Mia hou die foto van ’n aantreklike donkerkopman met smaraggroen oë vir ’n oomblik teen haar hart vas voor sy dit in die lessenaar se laai toesluit. By haar woonstel, in haar motor en in haar beursie is dieselfde foto. Al probeer sy hoe hard, sy kan eenvoudig net nie dink dat hy ’n gewetenlose internetskurk is nie. Dat sy, 32 jaar oud, intelligent, goedgebou, aantreklik genoeg en met ’n goeie beroep, haar so kon laat vang.
Mia se skouers hang en om haar mond is diep kepe. Hartseer lê vlak in haar bruin oë. Hier moet sy uitkom. Sy skakel haar rekenaar af. Sy is vir die volgende twee weke amptelik met verlof. Sy verdien die ruskans. Sy moet haar kop skoon kry. Die groenoogman se spook probeer verdryf.
Met die vooruitsig van twee weke se rus bederf Mia haarself met ’n yslike stuk sjokoladekoek en koffie. Die perfekte manier om haar verlof te begin. Sy maak haar tuis in die verste hoek van die restaurant. In ’n klein dorpie soos dié ken almal mekaar. Vandag is sy nie lus vir mense nie. Dit voel of almal weet van haar vernedering op die internet. Sy wil net hier in die verste hoekie wegkruip en die afgelope paar maande se gebeure oordink.
Toe sy hoor van LitNet-blogs, gaan kyk sy dadelik waaroor die bohaai gaan. Gou is sy so vasgevang in die blogwêreld dat sy skaars kan wag om saans by die huis te kom. Ongeag haar vriende en familie se verwyte. Sy dwing haarself om soms saam met hulle uit te gaan. Haar ma se kommer is gou stil gemaak met: “Net besig, Ma.”
Mia skryf haar verse en menings op haar blog. Kuier oral en lees ander se gedagtes. Toe sy wonderlike terugvoering van ander Bloglanders kry oor haar gedigte, moedig dit haar aan om net beter en meer te skryf.
Die kommentaar van “Darrel die Poëet” laat haar regop sit. Natuurlik gaan kyk sy dadelik wie hy is en waaroor sy gedagtes gaan. Na ’n week kan sy net nie wegbly nie. Elke dag kruip hy met sy verse dieper in haar hart en onder haar vel in. Na twee maande se ounag-klets en skerts ruil hulle foto’s uit. Hy stuur drie verskillende foto’s aan haar, met ’n nota:
Ek is een
En twee is geen
“Laat jou hart jou lei.”
Geen naam of verdere inligting nie. Net dat hy 34 is, ongetroud en geen meisie het aan wie hy ewige trou beloof het nie. Toe sy die foto’s op haar e-pos oopmaak, is dit die smaraggroen oë wat haar tref. Die ander twee foto’s word dadelik verwerp. Dit voel of ’n vuur in haar binneste aan die brand gesteek is. Sonder twyfel moet dit die een wees, oortuig sy haarself. Vandat sy ’n jong meisie was, het sy, soos elke ander meisie, van prinse en ridders op wit perde gedroom.
Toe sy die foto vir haar ma wys, kyk haar ma met ’n frons na haar. “Mia, jy soek moeilikheid. Daai man sal nooit sy ware identiteit of foto aan jou bekend maak nie. Jy hoor elke dag van ’n onding wat op die internet of deur die internet gebeur. Hoe weet jy nie hy het ’n vrou en ’n string kinders nie? Jy moet die geklets stopsit voor dit te laat is. Ek voorspel net hartseer en onheil.”
Haar ma se gekerm kan nie die vuur in Mia blus nie. Liefde vir Darrel die Poëet groei elke dag sterker. Sy weet sommer in haar binneste hy is anders. Hy verkort haar eensame nagte met die versies en woorde wat hulle uitruil, pittige sêgoed, skerts en soms kwaai woorde. Sy voel soos die feëprinses van ou stories. Haar ridder het gekom. Hy dink sy is die heel mooiste meisiemens op aarde. Haar blou oë soos diep kuile en haar hare soos die blink van ’n raaf se vere. Sy het lank voor die spieël staan en kyk om ook raak te sien wat hy sien.
Hy verklaar sy liefde daagliks. Vertel haar hoe moeilik dit vir hom is sonder haar. Menigmale soebat sy dat hulle êrens ontmoet. Maar hy weier. Sê die tyd is nie reg nie. Dan maak hulle rusie soos ou getroudes. Om gou weer op te maak met liefdesgedigte en troos met “Vir dié wat wag …”
Êrens in haar agterkop onthou sy haar ma se woorde. Twyfel kry lêplek in haar hart. Haar verse weerspieël haar gevoelens. Toe Darrel haar daarna vra, erken sy dat sy twyfel in sy woord. Hy weet dan alles van haar af. Hy deel haar nagte, hartseer en lag. Hoekom wil hy dan niks van homself met haar deel nie? Nie eens sy naam nie. Hoekom hou hy sy lewe so geheimsinnig?.
“Mia, Meisiekind, ek is regtig lief vir jou. En as dit so bedoel is, sal ons by mekaar uitkom. Jy moet geduldig wees,” is al wat hy elke keer sê.
Toe kom die stilte. Darrel die Poëet verdwyn van die net af. Geen antwoord op haar briefies nie. Geen e-pos nie. Drie weke van niks. “Sê nou maar hy is dood? Of beseer. Êrens in ’n hospitaal, siek?
“Of dalk het sy vrou uitgevind van jou,” kla haar gewete diep in haar.
Niks wil vir Mia sin maak nie. Maak nie saak watter kant toe sy dink nie. Haar prins is ’n padda. Die magtelose hartseer en kwaad in haar is onbeskryflik. Die lewe staan stil.
Ted Fourie verskyn twee weke later in haar lewe. Hulle het al ’n paar keer in die verlede gegroet, of saam in die hyser beland. Ted is effe plomp, maar glad nie onaantreklik nie. Sy het al onderlangs na hom geloer. Toe hy twee weke gelede ’n doos sjokolade met ’n gedig aan haar gee en haar uit vra, stem sy in. Voor die aand om is, is sy spyt dat sy ingestem het. Vir elke uitvra daarna het sy haar verskoning gereed. Sy hande is klam en klouerig. Hy lek sy lippe gedurig nat. Hy … “Nee, Mia, jy soek net fout,” praat sy haarself aan. Ted is mal oor gedigte en skryf ook so ’n paar woorde, soos hy sê. Is dit toeval of is dit soort soek soort? Iewers in haar agterkop wonder sy of Ted Fourie dalk Darrel die Poëet is. Ma het mos gesê Darrel sal nie sy regte foto of identiteit bekend maak nie. Na vele gedigte en blomme is sy seker dat Ted wel Darrel die Poëet is. Sy gril.
Mia betaal haar koffie en koek. Sy is nie lus vir die woonstel nie. Maar Fielies Kat moet ook darem eet. Met ’n dooie gevoel in haar hart ry sy huis toe.
Teen skemer sit sy kruisbeen op haar bed. Foto en skootrekenaar voor haar. By LitNet-blogs soek sy dadelik Darrel die Poëet op. Geen nuwe inskrywings nie. Sy merk dat ’n paar ander Bloglanders ook wonder waar hy is. Sy klik op haar e-pos en begin na elke e-pos kyk wat hy gestuur het. Haar trane drup op haar hande toe sy lees: “Meisiekind, ek is regtig lief vir jou. En as dit so bedoel is, sal ons by mekaar uitkom.”
Vies stoot sy die rekenaar weg. Hoe de hel moet ons bymekaar uitkom as jy in die internet verdwyn het … Hoe en waar in die wye wêreld soek ek jou? In haar verbeelding sien sy Ted met blomme en ’n gedig. “Dammit, verdwyn net,” skel sy.
Sy merk ’n onoopgemaakte e-pos. Die datum byna ’n maand gelede. Slegte gewoonte van haar om nie alle e-posse oop te maak nie. Sy klik op die e-pos. “U word uitgenooi na ’n Skrywersbootvaart. Om teleurstelling te voorkom, bespreek u plek voor 21 Desember 2012.” Onwillekeurig kyk sy na die datum op haar skerm. 21 Desember. Voor sy van plan verander, stuur sy die e-pos met haar besonderhede. Sy het mos verlof en niks anders om te doen nie.
Toe Mia haar oë oopmaak, skyn die son al by haar venster in. Terwyl sy koffie maak en die kat melk gee, hoor sy die alarm van haar e-pos. Darrel! Gil sy hardop en draf tot by die rekenaar. Teleurgesteld oor Darrel, maar opgewonde toe sy sien dit is terugvoering van die skrywersbootvaart. Sy lees: “Mia, ons was vol bespreek, maar ons het ’n kansellasie gehad. Aangeheg vind jy verdere besonderhede van reëls en vertrek tye. Groete. Die Bestuur.”
Mia stap tot by Inligting en word vriendelik na die groep skrywers gewys. Sy ken niemand nie. Net wat sy wou hê. As sy hulle nie ken nie, ken hulle haar ook nie.
’n Ouerige dame roep almal tot aandag. “Dames en here, medeskrywers. Baie welkom op ons nooiensvaart vir skrywers. Ek stel julle gasheer en mentor vir die vaart aan julle bekend. Meneer Adriaan Langenhoven. Bekende digter en skrywer van menige digbundels en kort verhale.”
Mia se knieë is lam, haar hart ruk in haar binneste en haar tong kleef aan haar verhemelte. Sy diep stem word oorverdowende klanke in haar ore. Mia staar na die groenste groen oë wat sy nog ooit gesien het. Kan dit waar wees? Kan dit dalk hy wees? Sal hy haar herken? Sy tree terug en beweeg agter ander mense in. Dan hoor sy mense hande klap en almal beweeg. Haar voete voel soos lood. Sy kan nie beweeg nie. Dan voel sy iemand haar hand vat. “Kom, Mia. Ons moet aan boord gaan. Ek het gedink jy gaan nooit die uitnodiging aanvaar nie. Ek het jou mos gesê. As dit so bedoel is, sal ons by mekaar uitkom. LitNet-liefde het ’n vervaldatum, maar ware liefde het nie ’n vervaldatum nie.”
Klik hier vir meer besonderhede oor die kompetisie.

