geleer het nie” (159). Dit is uiteindelik juffrou Sophie wat hom insig gee in sy eie agtergeblewenheid, hom die moontlikheid van ’n nuwe kerkverband bied en die vertellersinvalshoek suggereer: “As jy ons moeder, Verwoerdburg, in die eerste plek laat praat, en dan ons almal, haar kinders?” (166).
Die paratekstuele elemente van hierdie roman verdien aandag: die teks word voorafgegaan deur ’n opdrag en deur ’n aanhaling uit die “klankbaan” van hul jeug:
Opgedra aan my geslag –
En aan hulle wat ons tog, ondanks alles, gevorm het.
En, uit “Tore the old place down”: “He says: ’What’s happened to my city? What’s happened to my home?’.” In ’n ideale (literêre) wêreld sou die leser op bepaalde plekke in die teks na die musiek kon luister; dit is welbekend dat min dinge die verlede so onmiddellik en so sintuiglik terugroep as juis musiek.
Die liedaanhaling laat ’n mens onwillekeurig dink aan ’n Italiaanse trefferlied uit die 1960’s, Adriano Celentano se “Il ragazzo della via Gluck”, later deur Françoise Hardy gesing as “La maison où j’ ai grandi”. Die tema is dieselfde in al drie liedjies: die ontreddering van verandering, identifisering met ’n landskap. In hierdie belangrike herdenkingsjaar (van onder andere die Eerste Wêreldoorlog, waar verandering epiese proporsies aangeneem het, soos in Ieper) plaas Verwoerdburg die klem op plek en identiteit.
’n Ander paratekstuele element kom aan die einde van die roman voor, waar die plekke en datums (2001–2013) van die roman se genesis aangedui word. Melbourne is nie Monaco nie, maar miskien is daar iets van die verlore seun wat terugkeer by die outeur aanwesig.
Die interessantste vertelinstansie kom egter in die “proloog”, met dieselfde titel as die roman, voor: dit is die moederfiguur, Verwoerdburg self, wat as ’n soort uitgebreide prosopopeia die roman as ’n ek-verteller inlei:
Soos wat elke boek sy skrywer het, so moes apartheid sy Verwoerdburg hê: ’n plek genoem na die man wat meer simbolies van dié stelsel was as enigiemand anders. Hoe swaar het ek nie aan die naam gedra nie. [...] My naam was ’n nimmereindigende doodsberig, meer simbool as plek. (13)
Die alwetende verteller is dus die dorp, wat ook kennis dra van Jakes se eerste roman (wat nie reg laat geskied het aan die generasie wat die fokus daarvan is nie):
Ek het geglo Jakes was die een wat met sy idealisme, met sy woedende sin vir wat reg en waar is, hierdie dinge kon boekstaaf. Maar ek het nie rekening gehou met sy woede en sy wonde nie, met hoe dit sy oordeel aangetas het nie. Dít, glo ek, is waaruit sy roman, Die agtergeblewenes, gebore is. Dít is die rede vir die verraad en verdraaiings wat hy daarin gepleeg het, vir die manier waarop hy sy tydgenote se diepste geheime, hulle binnegoed, om dit nou so te stel, so onsimpatiek vir die wêreld uitgestal het. (14)
Hoewel Jakes met sy skrywersbewussyn en juffrou Sophie as pedagoog en “vormer” ook belang het by dit wat die nageslag van Verwoerdburg sal onthou, is dit die plek self wat op geregtigheid en waarheid aandring:
Die tyd het aangebreek dat die feite oor my kinders reggestel word. Per slot van rekening moet hulle en hulle kinders nog voortgaan met hul lewe, terwyl my lewe verby is. En hoe sal hulle koers kan hou as die rigting waaruit hulle gekom het nie oplaas geboekstaaf word nie? Ek praat dus nie om my eie onthalwe nie. Dis ter wille van hulle. Húlle moet praat. (16)
Ná die proloog verdwyn die Verwoerdburg-verteller. Dit is opvallend dat die manlik-klinkende Verwoerdburg vrou en moeder is, omdat moeders byna afwesig is in die roman: Jakes se eie moeder, een van ’n hele geslag vroue met “ysterpielmans” (55), word in een sin opgesom: “My ma se ewige emosionele eise is nou bloot ’n vae herinnering” (17). Eileen, die inspirasie vir Jakes se seksuele fantasieë, sy skoolmaat Adèle se moeder, is nie ’n versorger nie, maar die vroulike eweknie van Don Juan, wat met Venesiese maskers en kostuums die vlam van begeerte by haar verskeie minnaars, wat minderjariges insluit, brandend hou. Juffrou Sophie, die onderwyseres wat die hoofkarakter se inisiasiereis (uit Monaco na Suid-Afrika, na Verwoerdburg, na die reünie van die Hoërskool Eldoraigne) in ’n Afrikaanse Ortodokse Kerk tot ’n einde laat kom, Dante-Jakes se Vergilius, is ’n ongetroude, kinderlose mentorfiguur.
Hoewel die roman die verhaal van ’n generasie skoolmaats voor 1994 vertel, is dit by implikasie ook die verhaal van hul ouers. Jakes se siening van die vaders van hul generasie is allesbehalwe positief: “Mans wat reggestaan het om hulle vrouens en kinders reg te skree en reg te moer, maar nie mans genoeg was om aan hulle ideale getrou te bly nie” (55). Jakes noem nie watter ideale ter sprake is nie. Stefan se vlieëniervader word na drank gedryf deur sy seun se mislukking en deur ontwikkelinge ná 1994:
Maar wat [my pa] oor die rand gestoot het, is die politiek en die oneerlikheid en die rassespanning wat in die lugmag, eintlik die hele weermag, posgevat het. Hy was bereid om alles in sy vermoë te doen om swart vlieëniers op te lei om sy kundigheid te deel, maar dis in sy gesig teruggegooi.
Die storie van die polities naiëwe ouer wit man wat hom teen die politiek vasloop, was my pa s’n. Waar hy nooit in sy lewe ’n ding oor ras gehad het nie, het sy nuwe bevelvoerders hom gedurig aan sy velkleur herinner. En aan sy gekompromitteerdheid as soldaat van die apartheidsbedeling, soos hulle dit gesien het. En om te midde van dit alles te moet sien hoe die standaarde van sy geliefde lugmag begin val en die nuwe ouens die een fout ná die ander maak en nie na hom wil luister nie, dit was te veel vir my pa. So, toe vat hy ’n pakket en begin drink. (49)
Stefan, wat as portier by die HF-hospitaal begin werk, verskaf die nodige politieke agterdoek: “Dit was nie ’n maklike werk nie. Nagskofte, baie bloed. Ek bedoel, dit was die vroeë tot middel negentigs en die geweld het al hoe meer na die stedelike en wit gebiede begin oorspoel. Ek het lelike goed gesien” (48).
Die gesprekke tussen Stefan en sy pa gee dan ook ’n aanduiding van hoe daardie geslag skoolkinders professioneel in die nuwe Suid-Afrika oorleef.
Klem op die ruimte van die karakters se vormingsjare herinner soms aan Hippolyte Taine se deterministiese teorie van ras, milieu en tyd (hulle was wit; dit was Verwoerdburg voor 1994), waarby ’n vierde element, naamlik musiek, gevoeg sou kon word (Jakes het na Popshop geluister om nie mal te word van verveling op Verwoerdburg nie). By die Hoërskool Eldoraigne aangekom, reageer Jakes as volg: “Op hierdie donnerse plek – by hierdie skool – is ek ooglopend so opgeneuk dat ek dekades later nog nie die stemme uit my verlede op hulle plek kan sit nie. Vanaand vat ek hierdie plek vas, sit ek hierdie plek op sy plek” (143).;
In baie opsigte is hierdie ’n ideë-roman soos dié van ander skrywer-filosowe (Rousseau, Voltaire), soos juffrou Sophie se ontleding in die volgende aanhaling illustreer:
Wat kan ek sê oor die tyd en die plek waar hy en sy geslag hulle verstand moes kry? Dat dit ’n tyd en ’n plek was waar die verstand onverstandig was en die begeertes óf doodgemaak, óf dodelik was. Dit was nie omstandighede wat die hart, die rede en die siel geïntegreer het nie, soos ek self ook maar eers later danksy die Ortodokse Kerk geleer het. (117)
Die roman behoort ’n broodnodige debat in literêre en politieke kringe oor vergete generasies aan die gang te sit. Die debat sou kon begin met ’n paar aanhalings, soos hierdie een:
Ek praat van die wêreld waarop ons voorberei is. Waarin ons ons plek moes inneem en ons beste gee. Ek praat van die onskuld waarmee ons geglo het. Dis vir altyd weg. Al wat ons het, is mekaar se herinneringe en ondersteuning. Ons is die oorlewendes en ons weet waardeur ons is. Ons verliese is nie groot genoeg om gereken te word by die verskriklike goed wat gedoen is aan mense wat nie soos ons lyk nie. Maar dit verander niks aan die feit dat wat ons verloor het ons gemaak het wie ons is nie. En hoe word jy wat jy moet wees as dit wat jou moes oriënteer jou mislei sowel as begelei het? (137)
’n Mens kan maar net hoop dat die debat robuust sal wees: identiteit is huidiglik ’n kardinale tema in wêreldletterkunde, en Verwoerdburg is die eerste Afrikaanse roman van 2014 wat dit aanroer. Verwoerdburg is egter ook, soos in die geval van Kundera se werk, ’n roman oor die skryfproses binne ’n sekere politieke konteks: Kan jy oor Suid-Afrika skryf indien jy (soos Jakes) luuks en geborge in Monaco sit, onderhou deur ’n ideale minnares? Daar is eggo’s van Kanna, hy kô hys toe in Karel se verwyte: “Fok, Jakes, ons het jou nodig gehad en toe’s jy net weg na die lekker lewe toe. Het jy dan vergeet waar jy vandaan kom? Jy was die een ou wat kon opstaan vir ons. Jy met jou woorde, bang vir niks nie. En toe’s jy net weg” (147).
Maar maak die “beklemming, die haat en die angs” (17) ter plaatse dit nie insgelyks moeilik om afstand te kry nie? In hierdie 20ste herdenkingsjaar van 1994 moet die leser besin oor die kenmerke van die Verwoerdburg-generasie, soos dit in die roman aangebied en deur die keuse van karakters uitgebeeld word. Volgens Jakes moet ’n mens doen waarvoor jy gebore is, anders sal jy mal word. Marius pas serebraal aan by veranderende omstandighede: “Jy werk ’n deeglike toekomsplan uit. Jou plan moenie net soveel moontlik veranderlikes in ag neem nie. Dit moet jou ook in staat stel om so ver moontlik in beheer van jou toekoms te bly. En wanneer jy jou plan opgestel het, begin jy dit metodies deurvoer” (72).
Die pre-1994-periode se deeglike opleiding in wiskunde, wetenskap, biologie en rekeningkunde maak dit makliker om die plan te verwensenlik. Die keuse van Petra, wat, soos ander beroemde (Suid-) Afrikaanse aktrises, die opsie van emigrasie oorweeg, impliseer ’n ander tongval, en dus onmiddellike verengelsing. Adéle, wat ook na die goeie opleiding van die verlede verwys, hunker na ’n basiese vryheid wat dikwels nie meer buite die (betreklike) sekuriteit van ’n privaatwoning bestaan nie: “Ons geslag is seker gelukkig dat ons nog deur goeie skole en universiteite is. Dit maak nog steeds baie deure vir ons oop, al is so baie van die ander dinge wat ons geken het, weg. Ons kinders sal nie met fietse in die strate kan ry nie, of die vryheid hê wat ons gehad het” (109).
Eileen se dogter Adéle emigreer na Italië saam met ’n Suid-Afrikaanse Italianer, Luigi, wat weier dat sy vrou werk nadat die kinders gebore is. Is hy ook ’n “ysterpielman”, ’n patriarg, of die soort hoof van ’n huishouding oor wie moeë vroue met ’n voltydse werk en groot gesin net kan droom?
Jakes en sy maats is gelukkiger as ander generasies: daar word ’n reünie gereël waar die meeste van sy vriendekring teenwoordig is. Hy word die kans gegun om na die verlede te reis, om die karakterisering in sy eerste roman, Die agtergeblewenes, aan die werklikheid te meet. Die slotsom van die roman sou, oppervlakkig gelees, klink soos ’n suksesverhaal van die “Bring Suid-Afrikaners huis toe”-veldtog, ’n herwaardering van die essensiële waardes wat Verwoerdburg aan haar kinders gegee het. Maar ten spyte van die positiewe einde (Jakes vind homself, ’n kerk, ’n onderwerp vir sy nuwe roman), of miskien juis as gevolg daarvan, voel die leser effens uitgesluit van die klasreünie: want Verwoerdburg bestaan nie meer nie; Centurion is nie net ’n nuwe naam nie, dit is ’n nuwe plek. Daardie eksistensiële krisis wat ontstaan wanneer ’n naam verander, sal weer en weer hanteer moet word; dit is nie duidelik of die reünie dieselfde byna euforiese effek op al die klasmaats gehad het nie. Skrywers het altyd die voordeel dat, wat ook al gebeur, hulle ten minste ’n verhaal uit die gebeure sal kry. En treffende, sintuiglike beskrywings soos die volgende:
Ek met my grys skoolkouse aan; my boeksak rem aan my regterskouer. Marius staan op die stoep in sy kortbroek. Die wind is koud. Karel staan agter ’n tafel en warmbrakke verkoop. Laryna en Petra in hulle groen skoolklere en truie op die warm dag, bokstertjies, giggelend agter hulle hande, terwyl hulle na my en Stefan kyk. [...] Ons weet nog nie dat ons die res van ons lewe oor en oor hier sal stap, en weer dieselfde tonele sal kyk en vir altyd agttien sal wees nie. (144)
In hoeverre is nuwe bedelings verantwoordelik vir die koers wat ’n mens se lewe neem? Die debat wat Verwoerdburg hopelik sal ontketen, is hoe herkenbaar hierdie spesifieke geslag is, wat die presiese aard van hul verlies was, en wat hulle sien as hul rol in die Suid-Afrikaanse wêreld ná 1994. ’n Mens kan nie anders as om aan Kundera te dink nie, veral aan ’n roman soos The unbearable lightness of being: die Russiese inval van Tsjeggië was ’n tragedie, maar is nie as sodanig verantwoordelik vir die patologiese ontrouheid van die hoofkarakter nie. Verwoerdburg en die Suid-Afrika van voor 1994 is die agterdoek van hierdie karakters se lewens, maar in hoeverre is die bestel verantwoordelik vir die karakters se besluite? In een van Adéle se eerlikste uitsprake erken sy haar onsekerheid: “Ek wens ek kon by net een van hulle hoor dat dit nie net my lewe is wat iemand anders se lewe is nie. Daar moet tog nog van hulle wees wat verkeerd gekies het” (111). Die skool is dikwels gewoon waar die pad gevurk het: sy wil “net weer vir een keer in my lewe teruggaan na wie ons was. Dalk sien ek dan wie ek is ... wat ek moet doen” (111).
Wens ons dit nie almal nie?