Wenners bekendgemaak: Vervaldatum – Kortverhaalkompetisie

  • 2
Die wenners van hierdie kompetisie is:

Hennie Aucamp se “’n Ou man wat wou weet” en Riekus van der Westhuizen se “My engel”.
 

Reney Warrington het haar tande op LitNet se blogs geslyp. Uiteindelik het sy gaan sit en haar debuutroman geskryf. Oktober verskyn in Maart by Protea Boekhuis.

Om dit te vier, wil Protea en LitNet almal aanmoedig om óók te skryf – oor dieselfde tema, natuurlik.

Reney se boek is ’n outydse liefdesverhaal. Twee mense ontmoet, maar hulle kom van verskillende vastelande en Leigh, ’n popsanger, is berug daarvoor dat haar verhoudings nooit langer as drie maande duur nie.

Wat is die sin van ’n verhouding met ’n vervaldatum? Of kan hierdie een ánders wees?

Lees self die boek om uit te vind, maar wat van jóú verhaal oor ’n verhouding met ’n vervaldatum?

Jy kan oor enigiets skryf, solank daar ’n verhouding en ’n vervaldatum by betrokke is!

  • Vakansieromanse?
  • Twee mense in ’n aftree-oord?
  • Liefde in die aangesig van die dood?

Komaan, laat gaan daardie breinselle.

Die beste verhale sal op LitNet geplaas word. Ons sou graag uiteindelik twee wenners wou aandui, wat elkeen ’n getekende kopie van Oktober en ’n geskenkpakkie van Protea gaan ontvang, maar uiteindelik sal almal wie se verhale op LitNet verskyn, reeds wenners wees. Ons sou graag wou dat een gevestigde skrywer en een groentjie wen.  So, begin skryf.

Hennie Aucamp se inskrywings het ons reeds bereik.  Julle is in goeie geselskap.

Daar is reëls, want so is die lewe maar:

  • Die werk moet jou eie wees en nog nie vantevore elders verskyn het nie. Geen vertalings van ander se werk sal aanvaar word nie.
  • Keuring sal op die werk se meriete geskied. Die keurders se besluite is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Verhale moet voor 31 Maart 2012 gestuur word aan izak@proteaboekhuis.co.za. Maar moenie wag tot dan nie; as hulle reg is, laat waai!
  • Deur in te skryf, gun jy aan Protea Boekhuis die reg om die inskrywing te bloemlees, míts die oorkoepelende gehalte van die inskrywings sterk genoeg is. Indien geen kontrak teen 31 Maart 2013 aan jou gebied word nie, is jy welkom om die verhaal aan iemand anders voor te lê. Protea Boekhuis behou die reg voor om geen bloemlesing die lig te laat sien nie.
  • Die lengte? LitNet sê 2 000 woorde is gewoonlik ’n goeie maksimum. Jy mag langer verhale voorlê, wat ons sal lees as hulle goed is, maar ons behou die reg voor om verhale wat té lank is, nie te publiseer nie.
  • Hoeveel verhale? ’n Maksimum van drie verhale per outeur sal gelees word, maar nie almal sal noodwendig gepubliseer word nie.

Reney se roman, Oktober, is te koop vanaf Maart 2012. Kyk gerus na hierdie YouTube-greep as julle meer wil weet:

.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top