Verwerkte werklikheid die oomblik wanneer pen op papier ...
“[T]hat history should have imitated history was already sufficiently marvelous; that history should imitate literature is inconceivable.” – Jorge Luis Borges, in “Theme of the Traitor and the Hero” (1944).
Besit fiktiewe verhale enige waarheid? En kan geskiedskrywing as “die waarheid” beskou word? Wat gebeur die oomblik wanneer pen op papier gesit word en ‘n ware gebeurtenis gedokumenteer word?
Dit is hierdie vrae wat die afgelope paar weke deur my kop maal. Dit is vrae wat onvermydelik is as mens dink oor wat ‘n fiktiewe teks anders maak as geskiedskrywing. Of onvermydelik as mens enigsins oor die identiteit en aard van fiksie dink. Wat maak fiksie anders as sogenaamde feite? Is albei nie maar ‘n verwerking van die werklikheid nie?
Miskien is dit so dat ons hedendaagse begrip van gebeurtenisse in die verlede heeltemal anders is as wat regtig gebeur het. Shakespeare het byvoorbeeld die dood van die geskiedkundige Julius Caesar gefiksionaliseer. Het Caesar regtig voor hy dood is, uitgeroep: “Et tu, Brute? Then fall Caesar!”? Tog, as ons vandag dink aan die dood van Julius Caesar, dink ons dikwels aan Shakespeare se toneelstuk en die bekende laaste poëtiese woorde van die Romeinse legende.
Soos reeds hier bo aangedui, kom die inleidende aanhaling uit die kortverhaal “Theme of the Traitor and the Hero” van Jorge Luis Borges, oor wie ek verlede week geskryf het. Hierdie kortverhaal is oorspronklik in 1944 in die joernaal Sur(nommer 112) gepubliseer en gee Borges se opinie oor wat sogenaamde “vals geskiedenis” is. Ook in hierdie verhaal kom Shakespeare se bekende toneelstuk waarin hy Caesar se dood fiksionaliseer, ter sprake. Die karakter James Nolan maak in die verhaal van Borges die Ierse legende Fergus Kilpatrick dood deur dramatiese gebeurtenisse wat in die teks van Shakespeare op die toneel opgevoer word, as model vir die teregstelling te gebruik:
He repeated scenes from Macbeth, from Julius Caesar. The public and secret enactment comprised various days. The condemned man entered Dublin, discussed, acted, prayed, reproved, uttered words of pathos, and each of these gestures, to be reflected in his glory, had been pre-established by Nolan. (Lees die verhaal hier)
Met hierdie verhaal illustreer Borges die vervaging van die grense tussen fiksie en geskiedenis en gee sy mening oor “vals geskiedenis” deur die oë van verskillende storievertellers wat in die verhaal met mekaar interaksie het. Nie net die verlede word herhaal nie, maar die spesifieke verlede wat in letterkunde gemitologiseer is. Die interaksie tussen die verskillende storievertellers veroorsaak ‘n kringloop waarin waarheid en leuens onlosmaaklik aan mekaar geskakel word en mens jouself afvra wat nou juis waarheid en wat fiksie is. Soveel so dat Shakespeare se fiksie (Julius Caesar en Macbeth) net so feitelik en akkuraat soos die opskrywing in ‘n geskiedenis teksboek word.
![]() |
|
Morte di Giulio Cesare ("Death of Julius Caesar"). By Vincenzo Camuccini, 1798 |
Wat sê Borges dus oor die verhouding tussen waarheid, valsheid, feite en fiksie in tekste in hierdie kortverhaal?
Moontlik dat die oomblik wat pen op papier gesit word en die gebeurtenis opgeteken of neergeskryf of uitgebeeld word, dit ‘n entiteit van sy eie word. Dit is nie langer “feite” of “fiksie” nie, maar maak onmiddellik die konvensionele grense tussen fiksie en niefiksie vaag. In so ‘n mate dat ‘n fiktiewe teks meer geloofwaardig, meer tasbaar of voelbaar kan wees as geskiedkundige feite.
Een ding wat vir my opvallend is as ek na die nuus kyk en pres Jacob Zuma se onlangse mening (10 September lees oor hoe “negatief” hy beweer Suid-Afrikaanse joernaliste oor byvoorbeeld misdaad en korrupsie in Suid-Afrika skryf, dink ek aan hoeveel mag die media het om ‘n sekere beeld van Suid-Afrika – en van ons president – te skep.
Dit is so dat die media (en ek kan nou nie anders as om die volgende tekening van Zapiro, voor my geestesoog te hê nie) die werklikheid verwerk, hetsy dit die “waarheid” dokumenteer of ‘n fiktiewe beeld daarvan maak. As ek dink aan pres Zuma, dink ek dikwels aan ‘n karikatuurmannetjie met ‘n stortkop op sy hoof – as gevolg van Zapiro se fiksionalisering van Zuma se uitsprake en handeling. Of is dit omdat Zuma sélf berugte raad oor stortkoppe gegee het? Kan fiksie meer “eg” – meer outentiek, geloofwaardig, meer “voelbaar” – as die werklikheid wees? Of is dit alles net ‘n valsheid, ‘n gekonstrueerde werklikheid wat ons ons president, soos hy beweer, in ‘n valse lig laat sien?
Blykbaar het Borges geglo dat wanneer mens ‘n enkele reël van Shakespeare voordra, mens Shakespeare word. Lees gerus die volgende persoonlike ontmoeting en verslag van 'n vriendskap met Borges – waarin hy ook die skryfproses met “sincere dreaming” vergelyk.
Borges se laaste gepubliseerde kortverhaal “Shakespear’s memory” word voorgelees en bespreek deur Hisham Matar. Luister!
Stuur gerus vrae wat julle wil hê ek in my rubriek moet ondersoek. Ek is oop vir alle voorstelle. Volgende week meer oor die literêre tegniek van die gevonde dokument, false document of phantom pre-text. En miskien iets oor Aardklop, waar ek dié week gaan ronddwaal. Vir dié wat daar gaan wees, sien julle by die boekbesprekings!
Rentia


