Vervolgers van Christene en hul einde

  • 1

Chris verwys na die vervolging, marteling en ontberinge van vroeë Christene as “oordrewe”. Natuurlik sal hy, maar soos gewoonlik praat hy snert. John Foxe is ’n gerekende en beroemde historikus wat ’n studie gemaak het van die rekords van die ontberinge van die vroeë Christene en hy het dit in besonderhede opgeteken.

Interessant en op ’n vreemde manier ook relevant, is egter ook om te weet wat van sommige van die grootste vervolgers van God se getroue dienaars, geword het.

Wat eens ’n flambojante en agterbakse keiser Nero was, het ontaard in ’n pateet wat nie eens die moed gehad het om selfmoord te pleeg nie. Hy het sy posisie as keiser van die magtigste ryk op aarde abandonneer en toe sy onderdane gesmeek om hom ten minste darem goewerneur van Egipte te maak – maar selfs dit was nie vir hulle aanvaarbaar nie. Toe hoor hy van die misnoeë van andere met hom, en hy soek toe na iemand om hom om die lewe te bring, maar niemand wou iets met hom te make hê nie. Daarna vlug hy na ’n plek buitekant Rome en smeek die paar mense saam met hom om vir hom sy graf te grawe, want hy wil selfmoord pleeg. Maar hy was nie mans genoeg om sy eie lewe te neem nie. Toe hoor hy dat die stadsmense op pad is om hom in hegtenis te neem sodat hulle hom in die openbaar letterlik kan slaan tot hy dood is (beating him to death). Dit is tóé dat hy sy eertydse skriba oorreed om hom dood te steek met ’n mes. En só sterf ’n pateet en boelie wat onskuldige, weerlose mense weens hul geloof in die ware God, wreedaardig en vir die plesier daarvan, om die lewe gebring het. Groot feesvieringe volg in Rome oor die dood van die wreedaardige, patetiese Godloënaar – sy laaste nagedagtenis.

Na die Edik van Verdraagsaamheid van 311 wat onder leiding van Konstantyn uitgevaardig is om die sinnelose vervolging en marteling van Christene stop te sit, sterf die wreedaardige Gaius Galerius Valerius Maximianus Augustus aan ’n gruwelike pessiekte – die geskiedskrywer Gibbon (vir wie Chris “Gilgamesh” Dippenaar so graag aanhaal) verduidelik dit só “his body swelled by an intemperate course of life to an unwieldy corpulence, was covered with ulcers and devoured by innumerable swarms of those insects which have given their name to a most loathsome disease” en só is die laaste nagedagtenis van ’n wreedaardige Godloënaar.

Die ander een, Gaius Aurelius Valerius Diocletianus Augustus, die seun van ’n vermoedelik vrygelate slaaf, eens beroemde reformeerder en keiser van die Romeinse Ryk, maar vals vriend van die Christene wat later een van hul wreedste vervolgers was, het ook geabdikeer en is verneder tot ’n smekeling wie se smekinge op dowe ore geval het en in vervalle toestand in sy grandiose paleis vervaag het tot ’n sieklike, vreesagtige, verbitterde, eensame mens wat kool geplant het om besig te bly, ontneem van sy vrou en dogter, wat op valse kriminele klagtes hulle einde deur onthoofding teëgekom het. Uiteindelik het hy tog maar in 313, selfmoord gepleeg – die laaste nagedagtenis van ’n wreedaardige Godloënaar.

Gaius Valerius Galerius Maximinus Daia Augustus, keiser van Rome, kleinneef van Galerius die Verrottende, het ’n flambojante leefstyl as keiser gevolg en het die vervolging van Christene voortgesit in die ooste. Hy het in sy ekstravaganza obsessief verlief geraak op ’n Christen maagd van adellike afkoms, ene Katarina van Alexandrië en wou haar besit. Toe sy hom weier, het hy haar laat onthoof, haar besittings vir homself geneem en van toe af Christene vir die plesier vervolg en gemartel. Maar ook sy grandiose vernaamheid het ontaard in verwerping, vernedering en agtervolging deur sy eie mense, wat hom, nes Nero, as staatsvyand verklaar het. Sy standbeelde wat hy vir homself laat maak het, is tot rommel vermorsel. Hy en sy seun het van gehug na gehug gevlug met ’n ruim prys op hul koppe, soos hy die Christene laat jag het. Só is hulle gevang en in die openbaar is gif in hul keelgate afgedwing. Die laaste nagedagtenis van ’n wreedaardige Godloënaar.

“15 Daarom sal sy ondergang skielik kom, onvoorsiens sal hy verbreek word sonder dat daar genesing voor is.” – Spreek die Woord.

Groete,

Kobus de Klerk

  • 1

Kommentaar

  • Dis ’n interessante siening dat Nero 'n pateet was omdat hy volgens die Christen-spreekbuis hier, "nie eens die moed gehad het om selfmoord te pleeg nie". Selfmoordenaars is deur die samelewing nog altyd as lafaards beskou. Maar nouja — daar het ons nou die Christelike siening waar 'n man wat nie dié maklike uitweg gekies het nie, daarvoor geminag en verag word.

    Panda

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top